|

(Video) Studiefonds vir kinderslagoffers van plaasmoorde skep hoop

Sedert die begin van Januarie 2018 was daar al meer as 210 plaasaanvalle en 33 plaasmoorde is gepleeg.

Dit is traumatiese gebeure wat nie net gesinne en gemeenskappe uitmekaar ruk en in rou dompel nie. In baie van hierdie gevalle word kinders dikwels die hardste getref wanneer hulle skielik wees gelaat word of ouers het wat nie meer in staat is om te werk of behoorlik te funksioneer nie.

Dit is met hierdie weerlose kinders in gedagte dat Solidariteit Helpende Hand ’n Plaasmoorde-studiefonds op die been gebring het.

Dié fonds het tot op datum net meer as R100 000 ingekry. Twee studente, Henkie en James Uys, wat aan die Noordwes-Universiteit studeer, word tans uit die fonds gehelp.

Op 4 Augustus 2001 het hulle deel van 7 kinders geword wat  hul pa’s in ’n plaasaanval verloor het. Hulle was onderskeidelik 2 en 3 jaar oud. Hul ma, Ampie, het van die studiefonds te hore gekom en by Helpende Hand aangeklop.

Benewens die Plaasmoorde-studiefonds het Solidariteit ook ’n gewone studiefonds wat R157 miljoen sterk is. Dít is die bedrag wat tussen 2008 en 2018 vir studente se studies betaal is. Solidariteit Helpende Hand administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse waarvan die Plaasmoorde-studiefonds een is.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van die Helpende Hand Studiefondssentrum, gee elke Solidariteit-lid R5 per maand vir studiehulp wat aan behoeftige lede se kinders beskikbaar gestel word.

Lede van die Solidariteit Beweging, wat die burgerregte-organisasie AfriForum insluit, kry voorkeurtoegang tot studiehulp.

Solidariteit Helpende Hand het die afgelope jaar studiehulp van sowat R30 miljoen aan 1131 studente toegeken. Oor die afgelope tien jaar is studiehulp aan 4 085 studente verleen.

Helpende Hand kry jaarliks tussen 3 000 en 4 000 aansoeke vir studiehulp.

Indien ’n slagoffer van ’n plaasmoord se kind aansoek doen om ’n studielening sal hy of sy ook uit een van die ander studiefondse gehelp word indien die Plaasmoorde-studiefonds uitgeput is.

Pieterse sê dit is vir Helpende Hand ’n ongelooflike voorreg om studente wat wil, maar nie kan nie, te help om hul studiedrome te bewaarheid. “Daar is maar een pad uit armoede en dit is opheffing deur opleiding. Ons is bly dat ons ’n paar duisend studente oor die afgelope tien jaar kon help en die wêreld kon instuur om ’n verskil te maak.”

Kyk hier na Henkie en James se inspirerende verhaal.

Mense wat kinders van plaasmoorde wil help, kan ’n bydrae maak by:

Solidariteit Helpende Hand

Rekeningnommer 6233 144 7541

Tak: FNB Centurion

Takkode: 261550

Verwysing: Plaasmoorde/SFS

Soortgelyke plasings