|

(Video) Lesufi vaar uit en speel raskaart by Afrikaanse skole

Gemoedere het gisteraand (28/8/2018) hoog geloop by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging tydens ’n openbare vergadering oor die departement van onderwys se wysigings aan die toelatingsvereistes vir skoliere in Gauteng.

Die vergadering is deur Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, bygewoon. Die vraag-en-antwoord-sessie het in ’n rassegeveg ontaard toe ouers en gemeenskapslede emosie-belaaide uitlatings oor ras, taal en kultuur gemaak het.

Tsefilwe Maloko, ’n gemeenskapslid, het tydens die vergadering gesê dit wil voorkom of die ouers in dié gemeenskap vasgevang is in 1948. “Daar is mense in hierdie gemeenskap wat vandag steeds arm kinders en gesinne van die informele nedersettings in die omgewing wil uitsluit van ‘hulle’ skool.”

Hy het voorts gesê dat dit vir die gemeenskap pynlik gaan wees om vir nog ’n jaar by Overvaal verby te stap en te weet dié skool diskrimineer teen kinders in die gemeenskap op grond van ras, taal en kultuur. “Dié skool se taalbeleid is ’n oorblyfsel van apartheid.”

Hy het Lesufi ook hartlik bedank vir die “nuwe skole wat hy elke maand in Gauteng open”.

Maloka is deur ’n ma van die skool daarvan beskuldig dat sy opmerkings rassisties is.

Dewald Viljoen, lid van die Hoërskool Overvaal se beheerliggaam, sê van die voorgestelde regulasies is baie vaag en baie groter duidelikheid daaroor is nodig. “Die verwysings na die hoeveelheid plek wat ’n skool vir leerlinge het moet baie duideliker in die konseptoelatingsvereistes uitgestippel word.”

Mogokeng Koliso, ook ’n gemeenskapslid, ondersteun die voorgestelde regulasies en meen egter beheerliggame van sekere skole is oneerlik oor hul kapasiteit en laat nie genoeg kinders toe nie. Hy sê alle gemeenskappe van Suid-Afrika moet bymekaarkom en toegelaat word in enige skool ongeag hul taal of ras.

Lesufi het sy toespraak begin deur te sê dat niemand nierassigheid in Suid-Afrika verder kan keer nie en dat daar organisasies is wat mense verkeerd opsweep.

“Mense in Suid-Afrika moet dankbaar wees vir die leierskorps van die ANC, want as die EFF of AfriForum op die land losgelaat word, sal daar geen toekoms vir Suid-Afrikaners wees nie.”

Hy het onder die toejuiging van sommige ouers gewaarsku dat mense wat teen nierassigheid is, hom as ’n vyand en nie ’n vriend moet beskou nie.

“Ons ken die pyn, daarom wil ons dit nie oordra aan ’n nuwe generasie nie. Ons ken die pyn, daarom wil ons nie wraak hê nie. Ons ken die pyn, daarom wil ons versoening hê. Ons ken die pyn en daarom waarsku ons: Druk ons, maar julle doen dit op eie risiko.”

Lesufi het ook beklemtoon hy is nie van plan om enige taal in Suid-Afrika “dood te maak nie”, maar wil almal eerder gelyk behandel.

“As ’n skool kies om sy kinders in Afrikaans te onderrig, is dit goed so. Maar as dieselfde skool Afrikaans gebruik om ander kinders uit te hou, sal daar ferm teen hulle opgetree word. As ons agterkom dat die skool nie ten volle gebruik word nie, sal ons optree. ”

Oor die beskuldigings dat daar nie genoeg skole gebou word of gehalte-onderrig aan alle leerlinge gegee word nie, het hy geantwoord dat hy “kies om nie daarop te reageer nie.”

Hardus Visagie, voorsitter van Hoërskool Overvaal se beheerliggaam, sê dat die vergaderings nie sinvol was nie en misbruik word om politieke agendas en standpunte te bespreek, eerder as die voorgestelde veranderinge.

“Dis lekker as jy die laaste een is wat die mikrofoon vashou. Jy kan opruiende opmerkings maak en almal dreig en dan van die verhoog af stap. Die geleentheid het net oor politiek gegaan,” meen Visagie.

Visagie sê as die toelatingsvereistes deurgaan, gaan beheerliggame se funksie gaan heeltemal ingeperk word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie op Lesufi se uitlatings gesê AfriForum is nie die gevaar nie. “Lesufi met sy anti-Afrikaanse agenda en pogings om Afrikaanse skole tot niet te maak, is die werklike gevaar. Lesufi laat dit klink asof ons die probleem is, maar AfriForum is juis daarop ingestel om oplossings te bied.”

Elaine Krige, woordvoerder van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê Lesufi het die raskaart tydens die vergadering gebruik het om sy eie swak leierskap te verbloem.

Sy het ook daarop gewys dat Lesufi in vyf jaar net 47 skole gebou het, terwyl daar sowat 50 skole per jaar nodig is om die groeiende getal leerlinge in Gauteng te huisves.

Soortgelyke plasings