|

Video: Helpende Hand voed gemeenskappe tydens staat van inperking

 

’n Paar uur voordat Suid-Afrika om middernag (26 Maart) ’n grendelstaat word, staan kosvoorraad by die Solidariteit Helpende Hand-gemeenskapsentrum in Derdepoort, oos van Pretoria, gereed om deur behoeftige gesinne afgehaal te word.

Elize Bezuidenhout, bestuurder van die sentrum, en Luzanne Niemand, assistent by die sentrum, is gerus dat die 50 kinders wat hulle daagliks by die sentrum voed en versorg in die volgende drie weke ook kos sal hê. “Dit is nie die ideaal nie, maar ons het genoeg kos vir die gesinne verpak om hulle deur die volgende 21 dae te help.”

In normale omstandighede kom 50 kinders uit agt skole in die gebied daagliks ná skool na die sentrum waar hulle ’n bord gesonde kookkos kry. Hulle word ook in ’n veilige omgewing met huiswerk gehelp en waar nodig kry van hulle ook arbeids-, spel- en spraakterapie.

“Die sentrum is ’n veilige hawe vir die kinders en vir baie die enigste maaltyd wat hulle per dag kry. Van ons kinders kom uit moeilike omstandighede waar ouers byvoorbeeld karwagte is of glad nie werk het nie. Daar is ook maatskaplike probleme soos alkoholmisbruik wat veroorsaak dat die kinders bykomende versorging nodig het. Waar nodig gee ons ook vir van hulle berading,” sê Bezuidenhout.

In vakansietye is die sentrum nog besiger met kinders wat reeds sesuur soggens aankom. Hulle kry dan ontbyt en versnaperings deur die dag en volg ’n vakansieprogram.

Volgens Bezuidenhout werk die sentrum nou saam met die Gereformeerde Kerk Derdepoort. Weerlose en kwesbare bejaardes is ook geïdentifiseer en van kos voorsien vir die duur van die inperking. Daar is ook reëlings getref dat hulle in die tyd gebel sal word om na hul welstand te verneem.

Die sentrum is afhanklik van skenkings van die publiek en kry ook hulp van Helpende Hand se hoofkantoor. Helpende Hand se HelpJag-projek voorsien ook die sentrum van vleis vir die kinders.

Volgens Bezuidenhout kyk die sentrum ook na programme en projekte om ouers op te hef. Die eerste vyf ouers is gekeur om gehelp te word om ’n volwasse-matrieksertifikaat te verwerf. Hulle moet ouer as 21 wees en gr. 9 voltooi het.

Bernice Botha, ’n ouer, sê die sentrum “sorg wonderlik goed vir ons”.

Sy het ’n werk by ’n pandjieswinkel, maar geldelik gaan dit maar moeilik. “My dogtertjie is baie gelukkig by die sentrum en sy word mooi gehelp met haar skoolwerk.”

Annatjie Snyman (60) sê die gemeenskap kry bitter swaar. Sy is ’n ouma van agt kleinkinders en een agterkleinkind. Vyf van dié kinders bly saam met hulle ouers by haar. Van haar kinders het wel werk en dit help darem om die water en ligte te betaal. “Daar is baie druk op ons mense. Ek woon my hele lewe al hier en is in dié kerk getroud. Al my kinders is ook hier gedoop. Maar die nood hier is baie hoog.”

Snyman is baie dankbaar vir die sentrum en sê daar word baie gedoen om die mense en veral die kinders te help.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, sê Derdepoort is een van vier dienssentrums wat tydens die grendelstaat moet sluit. Hy is egter dankbaar vir die personeel en middele wat uitgedeel kon word om die eerste bruggie te kan oorkom.

Noëth sê die sisteem moes verander word omdat kos nie nou by die skole afgelewer kan word waar 8 000 kinders daagliks gevoed word nie. Hy wys daarop dat die nood ná die staat van inperking steeds daar gaan wees en selfs erger omdat baie besighede gaan sluit en nog mense hul werk gaan verloor. “Ekonomiese krisisse lei tot maatskaplike krisisse en ons begin nou reeds planne maak om die latere nood die hoof te bied. Helpende Hand het ’n Josef Silo’s-projek begin waar die publiek ná die inperking by verskillende adresse landwyd nie-bederfbare produkte kan gaan aflaai wat die sentrums in staat sal stel om weer aan te gaan.” Besoek https://helpendehand.co.za/josef-silos/ vir die afleweringspunte.

Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum deel is, het ook met ’n noodfonds begin om mense te help wat deur die COVID-19-krisis negatief geraak gaan word. Donasies kan gemaak word by www.corona.org.za

Soortgelyke plasings