|

Video: Duduzane Zuma getuig in hof hy is onskuldig

Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, het vandag in die  Randburgse landdroshof getuig dat hy onskuldig is aan die klag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Hy verskyn op dié aanklagte nadat ’n vrou in ’n ongeluk dood is toe sy Porsche 911 naby die Grayston-afrit teen ’n minibus-taxi gebots het.

Hy het op vrae van sy regsverteenwoordiger, adv. Mike Hellens (SC), gesê hy was die aand van 1 Februarie 2014 omstreeks 21:30 van Fourways na sy huis in Saxonwold op pad. Hy het met sy Porsche 911 in die regterkantse baan op die M1 in ’n suidelike rigting gery. Dit het gereën en die pad was nat toe die ongeluk gebeur het.

Volgens Zuma het hy beheer oor sy motor verloor toe hy ’n waterplas getref het. Dit het veroorsaak dat sy motor getol en in die teenoorgestelde rigting tot stilstand gekom het.

Zuma het getuig hy kan nie onthou dat hy enigiets getref het nie en hy kan ook nie onthou dat hy ’n plas water gesien het terwyl hy op die pad gery het nie.

Hy het gesê “dit was onmoontlik om my voertuig onder beheer te bring en dit was onmoontlik om te voorkom wat gebeur het”.

Volgens Zuma was die ongeluk ’n traumatiese ervaring vir almal en hy het met slagoffers van die oorledenes en beseerdes gesimpatiseer.

Yusuf Baba, staatsaanklaer, het Zuma tydens kruisondervraging gevra hoe lank hy sy motor het, hoe gereeld hy dit laat diens en aandag aan die bande gegee het.

Hy het Zuma daarop gewys dat hy getuig het dat hy die noodlottige aand sigbaarheid van tussen 10 en 15 meter gehad het. Hy wou weet of die sig dan so swak was dat Zuma nie die taxi gesien het nie.

Baba het Zuma in ’n stadium daarop gewys dat die getuienis wat hy vroeër tydens die geregtelike doodsondersoek gelewer het teen hom gebruik kan word in ’n strafregtelike verhoor.

Zuma het aan Baba gesê hy kan nie onthou of hy ’n padversperring of ’n ander voertuig getref het ten tyde van die ongeluk nie. Hy het gesê hy is nie seker wat gebeur het toe hy iets getref het nie.

Die hofverrigtinge moes kort voor middagete verdaag omdat die hof probleme met die bandopname-stelsel ondervind het.

Landdros Tebogo Thupaatlase het die saak tot môreoggend uitgestel.

Elias Maangwale, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Phumzile Dube, wat in die ongeluk dood is, se gesin by die hof ondersteun en bygestaan.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat die verrigtinge bygewoon het, het gesê dit is nie net ’n oorwinning vir AfriForum en die Dube-gesin dat Zuma sy dag in die hof kry nie.

“Dit is in belang van geregtigheid en gelykheid voor die hof dat Zuma self in die getuiebank staan.”

Kriel het daarop gewys dat AfriForum se privaatvervolgseenheid die saak begin het, nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Zuma aanvanklik nie wou vervolg nie. Ná AfriForum en adv. Gerrie Nel se ingryping het die NVG wel van plan verander.

 

 

 

Soortgelyke plasings