Video: AfriForum dien klagte in oor riool in agterplase

 

Dit is reeds vir baie mense ’n reuse-aanpassing en ekonomiese stryd om tydens die staat van inperking tuis te bly. Om nou nog soos inwoners van die Matjhabeng-munisipaliteit onder swak munisipale bestuur gebuk te gaan waar riool deur hul erwe vloei, vererger net die situasie.

Sedert Augustus 2019 vloei ongesuiwerde riool nie net deur dorpe soos Welkom, Virginia en Odendaalsrus se strate nie, maar ook in van hul inwoners se agterplase, motorhuise en tuine.

Die burgerregte-waghond AfriForum het besluit om strafregtelike klagtes teen dié munisipaliteit in te dien nadat hul verlede jaar reeds ’n dringende beroep op die munisipaliteit gedoen het om dié rioolprobleme reg te stel. Die munisipaliteit moes ook ’n plan voorlê hoe die probleem in die toekoms die hoof gebied gaan word.

Luidens die ouditeur-generaal se verslag vir die boekjaar 2017/18 is dié munisipaliteit ook een van talle Vrystaatse munisipaliteite waar ingryping dringend nodig is.

Die munisipaliteit het in 2019 aan plaaslike media bevestig dat daar ’n geweldige toename aan vandalisme en diefstal in sy gebiede is. Daar word beweer dat onwettige mynwerkers (zama-zama’s) verlede jaar kabels en rioolpompe van die Thabong-rioolstasie gesteel het en gevolglik byna R20 miljoen se skade vir dié omgewing veroorsaak het. Sowat R100 miljoen word benodig om al die gesteelde kabels te vervang en die munisipaliteit se rioolpompe te herstel.

Die munisipaliteit het glo ook gevra dat Bheki Cele, minister van polisie, moet ingryp en hul bystaan met strenger polisie teenwoordigheid by rioolstasies.

Verder het ’n video vroeër vanjaar op sosiale media die rondte gedoen waarin Nkosinjani Speelman, burgermeester van die Matjhabeng-munisipaliteit, bruin mense beledig het en die weermag aangehits om met geweld teen landsburgers op te tree tydens die staat van inperking. AfriForum het ’n klag van haatspraak teen hom by die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak en Speelman is daarna geskors.

AfriForum het ook onlangs ’n omvattende plan bekend gestel vir gemeenskappe wat onder die voortgesette Covid-19-inperking en -krisis ly.

Die plan fokus op veiligheid, die ekonomie, voedselverskaffing, gesondheid en munisipale dienste binne gemeenskappe.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die organisasie wil ingryp op munisipale terreine en dienste soos byvoorbeeld vullisverwydering en die voorsiening van noodwaterpunte oorneem en ook die nodige stappe doen om die geld van die staat te verhaal.

 

Soortgelyke plasings