Vervolgingsgesag maak ommekeer: Bizos wel vervolg ná Gerrie Nel ingryp


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag aangekondig dat die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Gauteng ’n ommekeer in die saak teen Alexis Bizos, seun van George Bizos, gemaak het deur te besluit om hom wel te vervolg.
Die DOV het sy besluit heroorweeg en besluit om vervolging teen Bizos in te stel op ’n klag van aanranding op sy vrou nadat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgings­eenheid, aansoek gedoen het om ’n nolle prosequi-sertifikaat te bekom om die burgerregte-organisasie in staat te stel om privaat vervolging teen Bizos in te stel.
Bizos het ses van sy vrou, Monique van Oosterhout, se ribbes gebreek toe hy haar aangerand het.
Nadat die DOV aanvanklik besluit het om Bizos nie te vervolg nie, het Van Oosterhout AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Nel het gevolglik op 27 Februarie 2018 aangedui dat hy Bizos privaat wil vervolg en het ’n nolle prosequi sertifikaat aangevra. AfriForum het aangevoer dat Bizos slegs weens sy pa se politieke verbintenisse nie vervolg word nie en dat die organisasie wil verseker dat niemand bo die reg geag word nie.

Nel verwelkom die DOV se ommekeer. “Dit is egter jammer dat dit eers nodig was om die privaatvervolgingsproses te begin voordat die DOV besluit het om te doen wat van die begin af gedoen moes word, en dit is dat Bizos vervolg moet word,” voeg Nel by. Volgens Nel bly dit die eerste prys dat die vervolgingsowerhede hul werk doen en self vervolg, soos wat nou uiteindelik in die Bizos-geval gaan gebeur.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wens Nel en sy span geluk met nog ’n oorwinning wat behaal is om gelykheid voor die reg te help verseker. “Die druk wat AfriForum se vermoë om privaat te vervolg op die vervolgingsowerhede plaas om hul werk sonder enige vooroordeel te doen, werp toenemend vrugte af. Vanjaar het die vervolgingsgesag onder meer ook ná Gerrie en sy span se ingryping ’n ommekeer gemaak en besluit om Duduzane Zuma te vervolg en nou het dieselfde in Bizos se geval gebeur,” wys Kriel uit.

Soortgelyke plasings