Vervolg Eskom-oortreders nóú en stel dadelik oudingenieurs aan – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag geëis dat die korrupte persone by Eskom onverwyld vervolg en oudingenieurs se hulp dadelik betrek word.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê daar kan geen verdere doekies omgedraai word nie en dat die tyd vir beloftes lankal verby is.

“Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vandag in die parlement gesê die skuldiges ‘mag’ hulself binnekort in oranje oorpakke bevind. Dis nie goed genoeg nie en ons hoor dit al vir ’n geruime tyd. Ons wil nóú weet wie is skuldig en hulle moet dadelik aan die pen ry. Die probleem is dat daar van niemand ’n voorbeeld gemaak word nie en daarom vererger hierdie krisis net verder.
“Gordhan, pres. Cyril Ramaphosa en die ANC moet almal ook hul skuld in hierdie krisis erken. Hulle het die land oor die laaste tien jaar help regeer terwyl Eskom uitgehol is. Hulle is ewe skuldig en heeltemal uit voeling met die lyding van gemeenskappe, die sakesektor en gewone burgers. Hulle moenie maak asof die land se kragprobleme nou as ’n skok kom nie,” sê Brink.
Gordhan het boonop belowe om oudingenieurs uit die buiteland terug te bring om hierdie krisis te help oplos. “Dit is nie meer net ’n opsie nie, dit moet dadelik gebeur. Hulle is op grond van hul velkleur deur Eskom laat gaan en nou baat ander lande by hul kundigheid. Rasbeheptheid het ’n hoë prys en nou is die hele Suid-Afrika besig om dit te betaal. Eskom se treurmare moet as ’n gevallestudie vir die hele land dien,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings