Spyskaart +

Versoening en verdraagsaamheid verongeluk

Maart 13, 2018 deur Admin

Prof. Hermann Giliomee

In sy goedkeuring van die Universiteit van die Vrystaat se afskaffing van Afrikaans as voertaal het die Konstitusionele Hof (KH) ’n nekslag vir versoening toegedien.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng, ondersteun deur al die swart regters van die regbank, laat groot twyfel ontstaan of daar enige begeerte by hulle is om die dubbelsinnighede in die Grondwet oor taalregte ewewigtig op te klaar. Die uitspraak ruik na vergelding eerder as ’n soeke na geregtigheid.

Dit lyk of die hoofregter onbewus is daarvan dat Afrikaans ontwikkel het toe Afrikaners geen politieke mag gehad het nie. Hy weet klaarblyklik nie van die opspraakwekkende uitspraak van die hoogaangeskrewe prof. Mahmood Mamdani, vroeër van Makarere Universiteit nie, Hy het in ʼn openbare lesing aan die Universiteit van Kaapstad in September 2017 Afrikaans as die “suksesvolste dekoloniseringsinisiatief op die Afrikakontinent” bestempel.

Die hoofregter skep die indruk dat die NP-regering eensydig Afrikaans as een van die voertale in die kele van swart kinders afgedruk het. Die NP-regering het egter met die instelling van massaonderwys vir swart kinders wel die mening van swart beheerrade deur die hele land oor die voertaalkwessie gepols. Tweederdes het Afrikaans en Engels verkies, ’n derde Engels alleen en slegs 1% wou die moedertaal hê.

Die besluit in 1975 om Afrikaans as voertaal af te dwing in sekere vakke in swart skole in die Suid-Transvaal (wat Soweto ingesluit het) en die swart woonbuurte rondom Pretoria was in skerp teenstelling met die pragmatiese beleid van die vorige twintig jaar.

Miskien die vreemdste aspek van die hoofregter se uitspraak is die aanname, sonder enige empiriese bewyse, dat parallelmedium nadelig is vir intergroepverhoudinge. Dit druis direk in teen die bestaan van universiteite wat volwaardig tweetalig is, soos dié in Ottowa en Friborg/Freiburg, asook verskeie ander Europese lande. Hulle word deur die bank as suksesvolle akademiese instellings beskou wat ook tot kulturele verskeidenheid en politieke stabiliteit bydra.

Regter Johan Froneman, een van die minderheid op die KH-regbank, het versoek dat verdere vrae oor die taalkwessie op die UVS-kampus aan die rektoraat gestel word. Die hoofregter het geweier. Dit skep die indruk van iemand wat oor die taalkwessie gedryf word deur ’n ideologie wat geen ongemaklike waarhede kan aanvaar nie.

Een van dié waarhede is die rampspoedige agteruitgang van swart onderwys sedert 1994. Patrick Lehohla, die statistikus-generaal, het daarop gewys dat daar in die 1980’s vir elke 1 swart student wat sy graad ontvang het 1,2 wit gegradueerdes was. Tans is die verhouding 1:6, wat Lehohla tereg as ’n “unspeakable horror” bestempel.

Navorsers het daarop gewys dat swart leerders wat op ’n te vroeë stadium van hul skoolloopbaan na Engels-medium oorskakel vier tot vyf jaar agter studente is wat moedertaalonderrig tot op graad 12 ontvang het. Die KH wil nou ’n voertaalbeleid afdwing wat net die 10% van die bevolking met Engels as huistaal baie goed pas. Vir swart student sal die afskaffing van Afrikaans min of niks in die sak bring nie.

Afrikaanse skole vaar besonder goed. Hoewel hierdie skole slegs 10,6% van alle hoërskole uitmaak, het hulle in 2016 eenvyfde van die matrikulante opgelewer wat toelating tot die Baccalaureus-graadstudie gekry het. Vanuit hierdie skole het ’n vyfde van matrikulante gekom wat wiskunde met onderskeiding geslaag het.

Die Universiteit Stellenbosch se voertaalbeleid met Engelse as oorheersende voertaal sal binnekort voor die KH dien. Saam met beweging Gelyke Kanse verskyn daar as applikante die name van drie bruin studente.

Soos Johan Froneman tereg in sy minderheidsuitspraak in die UVS-saak opgemerk het, behoort die belange van bruin Afrikaansprekende studente die grootste prioriteit te wees.

Hulle is die gemeenskap in die land met die laagste universiteitsonderrig deelnamekoers en ook die swakste deurvloeikoers op universiteit.

Daar is onweerlegbare bewyse dat aantal bruin akademiese prestasies gedaal het sedert die Universiteit van die Wes-Kaap in 1989 verplig gevoel het om na Engels as voertaal oor te skakel.

‘n Viserektor gedurende die oorskakeling stel dit so:

My ervaring by UWK was dat toe ons teen owerheidsbeleid in swart studente begin toelaat het en ons weens die getalle wat na UWK gestroom het, verplig was om Engels die primêre taal van onderrig te maak, die akademiese prestasie van bruin [Afrikaanssprekende] studente merkbaar verswak het, veral omdat hul beperkte bekwaamheid in Engels hulle gepootjie het.

Die KH se uitspraak in die geval van die US-taalbeleid sal buitengewone belangstelling by Afrikaanssprekendes van alle kleure wek.

(Prof. Hermann Giliomee is ‘n historikus)