Verslag dui op korrelasie tussen politiek, haatspraak en styging in plaasmoorde


Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ʼn verslag uitgereik waarin die verband tussen politiek, haatspraak en ʼn styging in plaasmoorde uiteengesit word.
In die verslag word vyf prominente gevalle behandel waarin haat en geweld deur politieke leiers teen wit boere aangehits is. Daar is bevind dat plaasmoorde in die maande wat direk op hierdie insidente van haatspraak gevolg het, met ʼn gemiddeld van 74,8% toegeneem het.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die verslag, Kill the farmer: a brief study on the impact of politics and hate speech on the safety of South African farmers, opgestel en ook voorgelê tydens ʼn mediakonferensie wat by Forum Films aangebied is. Roets sê die bewering dat plaasmoorde in 90% van gevalle slegs deur roof gemotiveer word, misleidend is.

“In ons ondersoek is die aantal plaasmoorde in elke maand wat direk op ʼn insident van haatspraak gevolg het, vergelyk met die gemiddelde aantal plaasmoorde per maand in daardie spesifieke jaar. Daar was telkens ʼn skerp styging in plaasmoorde in die maande wat direk op haatspraak gevolg het.”

Pertinente insidente van haatspraak wat in die verslag behandel word, sluit die volgende in:

  1. Peter Mokaba se sing van “Kill the Boer, kill the farmer” in April 1993
  2. Julius Malema se sing van “Shoot the Boer” in Maart 2010
  3. President Jacob Zuma se sing van “Shoot the Boer” in Januarie 2012
  4. Ronald Lamola se oorlogspraatjies in Junie 2012
  5. Julius Malema se toesprake oor die slagting van wit mense in November 2016

Dit is verder opmerklik dat daar twee narratiewe in die debat oor plaasmoorde is. In die een word ʼn beroep op die prioritisering van plaasmoorde gedoen. In die ander word aangevoer dat boere rassiste is wat verdien wat hulle toekom. Die groot verskil tussen hierdie twee groepe, meen Roets, is dat dié wat vir die prioritisering van plaasmoorde vra hulle argumente op statistieke en navorsing baseer, terwyl dié wat hulle daarop beroep dat boere rassiste is, hulle argumente op enkele individuele voorbeelde baseer.

“Ons kan duidelik sien dat daar ʼn opwaartse kurwe in plaasmoorde is wanneer geweld teen boere aangehits word. Politieke leiers wat hulle hieraan skuldig maak, moet tot verantwoording geroep en aanspreeklik gehou word vir hul optrede,” eis Roets.

Lees die verslag hier.

Soortgelyke plasings