--> -->
Spyskaart +

“Verkiesingsaand” in Den Haag

Mei 30, 2019 deur Alana Bailey

Die afgelope week het die Europese Unie se Parlementêre verkiesings plaasgevind. Met die Suid-Afrikaanse verkiesings pas agter die blad, was dit nogal interessant om te sien hoe die organisering hiervan verskil.

Die eerste ding wat opval, is dat die Nederlandse lamppale nie kreun onder die plakkate nie. Op strategiese punte is borde spesifiek vir verkiesingsplakkate opgerig. ’n Week na die stemmery staan dit steeds, maar dit is nie so rommelrig soos die Suid-Afrikaanse stelsel met verbleikte plakkate wat soms nog maande later langs strate sigbaar is nie.

Die plakkate toon duidelik die twee denkstrome in Nederland oor hierdie verkiesing. Aan die een kant is daar naamlik partye wat ten gunste van die voortbestaan van die Europese Unie is, en aan die ander kant die Euroskeptici.

Van die grootste verkiesingskwessies wat vanjaar aan die bod gekom het, was grensbeheer, klimaatsverandering en maatskaplike sorg.

Tweedens was die plekke waar gestem kon word, vir my besonder interessant. Ons is gewoond aan plekke soos kerk- en skoolsale. In Nederland kon mense selfs in hulle gunstelingboekwinkel stem (met bygaande spesiale aanbiedings vir die kiesers) of in Den Haag selfs op ’n trem!

Sondagaand 26 Mei 2019 is die Nederlandse stemresultate ontleed en die ander inkomende Europese uitslae bekyk by Nieuwspoort, ’n internasionale perssentrum en -vereniging in Den Haag, geleë net agter die Nederlandse parlementsgebou.

Die program van vyf uur het met ’n breër blik oor die werksaamhede van die EU Parlement begin. Die eerste spreker was Mendeltje van Keulen, ’n Europa-kenner verbonde aan die Haagse Hogeschool in Den Haag. Sy is ook die skrywer van ’n boek getiteld Wat doen ze daar eigenlijk? Gesprekken met Nederlandse Europarlementariërs wat onlangs verskyn het.

Daar is 751 Europarlementariërs. Hulle vernaamste plig is om vorm te gee aan wetgewing en beleid wat dwarsdeur Europa geld. Die dilemma van enigeen wat verkies word, is volgens haar dat dit ’n lang tyd neem, selfs jare, vir die nuwe aankomeling om sy of haar voete in die EU-parlement te vind. ’n Mens moet ’n netwerk bou en wyd steun werf vir die sake waarop jy wil fokus, voor jy sukses kan behaal.

In ’n nasionale parlement sal daar standpuntinname wees, dan debat en dan ’n besluit waaruit ’n aksie of wetgewing moontlik sal voortspruit. By die EU Parlement gaan dit heeltyd om die tref van kompromieë. Jy moet tegelyk jou eie party se lede, die groep waarbinne jou party in die EU val se lede, die 750 ander parlementariërs, asook nog die breër publiek in jou land van herkoms almal gelukkig hou en wen om jou saak te steun.

Te veel eie fokus word ook nie verwelkom nie. Die veronderstelling is dat wanneer jy hier parlementslid word, jou eerste fokus die welstand van Europa moet wees, en nie van net jou gemeenskap, streek of land nie. Jy moet nou die belange van 500 miljoen Europeërs behartig. Jy weet dat jy begin sukses behaal wanneer invloedwerwers en lidstate jou begin nader om jou steun vir hulle kwessies te werf.

Mendeltje het ook haar opinie gegee oor hoe die ander lidstate se parlementslede Nederland se verteenwoordigers beskou. Sy meen die feit dat baie lede van die Nederlandse parlement net vir kort tye hulle setels beklee, soms tot gevolg kan hê dat die ander lande minder vertroue in kontak met Nederlandse politici het as met ander lande waar mense jare lank in die parlement sit. Soms sal hulle Nederlanders dalk ook as effe teruggetrokke ervaar. Netwerkbou kan dus vir nuwe lede uit Nederland langer neem en baie geduld en moeite verg.

Tuis in Nederland word die vraag wat die lede nou eintlik doen, dikwels gevra. Hulle moet natuurlik aanspreeklik gehou word, maar aan die ander kant berig die Nederlandse media weinig oor hulle werksaamhede. Een van die redes hiervoor is dat besluite op soveel vlakke geneem moet word voor dit finaal geïmplementeer word. As die media elke keer oor die proses berig voor dit na die volgende vlak opgewentel word, gaan die publiek verveeld raak. Sommige joernaliste is ook laks om op te volg hoe dit met die hantering van ’n kwessie gaan. Dikwels word eers oor finale besluite berig, sonder om die jare lange werk wat dit voorafgegaan het, in ag te neem. Van buite kan dit dan vir die publiek lyk of niks ooit gedoen is nie.

Sy meen die kritiek dat die EU parlement te veel op detail fokus, is soms wel geregverdig. Harde politieke keuses word vermy. Die groot vraag in die parlement is altyd in watter mate dit by skendings van die status van die regstaatbeginsel in lidstate mag inmeng. Dit bly ’n moeilike kwessie en skep vrae oor die sin van die stelsel.

Monika Sie Dhian Ho, direkteur by die Clingendael Instituut in Den Haag, het ook haar opinie oor die invloed van Nederland in die EU gelug.

Sy het bevestig dat lede veronderstel is om ’n breër ideaal as net hulle eie land se voordeel te dien. Oplossings wat vir probleme voorgestel word, moet as EU-oplossings, en dus nie net as Nederlandse oplossings nie, verpak word om sukses te behaal en aanvaar te word.

Na haar mening is lande soos Frankryk en Duitsland beter as Nederland met dié soort diplomatieke spel. Frans Timmermans, die besonder gewilde Nederlandse kandidaat wat moontlik Jean-Claude Juncker van Luxemburg as president van die Europese Kommissie kan opvolg, is volgens haar ’n uitsondering op die reël. Hy is vaardig met brûe bou en dit is ’n vaardigheid wat noodsaaklik gaan wees in die onseker tye indien Brexit sou deurgaan.

Daar word ook gegis dat die Nederlandse premier, Mark Rutte, Juncker dalk kan opvolg. Tans ontduik Rutte alle vrae in dié verband op vaardige wyse, maar hy is ’n vertroueling van Angela Merkel en met haar politieke loopbaan wat vinnig ten einde loop, sal dit nou ’n goeie tyd wees vir hom om die stap te doen as hy dalk nog op haar steun wil reken en wel ambisie het om in die EU te dien.

In paneelgesprekke later die aand is ook na die Nederlandse verkiesingsveldtog gekyk. Dit is as ’n trae veldtog beskryf, met min partye wat werklik moeite met hulle stemwerwery gedoen het. Potgooie het ’n groot rol in hierdie verkiesing gespeel. Hoewel effe meer mense daaraan deelgeneem het as aan die verkiesing in 2014, voel baie lede van die publiek dat dit irrelevant is en hulle nie moeite wil doen om te gaan stem nie.

In Duitsland was daar vanjaar 41 partye op die stembrief. Hierdie versplintering is tekenend van die groot politieke hergroepering in Europa. Terloops, in Europa is daar sowat 500 politieke partye.

By Nieuwspoort is die voorlopige stemresultate uit Duitsland, Spanje, Italië, Pole, Hongarye en Frankryk deurentyd aangekondig. Die aanwesiges se reaksie is bepaal deur hulle eie politieke standpunte – diegene wat sterk oor klimaatsverandering voel, het die groter steun aan groen partye in Europa luidkeels verwelkom, die ander was verdeel tussen diegene wat op ’n lang toekoms vir die EU hoop, teenoor dié wat dink dat dit tyd vir verandering is.

Wat die res van die wêreld betref, is die enigste kwessies wat aangeroer is, die handelstryd tussen die VSA en Sjina, en gevolge wat dit vir die EU kan hê, asook die politieke onstabiliteit in die Midde-Ooste. Oor Afrika is niks genoem nie, ’n redelik versoberende ervaring vir my en weer ’n herinnering dat hoewel ons graag sou wou hê dat ons probleme tuis die fokus van die wêreld moet wees, ons vir die meeste joernaliste en politici elders maar ’n klein spikkel op die wêreldkaart is.

Dit beteken nie dat ons ooit moet nalaat om ons netwerke na die internasionale terrein uit te bou of ons kwessies onder hulle aandag te bring nie, maar dit moet altyd met realisme geskied, en met die wete dat die meeste van die oplossings vir die uitdagings wat ons in die gesig staar, deur onsself tuis gevind sal moet word.