--> -->
Spyskaart +

Verdediging van die voorskrif van ’n enkele taal van rekord: Nog ’n terugslag vir veeltaligheid

November 9, 2018 deur Mareli Rall

Deur: Zakeera Docrat. Doktorale Student in Afrikatale, Skool vir Tale en Letterkunde, Rhodes Universiteit

Die Rhodes-universiteit het onlangs ’n Forensiese Linguistiek-kollokwium aangebied met die tema The Language of Justice: A Transformational Approach. In die aanloop tot die kollokwium kon Honneursstudente in Afrikataalstudies luister na gaslesings deur prof Monwabisi Ralarala, mnr. Cerneels Lourens en me. Annelise de Vries. Prof Ralarala het twee belangrike vrae gestel: 1) Is daar vir sprekers van die nege amptelike Afrikatale hoop in die regstelsel? 2) Het jy vertroue in die regstelsel? Dit is twee belangrike vrae wat gestel moet word. Dit is vrae wat selfondersoek vereis van die regbank en die breër regstelsel, insluitend die departement van justisie en staatkundige ontwikkeling.

Artikel 6 van die Grondwet erken 11 amptelike tale, waarvan nege Afrikatale is. Met die verlening van amptelike status aan die Afrikatale gee die Grondwet aan die staat ’n mandaat om “… praktiese en daadwerklike maatreëls (te) tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”. Die nasionale regering en provinsiale regerings kan enige amptelike tale vir regeringsdoeleindes aanwend, “… met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streekomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie …,” maar die nasionale regering en elke provinsiale regering moet ten minste twee amptelike tale gebruik.

Die taalbloudruk in artikel 6 van die Grondwet soos hierbo aangedui, verhoog klaarblyklik die status van Afrikatale. ’n Minimum van twee amptelike tale moet gebruik word. Die toepassing van die 2017-voorskrif oor taal van rekord deur die hofowerhede om Engels die enigste amptelike taal van rekord te maak, is na my mening strydig met die grondwetlike mandaat. Die nasionale regering, in die vorm van die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste, het tot dusver versuim om taalbeleide vir die regstelsel in elke provinsie in te stel wat die gebruik van ten minste twee amptelike tale as tale van rekord verseker. Dit kan aan die hand van die taaldemografie van die bevolking in elke provinsie bepaal word.

Die nasionale sensus van 2011 verklaar dat net 9,6 persent van die bevolking Engels as hulle moedertaal praat. Uit provinsiale statistieke blyk dit dat ’n Afrikataal en/of Afrikaans deur die meerderheid mense in elke provinsie gepraat word. Dit sou tog sekerlik in belang van geregtigheid, doenlik, prakties, verstandig en uitvoerbaar wees om hierdie tale as tale van rekord in elke provinsie te hê? Die argument is nie om van Engels ontslae te raak nie, want dit sou onsinnig wees vanuit ’n internasionale perspektief. Hoekom dan nie deur medium van Xhosa voortgaan nie waar al die partye in die hof, insluitend die regterlike amptenaar, in Xhosa vaardig is? Na my mening is dit prakties; dit gee effektief uiting aan die taalbepalings van die Grondwet en gee effektief uiting aan die begrip toegang tot geregtigheid. Indien nie, hoe sê ons dan wie alleen toegang tot geregtigheid moet hê – eentalige elite-Engelssprekendes? Hoe kan dit billik wees wanneer die meeste van ons mede-Suid-Afrikaners nie Engelssprekend is nie?

Argumente kan gestaaf word deur Legal Aid South Africa se 2016-taalopname, wat toon dat die litigante wat staat gemaak het op regsverteenwoordiging wat deur Legal Aid verskaf is, net beperkte of geen taalvaardigheid in Engels gehad het nie in die kategorieë praat, lees, skryf en verstaan.

Die argument ten gunste van provinsiale taalbeleide om die taal van rekord te reguleer, is dwingend in die lig van die statistieke hierbo. Hierdie tipe taalbeplanning kan deur die taaldemografie gelei word. Ongelukkig is dit tans nie die geval nie, waar die hofowerhede taal as ’n probleem beskou pleks van ’n reg en ’n hulpbron.

Die saak van State v Gordon (2018) onthul die taalongeregtighede wat deur die regstelsel voortgesit word. Die hof a quo was ’n periodieke hof wat in Darling gesit het. Die saak is na die streekhof in Malmesbury gestuur vir vonnisoplegging, vanwaar die saak op hersiening na die Wes-Kaapse hoë hof verwys is om te bepaal of die verrigtinge in ooreenstemming met geregtigheid was.

Die saak is aanvanklik in Afrikaans aangehoor ondanks die hofowerhede se voorskrif om Engels die enigste amptelike taal van rekord te maak. Die landdros is gevra hoekom hy versuim het om gehoor te gee aan die hofowerhede se voorskrif wat deur regter-president Hlophe uitgereik is. Dit blyk uit die reaksie, wat in die uitspraak aangeteken is, dat die landdros dit in die omstandighede as prakties beskou het om in Afrikaans voort te gaan, aangesien al die partye voor die hof vaardig was in Afrikaans.

Die agbare regter het die tekort aan tolke en die gevolglike vertragings wat dit in die regspraak meebring, vanuit die staanspoor erken. Met die verdere lees van die uitspraak verklaar die regter skielik dat die keuse van Engels as die taal van rekord die koste van vertaling en tolking sal verminder. Hoe kan dit reg wees? Vertragings as gevolg van tekorte aan tolke lei tot hoër koste en die vertraging van geregtigheid.

’n Ontstellende aspek van die uitspraak is die feit dat die hofowerhede se voorskrif verdedig is op grond van koste en demografie. Die koste-argument is die een wat die meeste gebruik word. Dit is egter uiters betreurenswaardig dat die regter in dieselfde asem die lot van behoeftige persone in informele behuisingsontwikkelings buite die stede erken en opmerk dat die meeste nie Engels as hulle moedertaal praat nie en dat tolke noodsaaklik is. Die demografie-argument bewys dat Engels nie deur die meeste van ons mense verstaan word nie, en die regter se redenering dat die hofowerhede se besluit om Engels die enigste amptelike taal van rekord te maak bloot beteken dat dit is wat die land vandag kan bekostig, is gevolglik foutief.

In die lig van die voorskrif deur die hofowerhede en die redenering in die Gordon-saak is ’n mens geneig om op albei vrae van prof Ralarala met ‘n besliste NEE te antwoord, maar dit is in hierdie tyd, waar die belangrikheid van veeltaligheid in die regstelsel ondermyn en eintlik geproblematiseer word, dat ons as Suid-Afrikaners, sprekers van alle amptelike tale, hoop moet hê dat die gety sal draai. As forensiese linguiste, regspraktisyns, akademici, taalaktiviste en kenners van Afrikatale moet ons ons stemme verhef. Ons moet die geldigheid van hierdie voorskrifte betwis. Ons moet die waardes en beginsels van ons Grondwet handhaaf terwyl ons steeds probeer verseker dat ons ’n veeltalige regstelsel het wat effektief betekenis gee vir ons veeltalige burgers.

In die Gordon-saak het die regter gesê ek het die “morele en intellektuele integriteit om te argumenteer oor wat die taal van rekord moet wees”, terwyl hulle as regters nie daardie weelde het nie. Dit is nie ’n weelde dat ek as ’n Suid-Afrikaanse burger die verantwoordelikheid het om vir die insluiting van ons tale te stry nie; ek word deur my gewete gelei en ek erken die lot van my mede-Suid-Afrikaners in hulle pogings om geregtigheid te kry in ’n taal wat hulle ten volle verstaan. Die regters moet gelei word deur die grondwetlike bepalings, wat nie die opheffing van Engels vereis nie maar eerder die opheffing van Afrikatale. Dit gaan daaroor om al die tale op gelyke grondslag te plaas, en om dit te doen, moet sprekers van die amptelike tale gelykwaardig behandel word.

 

* Zakeera Docrat behaal ‘n BA in Regteorie en IsiXhosa (2013), ‘n BA Honneurs in Afrikatale cum laude (2014), ‘n LLB (2016) en ‘n MA in Afrikatale cum laude (2018) van die Rhodes-universiteit. Sy is tans by dieselfde instansie vir ‘n PhD in Afrikatale ingeskryf, met die fokus op taal- en regs- / forensiese taalkunde, onder die vaandel van die NRF SARChI-leerstoel in die Intellektualisering van Afrikatale, Meertaligheid en Onderwys.