Verdagtes loop hul vas teen AfriForum se Upington-buurtwag


AfriForum se buurtwag in Upington het die afgelope naweek tydens twee onderskeie insidente, twee verdagtes vasgetrek.
Die een insident het op Vrydag, 26 Mei, om 03:00 by ’n perseel in Upington se industriële gebied plaasgevind. Nadat verdagtes by die perseel opgemerk is, was die AfriForum-buurtwag asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) spoedig op die toneel. Een verdagte is aangekeer en in hegtenis geneem nadat hy die gesteelde goedere uitgewys het. Die eienaar van die betrokke perseel en nog ’n besigheidseienaar wat ook gereeld deur misdadigers geteiken is, het saam ’n skenking in die vorm van toerusting aan die AfriForum-buurtwag gemaak.
Op Sondagaand, 28 Mei, is nog ’n verdagte persoon opgemerk wat ’n erf wou binnegaan. Weens buurtwaglede wat hom opgemerk het, het die verdagte begin hardloop en hy is uiteindelik gevang nadat die SAPD ook vinnig op die toneel was.

“Hierdie twee insidente wys dat misdaad ’n werklikheid is en ons doen ’n beroep op die gemeenskap van Upington om by die AfriForum-buurtwag betrokke te raak. Ons het aansoek gedoen vir ’n herhaler en sodra ICASA die lisensie hiervoor goedgekeur het, gaan ons die radionetwerk aan die gang kry,” sê Steven van Tonder, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Upington.

Van Tonder noem dat AfriForum ook in die proses is om ’n plaaswagstelsel in die Upington-omgewing op die been te bring.
 
’n Beroep word op die inwoners van Upington gedoen om by AfriForum se buurtwag aan te sluit. Skakel die buurtwagnoodnommer by 078 656 3874.

Soortgelyke plasings