|

Verashni Pillay-appèlverhoor: Uitspraak voorbehou

Die burgerregte-organisasie AfriForum het gister sy argumente as ’n respondent aangevoer tydens die persombudsman se appèlverhoor in die saak teen Verashni Pillay, voormalige hoofredakteur van HuffPost South Africa.

Dít volg na AfriForum HuffPost SA en Pillay aangekla het vir die publikasie en verdediging van ‘n artikel getiteld: “Could it be time to deny white men the franchise?”. In die artikel word onder meer aangevoer dat wit mans vir 20 tot 30 jaar van hul stemreg ontneem moet word ten einde “wanbalanse” reg te stel.

Johan Retief, persombudsman, het bevind die artikel is diskriminerend en rassisties. Hy het beveel dat HuffPost onvoorwaardelike om verskoning vra vir die publisering van die artikel wat aangevoer het dat wit mans blameer moet word vir ’n reeks van politieke gebeure waaronder Brexit en die feit dat die DA in vier van Suid-Afrika se stede regeer.

Ná hierdie bevindings het HuffPost South Africa die verpligte verskoning gepubliseer.

Pillay het ook by Media24 bedank en om verlof tot appèl aansoek gedoen, waarna dit toegestaan is om die bevindings teen te staan. Haar appèl is toegespits op verskillende klousules van die perskode, naamlik diskriminasie en haatspraak, beskermde kommentaar, geloofwaardigheid en openbare vertroue, asook waardigheid en reputasie.

Die appèl is deur Bernard Ngoepe, die voorsitter van die appèlpaneel en afgetrede regter van die Konstitusionele Hof aangehoor. Die paneel moet nou beslis of die blog en redaksionele kommentaar kwaadwillig en diskriminerend is. Uitspraak is voorbehou.

Adv. Steve Budlender het standpunt namens die South African National Editors Forum (Sanef) en Media Monitoring Africa (MMA) ingeneem. Adv. Ben Winks het vir Pillay opgetree en adv. Mark Oppenheimer namens AfriForum.

 

Soortgelyke plasings