Spyskaart +

Veiligheidswenke vir begraafplase

Julie 18, 2017 deur Admin

Die misdaadkrisis in Suid-Afrika het tot gevolg dat landsburgers nie meer veilig voel om hul afgestorwe geliefdes se laaste rusplek te besoek nie. Vandale en misdadigers slaan toe op begraafplase en munisipaliteite doen weinig tot niks om dit in stand te hou of mense se veiligheid te waarborg. Hier is enkele veiligheidswenke wanneer jy begraafplase besoek:

  • Moenie alleen gaan nie; gaan liewer in groepe van 4 of meer mense.
  • Gaan liewer in die dag tussen 10:00 en 14:00, wanneer daar weens begrafnisse die meeste beweging is .
  • Moet veral nie in die aand gaan nie.
  • Moenie waardevolle artikels saamneem nie.
  • Plaas enige waardevolle artikels in jou voertuig buite sig sodat dit nie misdaad uitlok nie.
  • Sommige begraafplase laat voertuie binne toe. Ry indien moontlik tot naby die graf wat jy wil besoek sodat jy nie ver hoef te loop nie (of hardloop as daar ’n probleem is).
  • Begraafplase wat onversorg en oorgroei is, hou ’n groter risiko in. Misdadigers het meer wegkruipplek en dis moeiliker om weg te kom as jy moet. Vermy verkieslik sulke gebiede.
  • Die nagedagtenis van geliefdes is vir ons almal na aan die hart, en ons wil almal hê dat die grafte versorg word. Dit help egter nie om self ’n slagoffer te word van misdadigers wat in en om begraafplase toeslaan nie. Indien jy ’n graf wil besoek of skoonmaak, is dit die moeite werd om deeglike beplanning te doen sodat dit veilig afgehandel kan word. Beplanning kan insluit om eers ’n paar keer daar verby te ry om te sien op watter tye dit besig is, hoe die terrein lyk en of daar werkers, opsigters of kantore is. Gesels met vriende of familie oor jou plan en hoor of hulle nie wil saamgaan nie. Stel iemand anders ook in kennis dat jy gaan, op watter dag en hoe laat jy gaan, en hoe lank jy verwag om daar te wees. Hulle kan dan opvolg of jy veilig terug is.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).