|

Veiligheidstrukture in Matzikama verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

AfriForum se buurt- en plaaswagte in die Matzikama-streek neem sedert November vanjaar aan dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deel. Die Matzikama-streek se patrollies sal tot 15 Desember 2019 voortduur.

AfriForum het dié nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoësigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

AfriForum se plaaswagte in Nuwerus, Lutzville, Koekenaap, Vredendal, Kleinrivier, Spruitdrift en Trawal, asook die Lutzville-buurtwag het gedurende hulle beveiligingsaksies in November meer as 14 480 km in 213 voertuie afgelê. 311 patrolleerders het daaraan deelgeneem en ses voorvalle is suksesvol hanteer.

Die Nuwerus-plaaswag het op 20 en 22 November afsonderlik drie en twee persone in samewerking met die SAPD in hegtenis geneem. Dié verdagtes het na bewering by ’n motor probeer inbreek, gesteelde goedere in hul besit gehad en vee gesteel.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping. Dit is proaktief van aard en ontmoedig misdadigers om voort te gaan met hul onwettige aktiwiteite. AfriForum-buurtwagte en -plaaswagte sal daarom klem lê op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede,” sê Wilco Engelbrecht, AfriForum se voorsitter vir gemeenskapsveiligheid in Matzikama.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings