|

Veilige Akademia-kampus gereed om kennis- en waardegedrewe onderrig te gee

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia bied sedert 2012 hoëgehalte onderrig deur middel van afstandonderrig en gevorderde tegnologie aan. Vanaf 2021 sal ’n bykomende heeltydse model ook vir skoolverlaters beskikbaar wees.

Akademia het reeds bekendheid verwerf vir na-uurse studies in verskeie vakgebiede wat veral vir werkendes aantreklik is. Nou is daar groot opgewondenheid oor die vooruitsig dat studente vanaf 2021 ook bedags op die Centurion-kampus sal kan klas draf en op tradisionele wyse onderrig sal ontvang deur ’n dosent wat fisies in die klas teenwoordig is.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, en prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, het vandag tydens ’n paneelbespreking oor die toekomstige moontlikhede en voordele van die Akademia-kampus uitgewei.

Hermann het gesê die behoefte aan Akademia het gegroei in die lig van die tersiêre wêreld in Afrikaans wat die afgelope jare drasties verander het. “Die politieke strominge op kampusse het ook daartoe bygedra dat ’n groter behoefte ontstaan het aan ’n vriendelike en veilige kampus wat studente kan akkommodeer. ’n Instelling waar wêreldklasonderrig aangebied word en waar studente nie net opgelei nie, maar ook opgevoed word.”

Goosen meen studente het meer as net kennis vir hul beroepe nodig. “Studente moet ook gevorm word en met wysheid toegerus word sodat hulle hulself in die breër wêreld kan handhaaf.”

Visser sê Akademia gaan ’n kampus wees waar studente ook pret gaan hê en waar daar baie geleenthede sal wees om aan studenteaktiwiteite deel te neem.

Hy meen die kampus sal vroeg volgende jaar beslis gereed wees indien die inperkings verby is. “Ons het dit reggekry om afstandonderrig deur middel van hoë tegnologie aan te bied. Indien dit nodig is, sal ons op die model voortgaan. Ons sal beslis nie nodig hê om dinge eers in plek te kry om met onderrig te begin nie.”

Die kampusmodel word ingerig met ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, ʼn biblioteek, asook verskeie studente-ondersteuningsinisiatiewe. Daar word beoog om vanaf volgende jaar nege grade in die bestuurswetenskappe, geesteswetenskappe, opvoedkunde en regsgeleerdheid aan te bied. Aansoeke vir vyf van die kwalifikasies is reeds oop. Al Akademia se kwalifikasies is ook goedgekeur en geakkrediteer.

Visser meen die uitbreiding by Akademia is ʼn besondere mylpaal vir die instelling en skep hoop vir Afrikaanssprekendes wat in ʼn gehalte-omgewing onderrig in hulle moedertaal wil ontvang. Die bykomende voltydse kontakmodel dien as tussentydse stap vir  ʼn groter projek naamlik die ontwikkeling van ʼn residensiële kampus waar ongeveer 5 000 voorgraadse studente voltyds sal studeer.

Akademia bied op 29 Augustus ʼn aanlyn kampusopedag aan om aan voornemende studente meer inligting oor studiemoontlikhede te verskaf en om op ʼn virtuele wyse te demonstreer hoe die tussentydse kampus ingerig word. Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za

Navrae kan ook gestuur word na navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888.

Soortgelyke plasings