Spyskaart +

Van gemeenskapsuniversiteit tot staatsuniversiteit

Februarie 8, 2017 deur afriministrator

 

Piet le Roux 2jpg

Deur: Piet le Roux

In 2016 was daar ’n ongekende ervaring van verlies oor ons histories Afrikaanse universiteite. Daar hoef maar net vlugtig na die hofsake wat verloor is, die omstrede universiteitsrade, die ontwrigte universiteite en sake soos kwotas, verpligte nasiebouvakke en dekolonisasie verwys te word. En hoe weerklink die vrome vermanings dat universiteitsgemeenskappe se bemoeienis met die taal en karakter van hul universiteite kleinlik, provinsiaal en – o, behoede! – eksklusief sou wees nie steeds in ons ore nie?

Waarom is dit so dat histories Afrikaanse universiteite, wat met soveel verbeeldingrykheid sedert die middel 1800’s opgerig is, vandag met soveel verbeeldingloosheid van Afrikaans afstand doen? Die antwoord het te make met ’n verandering in maatskaplike opvattings en die begrip van wat ’n universiteit is.

Lees mens deur die tydsdokumente uit die 1800’s en vroeë 1900’s, soos die Gedenkboek van die Victoria Kollege (die voorganger van die Universiteit Stellenbosch), val dit jou op dat die histories Afrikaanse universiteite en hul voorgangers aanvanklik as gemeenskapsinstellings beskou is. As kolleges en uiteindelik universiteite is dié instellings elk deur sy institusionele gemeenskap as brug tussen die globale en die plaaslike opgerig. Die idee was nie om die gemeenskap na die beeld van die karakterlose en horisonlose globale te maak nie, maar om aan die globale karakter te gee en aan die gemeenskap nuwe horisonne te bied.

In die moderniteit van ons era en in die Suid-Afrikaanse staat oor die afgelope honderd jaar het die universiteitsidee egter gaandeweg ’n problematiese inkleding verkry. Of liewer, ons kan praat van ’n problematiek wat gaandeweg versterk het, want naas die aantreklike gemeenskapsopvatting kan ’n mens ook die kiem van sy ongedaanmaking reeds in ’n dokument soos die Gedenkboek bespeur. Dié problematiek het te make met die gevaarlike vereenselwiging van twee eiesoortige konsepte, naamlik gemeenskap en staat.

Ingevolge die vereenselwiging van gemeenskap en staat word daar nie gelet nie op veranderinge in die karakter van ’n universiteit wat meegebring word wanneer ’n universiteit onder beheer van die staat kom, eerder as om onder beheer van ’n gemeenskap bly. ’n Vergelyking tussen die ou en die moderne Afrikaanse universiteite illustreer die verandering in opvatting. Die ou Afrikaanse universiteite was ten tyde van hul formalisering as universiteite in die eerste dekades van die 1900’s in wese instellings van gemeenskappe – verlengstukke van hul voorgangers uit die 1800’s. Hul bestaan was aan gemeenskapsinisiatief te danke; aan hoofsaaklik gemeenskapsfondse; en aan ’n tyd toe Afrikaners nog nie in beheer van die staat was nie.

Soos wat Afrikaners egter gaandeweg in beheer van die staat gekom en staatsbouers geword het, het hulle – en ’n mens kan dit met begrip hanteer, al is dit met kritiek – voortgegaan om hulle met universiteite te bemoei asof daar ’n soomlose oorgang tussen hul inisiatiewe as gemeenskapsbouers en inisiatiewe as staatsbouers was. Iewers in die twintigste eeu is Afrikaners deur die gees van 1910 se Uniewording en die momentum van moderniteit meegesleur en het hulle die fout gemaak om staat en gemeenskap te verwar. Met goeie bedoelings is beheer oor gemeenskapsinfrastrukture soos skole en universiteite weg van gemeenskappe aan die staat oorgedra – en is die institusionele definisie van universiteite radikaal ondermyn. Vandag word daardie einste greep van die staat, hierdie keer onder die ANC, bloot verstewig.

’n Toespraak deur prof. H.B. Thom belig dié kwessie. Thom was sedert 1954 vir 16 jaar lank rektor en later kanselier van die Universiteit Stellenbosch en het diep en gewaardeerde spore in die openbare Afrikaanse lewe getrap het. In ’n toespraak voor die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch in 1978 dra hy egter daadkragtig die gesag oor universiteite vanaf gemeenskappe aan die staat oor.

“Universiteite is nasionale besit; hulle behoort aan die land en sy mense,” hef hy aan. Nieteenstaande sekere mindere verbande tussen universiteite en gemeenskappe, waarna Thom op terloopse wyse verwys, is dit vir hom “logies en korrek dat universiteite … deur ’n wet van die nasionale wetgewende mag, die Parlement, in die lewe geroep word, en dat hulle, as hulle eenmaal gestig is, onder die nasionale regering opereer”. Daar is geen “kwalifikasie van die fundamentele gedagte” nie, naamlik “dat universiteite onder die nasionale wetgewing en die nasionale uitvoering resorteer”.

Dit is opvallend dat Thom sy mededelings as gemene saak beskou: “As ons dit alles moet aanvaar – soos ons almal seker doen … ”

Vir Thom kon Stellenbosch nie sy eie heil vind nie; dit moes ooreenkomstig die staat se plan geskied. (Afrikaners is immers, kan ’n mens Thom amper hoor sê, in beheer van die staat en die staat is ’n hoër vorm as gemeenskap.) “Universiteitsuitbreiding in Suid-Afrika kan nie maar lukraak – en seer seker ook nie bloot ter wille van die aansien of status van die een of ander universiteit – plaasvind nie; inteendeel, dit moet pas binne die raam van ’n groot nasionale beleid, wat ware landsbelange as eerste prioriteit stel.”

Met alle respek aan Thom: sy toespraak kan, met die nodige kontekstuele veranderinge, vandag ewe maklik deur hedendaagse verstaatlikers van onderwys (soos Panyaza Lesufi,  Gautengse LUR vir onderwys, en vele ander) gelewer word.

Dit is vandag noodsaaklik dat ons, wanneer ons aan die verlies van ons universiteite in 2016 dink, dit herken as ’n logiese gevolg van ’n lang proses waarvoor die grondslag in betekenisvolle opsigte deur Afrikaners sélfgelê is, en nie deur die ANC nie. Die mag wat die staat vandag oor gemeenskapsinstellings soos universiteite het, is dus ten minste ten dele ons eie skuld. Ons het van die fundamentele onderskeid tussen gemeenskap en staat vergeet; en ons sal dit moet herontdek as ons die universiteitsidee en die Afrikaanse universiteitswese in ere wil herstel.

As dit ’n sware oordeel oor onsself is, kan ons ter versagting daarop wys dat hierdie versmelting tussen staat en gemeenskap nie net Afrikaners ten laste gelê kan word nie, maar dat dit ’n algemene, moderne verskynsel is. ’n Behoorlike ingang op hierdie punt is egter ’n saak vir ’n ander geleentheid.

Piet le Roux is die akademiese hoof van Akademia.