--> -->
Spyskaart +

Vakansievoordele

September 17, 2014 deur afriministrator

Om dankie te sê vir die lojale steun wat u as AfriForum-lid bied, kwalifiseer u vanaf 1 September 2014 vir 20%-afslag op alle akkommodasie by Kokoriba Wildreservaat enige tyd van die jaar.

Hierdie inisiatief beklemtoon weereens waarom AfriForum soveel meer as ’n gewone burgerregte-organisasie is.

Wat behels die voordeel?
Alle volopbetaalde lede van die Solidariteit Beweging, wat AfriForum insluit, kwalifiseer vir 20%-afslag by Kokoriba. Lidmaatskap sal nagegaan word voor die afslag toegestaan word. Lede moet self by Kokoriba wees gedurende die tydperk waarvoor hulle ’n bespreking gemaak het. Lede moet hulle lidmaatskapkaart of identiteitsdokument aan die oord se ontvangspersoneel toon. Die afslag geld slegs vir een eenheid per gesin. Ten minste een lid van die gesin moet ’n AfriForum-lid wees.

Waar is Kokoriba geleë?
Kokoriba is 38 km vanaf Brits, 68 km vanaf Sun City en 58 km vanaf Rustenburg geleë.

Meer oor Kokoriba
Kokoriba is geleë in die hartjie van die Bosveld. Dis ’n bekostigbare vakansiebestemming, ideaal vir mense wat van tradisionele gesinsvakansies, die natuur en die buitelewe hou. ’n Verskeidenheid netjies gemeubileerde en lugversorgde selfsorg-chalets wat tussen twee en ses mense kan huisves, is beskikbaar. Die oord het ook ’n woonwapark met vyf goed toegeruste ablusieblokke. Die staanplekke is gedeeltelik met gras en hoofsaaklik met Bosveldgruis bedek. Die staanplekke het water- en kragpunte en draagbare braaiers kan by die oordkantoor bespreek word. Vir bekostigbare groepsfunksies is daar die Makoro-basis wat bestaan uit ’n gebou met tweebed- en driebedkamers en ander basiese geriewe. Die eenheid het sy eie buitelapa en is vir 32 mense toegerus. Buite-ablusiegeriewe is beskikbaar. Die kamp is elektries omhein, wat besoekers gemoedsrus gee.
Kokoriba bied ’n wye verskeidenheid ontspanningsaktiwiteite wat onder meer wildbesigtiging, staproetes, ’n verhitte onderdakswembad, ’n verhitte buiteswembad, ’n kouewaterswembad, tafeltennis, ’n trampolien, veerpyltjies en mini-gholf insluit. ’n Grootskermtelevisie is onder die lapa beskikbaar. Die oord het ’n à la carte-restaurant en ’n winkel wat vakansiebenodigdhede aanhou. Daarby het die oord sy eie aanloopbaan wat verskillende tipes vliegtuie en mikrovliegtuie akkommodeer.

Wild en ander diere wat in die reservaat te sien is, sluit in: blesbokke, blouwildebeeste, duikers, swartwitpense, kameelperde, koedoes, nagapies, njalas, rooibokke, rooihartbeeste, steenbokke, vlakvarke, sebras en roofdiere. Die reservaat is ook ’n voëlparadys en meer as 300 voëlspesies is al in die streek aangeteken. Die oord het drie skuilings waar voëls en wild besigtig kan word.

Die reservaat maak ook vir dagbesoekers voorsiening wat op voorafbespreking die oord se geriewe kan gebruik.

Alle tariewe is op Kokoriba se webtuiste beskikbaar.

Kliek hier vir meer inligting oor Kokoriba.
Hoe om by Kokoriba te bespreek
Besprekings word direk by Kokoriba gedoen.
Besoek gerus die webtuiste by www.kokoriba.co.za of skakel 076 153 0884 of 076 158 0890.
Onthou om te noem dat jy ’n AfriForum-lid is.

Klik hier om die Bepalings en Voorwaardes te lees.