|

Vaalrivier-rioolprobleem lankal ’n nasionale krisis

’n Mens kan maar net wonder of Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, se besoek vandeesweek in Vereeniging werklik enige vrugte gaan afwerp rondom die Vaalrivierkrisis aangesien die Menseregtekommissie (MRK), die Suid-Afrikaanse nasionale weermag en die Ekhurhuleni plaaslike munisipaliteit nie juis die afgelope twee jaar hond haaraf kon maak nie.

Selfs pres. Cyril Ramaphosa het al in Oktober verlede jaar die rioolprobleem in die Vaal as ’n nasionale krisis bestempel.

Sisulu het vandeesweek probeer beïndruk deur te sê die eenheid wat nou vir die regruk-aksie verantwoordelik is, naamlik die Ekhurhuleni Water Care Company (Erwat), moet nou nie net vyf dae per week nie, maar eerder sewe dae per week werk om ’n verandering teweeg te bring.

Sy sal die gebied weer in Junie besoek om na die vordering te kyk.

Ook Sisulu wil die gebied tot rampgebied verklaar om meer geld van die nasionale tesourie te kry om die krisis die hoof te bied.

Politieke ontleders en omgewingskundiges is egter skepties oor of die probleme in die afsienbare toekoms opgelos kan word gegewe die feit dat die ANC-regering toegelaat het dat die krisis sulke afmetings aanneem. Daarbenewens het dienslewering nie net in die Vaaldriehoek nie, maar ook by talle ander klein dorpies totaal in duie gestort wat die voorsiening van drinkwater en riolering betref. In die jongste geval gaan dit beroerd in Wolmaransstad en omliggende dorpe waar inwoners nou al bykans ’n week sonder water is. Sedert die begin van die jaar is ook berig oor waterprobleme in Swartruggens, Koster, Derby, Winburg, Kroonstad, Theunissen, Brandfort, Parys, Queenstown, Butterworth en Grahamstad.

Suid-Afrikaners is elke dag uitgelewer aan swak dienslewering en omdat die infrastruktuur nie in stand gehou of opgegradeer word nie, neem die verval, in veral plattelandse dorpe, met rasse skrede toe. Wanbestuur, korrupsie en onbevoegde amptenare dra ook by tot die krisis en klein dorpies se elektrisiteit- en waterskuld beloop reeds miljarde rande.

In plaas daarvan dat die ANC-leierskap strenger teen wanfunksionele munisipaliteite optree, het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, vandag gesê kleiner munisipaliteite se Eskom-skuld moet eerder afgeskryf word. Hy meen daar kan nie van dié munisipaliteite, wat onder armoede en werkloosheid gebuk gaan en geen belastingbasis het, verwag word om te betaal nie.

AfriForum as burgerregte-organisasie staan gemeenskappe sover moontlik by om hul waterprobleme op te los deur onder meer watertenks beskikbaar te stel en hofsake teen munisipaliteite aanhangig te maak om amptenare te dwing om hul werk te doen.

Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum, meen dit is kommerwekkend dat die minister nóú eers ná jare se besoedeling toetree, asook dat sy nêrens noem dat die skuldige partye aan die pen gaan ry nie. “Die grootste probleem is dat die regering nie munisipaliteite verantwoordelik hou vir swak instandhouding nie.

“Wat die Vaalrivier betref, het AfriForum reeds in 2018 strafregtelike klagtes teen die verantwoordelike partye, wat hul plig versuim, ingedien. Dié klagtes is egter nog hangend. Ons het in 2019 ’n vergadering met die minister versoek, maar dit het op dowe ore geval,” sê De Klerk.

Die regering het meer as R1 miljard beskikbaar gestel om die rioolstelsel in die Vaalrivier-gebied te herstel.

Sisulu het onderneem om toe te sien dat die geld aangewend word om die krisis op te los aangesien duisende mense, nie net in Gauteng nie, hierdeur geraak word.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê al hierdie geld en moeite kon voorkom gewees het indien die plaaslike munisipaliteite in Emfuleni (Vanderbijlpark) en Ngwathe (Parys) bevoeg was en hul werk gedoen het.

Emfuleni is verlede jaar onder administrasie geplaas en het in alle opsigte in duie gestort.

Soortgelyke plasings