|

Upington-gemeenskap ruk op vir behoud van Sakkie se Arkie

Sowat 300 gemeenskapslede het gister aan ‘n vreedsame optog na die Dawid Kruiper Munisipaliteit in Upington opgeruk om die gewilde Sakkie se Arkie-toeristebestemming van ondergang te red.

Upington se AfriForum- en AfriForum Jeug-tak het in samewerking met die Red Sakkie se Arkie Aksiegroep (RSAA) en gemeenskapslede ’n petisie met meer as 2 300 handtekeninge aan Limakatso Koloi, burgermeester van Upington, oorhandig.

Met dié petisie versoek AfriForum, AfriForum Jeug en RSAA dat die munisipaliteit binne sewe dae met hulle vergader om ’n alternatiewe oplossing te vind, buiten die hangende hofsaak oor ’n huurooreenkoms, om Sakkie se Arkie in Upington te behou. Die munisipaliteit het die petisie en memorandum ontvang en beloof om die groep binne sewe dae te antwoord.

Die huurooreenkoms was tussen Sakkie Spangenberg, eienaar van Oranje Rivier Watersport, en die Dawid Kruiper Munisipaliteit. Die erf is ná die verstryking van die huurooreenkoms op tender geplaas. Spangenberg het nie die opsie gekry om dit te koop nie.

Luidens mediaberigte het Patrick Williams, munisipale woordvoerder, gesê dat die petisie op die volgende raadsvergadering voorgelê sal word. Volgens Williams het Spangenberg onsuksesvol probeer om die tender waarvolgens die erf verkoop is, te betwis en wou dus nou onwettig sake doen op die erf.

Die suksesvolle tenderaar het volgens Spangenberg gesê dat hy bereid is om Spangenberg op die erf te akkommodeer. Spangenberg erken sy boot is steeds in die rivier by die erf.

“Ons wil graag hê dat Sakkie se Arkie behoue moet bly aangesien die gemeenskap deur hierdie boot toegang tot die rivier het. Dit is ook die kanoklub se tuiste en die Arkie is ’n gewilde toeriste-aantreklikheid,” sê Werner Strauss, optogleier van RSAA.

“Ander toeriste het op pad na Namibië, die Kgalagadi Oorgrenspark of Namakwaland spesiaal oornag om ’n aand op Sakkie se Arkie deur te bring en die sonsondergang te beleef.  Ons vra dat die munisipaliteit ’n alternatiewe stuk munisipale grond, soos ’n gedeelte van Rosepark op Die Eiland, aan Sakkie se Arkie afstaan. Ons moet dit behou.”

Soortgelyke plasings