Upington-gemeenskap eis alternatiewe vir die behoud van Sakkie se Arkie


Upington se AfriForum- en AfriForum Jeug-tak het op 16 Augustus tydens ’n optog in samewerking met die Red Sakkie se Arkie Aksiegroep (RSAA) en ongeveer 300 gemeenskapslede van Upington ’n petisie met meer as 2 300 handtekeninge aan die Dawid Kruiper Munisipaliteit oorhandig.
Met dié petisie versoek AfriForum, AfriForum Jeug en RSAA dat die munisipaliteit binne sewe dae met hulle vergader om ’n alternatiewe oplossing te vind, buiten die hangende hofsaak, om Sakkie se Arkie in Upington te behou. Die munisipaliteit het die petisie en memorandum ontvang en beloof om die groep binne sewe dae te antwoord.
Dié optog volg nadat die munisipaliteit die grond waarvandaan die boot bedryf word na bewering verkoop het en geen ander opsies vir die behoud van die Arkie wou bespreek nie.

“Ons wil graag hê dat Sakkie se Arkie behoue moet bly aangesien die gemeenskap deur hierdie boot toegang tot die rivier het. Dit is ook die kanoklub se tuiste en die Arkie is ’n gewilde toeriste-aantreklikheid,” sê Werner Strauss, optogleier van RSAA.
“Alhoewel burgemeester Limakatso Koloi aangedui het dat sy vir Sakkie skriftelik oor hierdie kwessie sal beantwoord, wil die aksiegroep graag met rolspelers vergader ten einde ’n werkbare oplossing te kry ter behoud van Sakkie se Arkie. Dit wil voorkom asof die munisipaliteit nie die aksiegroep se versoek om ’n vergadering te hou ter harte neem nie en steeds die roete van ’n hofsaak wil inslaan,” sê Marike van As, AfriForum Jeug se koördineerder vir Upington.

Soortgelyke plasings