Spyskaart +

Universiteit is meer as taal

Februarie 1, 2017 deur Anita Erasmus

Deur: Dirk Hermann

’n Senior span van ’n groot mynhuis het Solidariteit onlangs besoek. Groot was my verbasing toe een van my universiteitskennisse, Martin Krause, deel van die span was. Ons het albei aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer.

Martin is in alle opsigte ’n boerseun en ons het op universiteit vir mekaar gegrom uit die vestings van die twee mees tradisionele koshuise op die universiteitskampus, Hombré en Overs.

Albei van ons het in arbeidsverhoudinge studeer, en albei van ons het “ekstra grade” deur die georganiseerde studentelewe verwerf.

Destyds was die universiteit nog uitgesproke Christelik en goeie waardes en etiek is aan ons oorgedra. Ons is geleer dat die universiteit jou voorberei vir jou roeping en nie bloot vir jou beroep nie.

Martin het die korporatiewe leer vinnig geklim. Ek is seker dat waardes soos integriteit, selfverantwoordelikheid, harde werk en roepingsgedrewenheid wat op universiteit by ons vasgelê is, die handvatsels was waarmee hy teen die leer uitgeklim het.

Uit die aard van die korporatiewe kultuur van die maatskappy praat hy Engels soos ’n Engelsman en ons praat sommer Engels met mekaar ook.

Die mynhuis se span het Akademia besoek. Die Akademia-model het hulle beïndruk. Met vraetyd is Martin se hand op: “Sal studente nie beter toegerus wees vir die korporatiewe wêreld indien Akademia in Engels klasgee nie?” vra Martin in perfekte Engels en met ’n bykans Britse aksent.

“Die antwoord lê in jou,” antwoord ek Martin. “Nee, ek wil die antwoord by jou hê,” antwoord Martin met ’n vraagteken op die voorkop.

“Die antwoord lê in jou. Jy het in Afrikaans studeer. Omdat jy in Afrikaans kon studeer, kon jy meer abstrakte konsepte beter onder die knie kry. Statistiek was reeds Grieks en ons kon dit baasraak omdat ons dit in Afrikaans kon studeer. Daarbenewens het die kultuur rondom Afrikaans jou gevorm om die korporatiewe leer beter te klim. Wanneer ek na jou luister, kan ek hoor dat die oorgang na Engels glad verloop het. By Akademia wil ons nog Martins oplei – uitnemend in Afrikaans, toegerus met kennis en waardes en idees om suksesvol te wees en ’n bydrae in die wêreld daarbuite te lewer.”

Daar lê ’n stuk naïwiteit in Martin se vraag. Universiteitsopleiding word gereduseer tot taal, maar die vorming van ’n universiteitstudent is in veel meer as taal gesetel.

Die huidige taaldebat by universiteite is geen taaldebat nie, maar ’n debat oor idees. Afrikaans is ’n struikelblok tot ’n groter transformasieproses, naamlik die dekolonialisering van universiteite. Engels as onderrigtaal is bloot ’n voorwaarde vir die volgende vlak van verandering, naamlik transformasie of rasseverteenwoordigendheid, wat weer op sy beurt ’n voorwaarde vir die dekolonialisering van universiteite is.

Die debat anderkant die taaldebat word gevoer omdat daar baie goed besef word dat die student nie deur taal gevorm word nie, maar deur die volle akademiese en nie-akademiese kurrikulum.

Shose Kessi, senior lektor in sosiale sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad, skryf: “Universiteite is sleutelinstellings in die gemeenskap. Die verwydering van standbeelde is nie genoeg nie; universiteite moet gedekolonialiseer word.

In plaas van transformasie moet daar eerder gepraat word van die dekolonialisering of Afrikanisering van universiteite. In Afrika word baie universiteite gebou, maar geeneen daarvan is Afrika-universiteite nie,” sê Kessi.

Kessi redeneer verder dat gekyk moet word na die rol wat universiteite in die dekolonialisering van die gemeenskap speel. Studente speel ’n sleutelrol om verandering in die gemeenskap teweeg te bring. Studente moet dus self gedekolonialiseer word.

Die dekolonialiseringskool van denke argumenteer verder dat universiteite in Westerse waardes en denke gewortel is en daarom geafrikaniseer moet word.

Die dilemma waarmee die dekolonialiseringskool sit, is dat daar nie ’n pre-gekolonialiseerde antwoord vir universiteite is nie. Hulle weet dus wat hulle wil afbreek, maar het geen alternatief wat hulle kan bou nie.

Die noodwendige gevolg is anargisme. Die veranderingspad van Suid-Afrikaanse universiteite kan niks anders wees as ’n hobbelrige pad van anargisme, op pad na iets wat niemand nog weet wat dit is nie.

Daar is skaars besluit om die pad van Engels te stap of die universiteite van Pretoria en die Vrystaat hou seminare oor dekolonialisering. Die verandering is dus nie Engels nie, maar ’n totale waardeverandering, net soos die verwydering van Rhodes by die Universiteit van Kaapstad nie die einde van die verandering was nie, maar die begin.

Besluite oor Engels is nêrens geneem om studente van die nodige taalvaardighede te voorsien om aan die wêreld daarbuite deel te neem nie. Engels bly bloot die voorwaarde om ’n pad na dekolonialisering te stap en om die nuwe waardes aan studente oor te dra sodat hulle, soos Kessi meen, veranderingsagente in die gemeenskap kan wees.

’n Student se besluit om by ’n spesifieke universiteit te gaan studeer kan dus nooit bloot wees oor die taal waarin onderrig plaasvind nie; dit moet ook gaan oor die waardes en idees wat die akademiese en nie-akademiese kurrikulum omvou.

Afrikaans is ’n struikelblok vir dekolonialisering, nie bloot oor die taal nie, maar ook oor die waardes en idees rondom Afrikaans. Ongeag of dit uitgesproke is of nie, waardes rondom Afrikaanse akademie omvat histories ’n sterk Christelike waardestelsel met sy wortels in die Westerse tradisie.

Die gewraakte Wessels-verslag het nie Afrikaans by die Noordwes Universiteit skuldig bevind nie, maar die waardes en kultuur wat daarmee saamgaan en het bevind dit moet met wortel en tak uitgeroei word.

Universiteite is nie waarde-neutraal nie. In Suid-Afrika gaan openbare universiteite ook nie bloot mooi liberale Engelse universiteite wees nie. Ironies genoeg is Engels bloot pragmaties gekies om die voertuig te wees om te dekolonialiseer en om te Afrikaniseer, want Afrika-tale het nog nie universiteite ontwikkel nie.

Daar is tientalle voorbeelde van mense wat wêreldklasprestasies bereik het en in Afrikaans studeer het, waarskynlik in meeste gevalle ómdat hulle in Afrikaans studeer het:
Anton Rupert en Christo Wiese, voorste Suid-Afrikaanse sakelui; Koos Bekker met sy wêreldsukses; Johan van Zyl, die eerste nie-Japanner in Toyota se direksie; Marius Klopper, voormalige hoof uitvoerende beampte van BHP Billiton; Nicky Newton-King, die eerste vroulike grootbaas van die JSE; en Santie Botha in die sakewêreld.

Dan is daar wêreldbekende wetenskaplikes wat in Afrikaans studeer het:
Etienne Rossouw (chemie), dr. Francois Durand (paleontologie), dr. Jan Bonsma (landbou), Johannes Stegmann (chemie), Johannes van der Merwe (fisika), Louis Barendse (sterrekunde), dr. Louw Alberts (kernwetenskap), dr. Wally Grant (fisika/kernwetenskap), dr. Nic von Wielligh (kernfisika) en dr. Japie van Zyl, ruimtetegnoloog en hoof van die navorsingseenheid by Nasa.

Die akademiese voordeel van moedertaalonderrig, vermenigvuldig met die waardes en idees wat die universiteit aan hom oorgedra het, was verantwoordelik vir Martin en die meeste van bogenoemde mense se suksesverhaal in die korporatiewe of akademiese wêreld. Dit is daardie suksesverhaal wat Akademia na ’n volgende vlak wil neem – studente wat suksesvol is in hul werk, maar ook in hul gemeenskap.

Om te sê dat ’n student in Engels moet studeer om beter in die wêreld te presteer, is ’n lui en naïewe argument.

Dirk Hermann is die bestuurshoof van Solidariteit.