--> -->
Spyskaart +

Unisa-taalhofsaak

Februarie 26, 2018 deur Alet Rademeyer

Die tydperk 2016/2017 is gekenmerk deur ʼn radikale afskaling van Afrikaans op hoëronderwysvlak. AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het hierop gereageer deur regsaksies teen die Universiteite van die Vrystaat (UV), Pretoria (UP) en Suid-Afrika (Unisa) in te stel. Op 1 Desember 2016 het die Pretoriase hoë hof in die guns van UP se Engelstalige taalbeleid beslis, en op 10 Maart 2017 het dieselfde hof AfriForum se aansoek vir verlof tot appèl teen dié beslissing geweier. In dieselfde jaar, op 29 Desember, het die Konstitusionele Hof ten gunste van die UV se slegs-Engels-taalbeleid beslis, en op 19 Maart vanjaar kom die saak oor die grondwetlikheid van Unisa se taalbeleid in die Pretoriase hoë hof voor.

AfriForum voel sterk oor Unisa se taalsaak weens die volgende redes:

  • Omdat Unisa ’n korrespondensie-instelling is, kan daar geen sprake van segregasie of spanning op die kampus wees nie. Die hof sal dus verplig wees om oor die taalregte op ’n meer suiwer basis uitspraak te lewer.
  • In 2016 was daar tussen 20 000 en 30 000 studente wat gekies het om modules in Afrikaans aan Unisa te volg. Presiese syfers is soms moeilik bekombaar omdat Unisa die afgelope twee jaar groot probleme met sy registrasiestelsel ervaar het.
  • Die aard van die studente wat aan Unisa studeer, verdien ook spesiale aandag. Baie van hulle is ouer mense in afgeleë gebiede of in gevangenisse of buite Suid-Afrika wat gedwing word om hulself verder te bekwaam met die oog op ’n volhoubare loopbaan. Daar is geen ander Afrikaanse opsie vir hulle nie, en slegs baie beperkte ander studie-opsies oor die algemeen. Van die amptenare en andere op die platteland werk in totaal Afrikaanse werkomgewings en het hulle lewe lank nog min professionele blootstelling aan Engels gehad. Hulle het ook nie ’n behoefte aan Engels nie, want hulle werksomgewing is Afrikaans.
  • Unisa onderneem, soos die residensiële universiteite, om tutoriale hulp en woordelyste aan studente in ander tale as Engels te verskaf. Afgesien van die ontoereikendheid van hierdie “oplossing”, moet die unieke omstandighede van die studente weer in ag geneem word. Die meeste van hulle is voltyds in diens. Om toegang tot tutoriale hulp te kry, moet hulle dus werktyd vry neem en op eie koste reis, oproepe maak of elektroniese media daarvoor gebruik. Dit stel veel groter uitdagings as vir ’n student wat op ’n kampus ná ’n klas gou by ’n tutor kan aanklop.

Jy kan ook help deur tot die Regsfonds by te dra deur “Unisa” te SMS na 38313 en R10 te skenk!

Kyk ook gerus na die volgende videoinsetsels:

Prof. Hennie Strydom: Internasionale opsies vir taalregtebeskerming.

Prof. Theo du Plessis: Die sin van litigasie as onderdeel van taalregteaktivisme.

Prof. Elirea Bornman: Moedertaalonderwys en identiteit: Redes vir en probleme met die keuse van Afrikaans as taal van onderrig.

Adv. Albert Lamey: Afrikaans as wetenskapstaal in mediese praktyk en bediening van die publiek.