|

Uitsprake deur politici skep klimaat vir plaasaanvalle en –moorde

Peter Mokaba ANCYL policy workshop 0G0A5612 0G0A5636 0G0A5654 0G0A5660 0G0A5698 0G0A5762 SAFRICA-ANC-100YEARS-POLITICS-HISTORY fdjulius7_image

’n Verslag is pas deur die burgerregte-organisasie AfriForum vrygestel waarin die verband tussen haatspraak deur politici en plaasmoorde vir die eerste keer onthul word.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het op ’n nuuskonferensie in Centurion, voorbeelde uitgelig waar aanvallers rassistiese uitlatings tydens plaasaanvalle gemaak het.

Luidens dié verslag kan daar nie ontken word dat haatspraak en gewraakte uitlatings deur politici tot geweldsmisdade aanleiding kan gee nie.

In die geval van Leon Koekemoer wat in 2010 op sy plaas buite Cullinan aangeval is, het die aanvallers geskreeu: “Die white man! Viva Malema!”

In Junie 2014 het Knowledge Paulus Mandlazi (26) erken dat hy vyf boere tussen Maart en Junie 2012 vermoor het. Hy het in sy verhoor gesê dat sy haat vir wit mense hom dit laat doen het.

Roets het gesê dit sal onakkuraat wees om aan te voer dat alle plaasmoorde deur ras- of politieke faktore gemotiveer is. Dit sal egter net so onakkuraat wees om voor te hou dat die politieke klimaat wat tans in die land heers, irrelevant is wanneer dit by die veiligheid van boere kom.

Roets het verwys na ’n vorige regeringsverslag wat in 2003 gepubliseer is en waarin tot die slotsom gekom is dat 89,3% van plaasaanvalle deur roof gemotiveer is.

Hy meen dit is misleidend en 14 jaar ná die uitreiking van dié verslag is die motiewe vir plaasmoorde nie behoorlik ondersoek nie wat die debat oor plaasaanvalle en –moorde betekenisvol beperk.

Roets het gesê terwyl AfriForum se jongste verslag nie tot die uitsluitlike gevolgtrekking kom dat plaasaanvalle en –moorde in die algemeen deur ras- en politieke faktore gemotiveer is nie, moet in ag geneem word dat Suid-Afrika ly onder ’n kultuur van geweld. Daarbenewens word ’n klimaat van geweld teenoor wit mense, en wit boere in die besonder, verromantiseer en van openbare platforms aangemoedig.

Roets het ook na grondhervorming verwys en gesê hoewel dit nie die fokus van die verslag is nie, is dit ’n onderliggende tema rondom plaasmoorde.

Hy het ook verwys na valse bewerings en beskuldigings wat gereeld teen wit mense gemaak word. Dit sluit in dat wit mense die grond in die land gesteel het, dat wit boere hul werkers in die algemeen swak behandel, dat ekonomiese beleide van Zimbabwe ook in Suid-Afrika toegepas moet word, dat wit mense volksmoord in Suid-Afrika gepleeg het en dat wit mense ten doel het om die waardigheid van swart mense te steel.

Roets het statistieke voorgehou wat aantoon dat boere van die kwesbaarste groepe ter wêreld is en van die hoogste moordkoerse per 100 000 mense het.

Hy het ook na die prioritisering van plaasmoorde as misdaad verwys en gesê al die ooreenkomste en samesprekings met rolspelers soos die regering en politici help niks as daar nie op grondvlak ’n verandering kom nie. “Die regering se stilswye oor die krisis is verstommend en ons kan nie langer ontken dat ’n klimaat geskep word waar dit mode en aanvaarbaar geword het om geweld teen wit mense te pleeg nie. Dit is die tendense wat ons waarneem.”

Hy het gesê die doel met die verslag is om die debat rondom plaasmoorde te help lei en om politieke leiers tot verantwoording te roep.

Soortgelyke plasings