|

Uitspraak voorbehou in minagtingsklag teen Ernst Roets

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, se weergawe dat hy die ou vlag in Augustus vir “akademiese doeleindes” in ’n twiet gebruik en ’n vraag daarby gestel het, behoort aanvaar te word, het adv. Cedric Puckrin vandag namens hom in die Johannesburgse hooggeregshof aangevoer.

Volgens Puckrin was die onlangse uitspraak in die gelykheidshof dat die vertoon van die vlag op haatspraak neerkom. Dié uitspraak het egter nie die vertoon van die ou vlag verbied nie.

Puckrin het ook aangevoer dat Roets die plasing vanaf sy private twitter-rekening gemaak het en dat AfriForum dus nie ook aangekla kan word nie.

Die Nelson Mandela-stigting (NMS) het ’n klag van minagting van die hof teen Roets ingedien ná die plasing van die twiet met die woorde: Het ek nou net haatspraak gepleeg?

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, namens die NMF, het aangevoer Roets het die twiet doelbewus geplaas en daarmee die uitspraak en die regter in die saak ondermyn. “Hy was uitlokkend en het die waardigheid van die hof aangetas.”

Hy het gesê dis ’n misdaad om hofuitsprake nie te eerbiedig nie en Roets behoort tronkstraf van 30 dae opgelê te word.

Regter Colin Lamont het hierop aan Ngcukaitobi gevra of dit inderdaad ’n gepaste straf sal wees.

Oor Roets se weergawe dat hy die ou vlag en ’n vraag daarmee saam vir akademiese doeleindes getwiet het, het Ngcukaitobi dit as “snert” afgemaak.

Puckrin het gesê in die lig daarvan dat AfriForum teen die gelykheidshofuitspraak geappelleer het, behoort daar nie nou ’n bevel gemaak te word nie. Hy het ook daarop gewys dat daar nie sprake van deurlopende minagting is nie.

Puckrin het ook geargumenteer dat enige vonnis in vandag se saak onbehoorlik sal wees.

Roets het gesê die feit dat die NMS op ’n dringende basis hof toe gekom het en wil hê dat hy selfs tronk toe gestuur word, is ’n aanduiding dat die stigting nie werklik in versoening belangstel nie. Hy het ook gesê terwyl daar op die oomblik dinge in die land aan die gang (opstande, plundering en aanvalle) is wat werklike pyn vir swart mense veroorsaak, swyg die NMS eerder daaroor en teiken hulle burgerlike aktiviste wat vir vryheid van spraak opstaan.

Lamont het uitspraak voorbehou.

Soortgelyke plasings