| | |

Uitspraak voorbehou in AfriForum en Solidariteit se hofsaak teen Toerismedepartement

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het vandag uitspraak voorbehou in AfriForum en Solidariteit se dringende hersieningsaansoeke teen die Departement van Toerisme se gebruik van ras as maatstaf vir die toekenning van COVID-19-hulp aan toerisme-ondernemings. Regter Jody Kollapen het onderneem om voor die einde van die week uitspraak in hierdie saak te gee.

AfriForum se regspan het tydens vandag se verhoor onder meer aangevoer die Departement se hulpfonds se uitgesproke doel is om bystand aan toerisme-ondernemings te gee wat nadelig deur COVID-19 geraak word. Aangesien almal, ongeag hulle ras, nadelig deur COVID-19 geraak word, kan die Departement nie Artikel 9(2) van die Grondwet, wat regstelling van diskriminasie uit die verlede regverdig, gebruik om diskriminerende hulpverlening te regverdig nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, glo AfriForum en Solidariteit het ’n baie sterk saak gestel. “AfriForum voel egter so sterk oor hierdie saak dat, sou dit nodig wees, ons bereid is om die saak enduit tot in die hoogste hof te beveg.”

Kriel het daarop gewys dat dit oneties is dat die regering graag minderhede se belastinggeld invorder, maar dat hulle sonder om te huiwer teen dieselfde minderhede diskrimineer wanneer belastingbetalers se geld aangewend word. “Dit is ook skokkend dat die regering selfs in ’n tyd waar almal in die land saam teen COVID-19 as gemeenskaplike vyand behoort te staan, besluit het om selfs hulpverlening aan sukkelende ondernemings te misbruik om ’n rasse-agenda te bevorder.”

AfriForum het reeds op 7 April 2020 vir Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die Minister van Toerisme, asook die Departement op terme geplaas oor SEB- en ander vereistes. Volgens Kriel het die Minister en Departement nie op AfriForum se skrywe gereageer nie en het AfriForum nou geen ander keuse as om met vandag se hofaksie voort te gaan nie.

AfriForum moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds by www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx om verligting aansoek te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na afriforum@afriforum.co.za stuur.

  • Kyk die hofsaak hier.

Soortgelyke plasings