Uitspraak voorbehou in AfriForum se hofsaak oor Afrikaans by Unisa


Uitspraak is voorbehou in die saak van AfriForum teen die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eentalige Engelse taalbeleid. Die saak is vandag in die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria aangehoor. Unisa se nuwe taalbeleid bepaal dat Engels die enigste primêre onderrigtaal aan dié instelling is, wat die uitfasering van Afrikaans sal beteken.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, kom dit op ’n growwe skending van Afrikaanse studente aan dié instelling se internasionaal erkende taalregte neer.

“Unisa het oor dekades die vermoë om modules in Afrikaans aan te bied, vervolmaak. Met die nuwe beleid gee die universiteit ’n reusestap agteruit na eentaligheid, tot die nadeel van Afrikaanse studente, maar ook alle ander sprekers van inheemse Suid-Afrikaanse tale. AfriForum hoop dat hierdie saak in die burgerregte-organisasie se guns beslis sal word sodat toegang tot tersiêre studie uitgebrei word, eerder as om eerstetaal Engelssprekendes verder te bevoordeel en die meer as 90% ander Suid-Afrikaners soos tweedeklasstudente te behandel deur hulle te dwing om in ’n tweede taal te studeer.”

Bailey verwys na die hersiene nasionale taalbeleid vir hoër onderwys wat tans, soos aangekondig in die Staatskoerant van 23 Februarie 2018, vir openbare kommentaar beskikbaar is.

“Die konsepbeleid maak juis voorspraak vir breër taalbemagtiging en erken Afrikaans as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal. Unisa se besluit ten gunste van ’n eentalige taalbeleid druis lynreg hierteen in. Verder is Unisa uitnemend geskik om volwaardige meertalige onderwys in verskeie tale aan te bied, omdat dit ’n afstandsonderriginstelling is waar sogenaamde gesegregeerde klasse nie, soos by die Universiteit van die Vrystaat (UV), as verskoning vir eentaligheid gebruik kan word nie.”

Bailey versoek die publiek om AfriForum en die beskerming van Afrikaanse taalregte met R10 te ondersteun deur die woord “Unisa” na 38313 te SMS.

Soortgelyke plasings