--> -->
Spyskaart +

In tyd van krisis is daar nie plek vir koek- en teegesprekke

Mei 5, 2015 deur Alet Rademeyer

Net so lief as wat hy die land het, so kwaad is hy oor die wyse waarop dit nou regeer word.
So het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gister by ’n krisisberaad van die Solidariteit Beweging in Pretoria gesê.
Die beraad by die Voortrekkermonument word deur 1 500 mense bygewoon en het ten doel om na oplossings te soek vir die toenemende staatsverval en agteruitgang in die land.
Hermann het gesê hy is van Afrika soos sy voorgeslagte. Sy eerste voorvader Hans het in 1657 in die land aangekom.

“My agterdeur is toe. Ek gaan nêrens heen nie. Weggaan is nie ’n opsie nie. Die feit dat ek geen alternatief het nie, is my geheime wapen vir ’n toekoms in die land.”
Hermann het gesê hy is lief vir die land en dit is hier waar hy wil kerk toe gaan en God in sy taal wil aanbid. “Afrikaans is ’n inheemse Afrikataal wat ek hier kan gebruik en uitleef. Ek wil hê my kinders moet in hul moedertaal onderrig word.”
Hermann het gesê die uitdagings in 2015 is anders as in 1652. Dit is anders as in die tyd van die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die opstaan na die oorlog, in die depressietyd en in die tydperk van die groot republiek. “Die uitdagings is nie groter nie, maar wel anders.”
Die groot republiek van 1961 is nog vars in die geheue. Dit was die tyd van groot leiers, groot staatsgeld, groot politieke partye en groot mag.
“Ons antwoord lê opgesluit in die tydperk tussen die republieke – die tydperk tussen die Boererepublieke en die groot republiek van 1961. Dit is die tydperk toe die gemeenskap self betrokke was by hul eie toekoms en self plekke geskep het waarbinne hulle kon leef.”
Volgens Hermann is die tydperk ook gekenmerk deur ’n diep geloof en vertroue in die toekoms. “Mense het gedoen wat hulle moes doen en het dan op die Here vertrou.”
Hy het verwys na mense wat na die oorlog opgestaan het en self verantwoordelikheid geneem het om eie ruimtes te skep. In 1915 is die Helpmekaarfonds en ’n Afrikaanse koerant, Die Burger, gestig. Die Armblanke Verbond wat met werkplasing gehelp het, is in 1917 gestig. Daarna het die Eerste Volksbank, Santam en Sanlam gevolg. Later was daar die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut.
Daar was nie reuse bemagtigingsprojekte en regstellende aksie deur die staat nie. “Vandag beset die regering net eenvoudig bestaande instellings. Dit is nie wat Afrikaners gedoen het nie. Instellings is opgerig deur straatkollektes en die bak van koeksisters en pannekoek.”
Hermann het gesê as na oplossings gesoek word om in Suid-Afrika te bly, moet na die opstaantyd na die oorlog gekyk word.
Hy het etlike voorstelle gemaak wat as vertrekpunt kan dien om die debat te stimuleer.
Dit sluit in:
>Staatsafhanklikheid moet plek maak vir gemeenskapselfstandigheid.
>Afrikaners moet weer ’n gesonde historiese bewussyn ontwikkel. Die geskiedenis moet gebalanseerd aan kinders oorgedra word.
>Groot politieke idees moet plek maak vir klein dade.
>Die toekoms van die Afrikaner lê in sterk burgerlike instellings.
>Gemeenskappe moet georganiseer en gemobiliseer word om plaaslik oor regeringsfunksies wag te hou en veiligheidstrukture te vestig.
>Kreatiewe metodes moet ontwikkel word om miljarde rande se gemeenskapsbelasting te mobiliseer.
>Afrikaners moet deelnemende burgers wees aangesien isolasie geen opsie is nie.
>Afrikaners regoor die wêreld moet as ambassadeurs en nie as verraaiers gesien word nie.
>Afrikaners moet hul sin vir roeping terugkry.
Hermann het gesê daar is nie meer tyd om nonsens te verdra nie. “Ons het nie in ’n krisis meer tyd vir koek- en teegesprekke nie. Afrikaners gaan niks kry deur te bedel nie. Ons moet beding met die oog op ’n skikking.”