Twee verdagtes in Springs gearresteer weens beweerde kaartslenter


AfriForum se Springs-buurtwag het op 26 Junie 2019 in samewerking met verskeie instansies twee verdagtes gearresteer wat vermoedelik by ’n kaartslenter betrokke is.

Secure Tech Security van Brakpan was op die spoor van ’n verdagte voertuig en het die gemeenskap se hulp ingeroep. Morné Greyling, voorsitter van AfriForum se Springs-buurtwag, het op die versoek gereageer en hulle te hulp gesnel.
Danksy goeie samewerking tussen Secure Tech Security, AfriForum se Springs-buurtwag, SAPPS Security en lede van die gemeenskapsgroep Oos-Rand Ops/911 is die voertuig omsingel en twee verdagtes met moontlike gesteelde bankkaarte in hul besit in hegtenis geneem.

“AfriForum se Springs-buurtwag wil die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by veiligheidsnetwerke sodat ons Springs ’n veiliger omgewing kan maak,” sê Greyling.
“Gemeenskappe en verskillende instansies wat binne die raamwerk van die wet saamwerk, kan misdadigers van ’n gebied ontsê. AfriForum vestig om hierdie rede buurtwagte sodat gemeenskappe meer weerbaar is,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings