|

Twee van AfriForum na Nederland vir kongres

Guido Urlings, veldtogkoördineerder van AfriForum, en Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, het pas uit Groningen, Nederland, teruggekeer ná ’n baie suksesvolle besoek aan die land.

Hulle is vroeër deur die Christen Democratisch Jongeren Appel, die jeugvleuel van die politieke party, CDA, uitgenooi om ’n voorlegging te doen oor jong Afrikaners se rol en toekoms in Suid-Afrika.

Volgens Maree is hulle hartlik ontvang en was daar groot begrip vir die probleme waarmee jong Afrikaners tans in Suid-Afrika worstel. Van die temas wat bespreek is, is regstellende aksie, die miskenning en agteruitgang van Afrikaans as onderrigtaal.

Die gemeenskaplike geskiedenis van Nederlanders en Suid-Afrikaners is ook bespreek.

Maree en Urlings was veral geraak deur die feit dat die Nederlanders se siening van die probleme in Suid-Afrika algaande besig is om te verander. “Al meer mense sien die land nie meer as die reënboognasie wat die ANC vroeër voorgehou het nie. Hulle is baie meer bewus van die agteruitgang, politieke dilemmas en ekonomiese agteruitgang in die land,” het Urlings gesê.

Martijn van Helvert, ’n parlementslid van die CDA, het ook met AfriForum se afvaardiging ontmoet en daar is ooreengekom om nouer saam te werk en meer gereeld te kommunikeer om sodoende die beeld van Afrikaners meer akkuraat in die buiteland uit te beeld. Die weg is hiermee ook gebaan om AfriForum as geloofwaardige burgerregte-organisasie verder in die buiteland te posisioneer.

 

Soortgelyke plasings