|

Twee skuldig aan moord op Mpumalanga-boer

Deur: Mariska Batt

Papiki Mokwena en Eric Mtombeni is vandag deur waarnemende regter Andries Lambrechts in die Middelburg-landdroshof skuldig bevind aan die moord op Sarel Janse van Rensburg, en sal môre gevonnis word. Hulle is ook skuldig bevind aan roof, betreding van eiendom en die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Janse van Rensburg is op 18 September 2014 op die plaas Froggy Pond naby Tonteldoos, sowat 25 km van Dullstroom vermoor, kort voordat hy sy 76ste verjaardag sou vier.  Janse van Rensburg is gemartel en met ʼn yster doodgeslaan nadat hy vir die twee mans, wat kastig werk gesoek het, in sy huis gaan water haal het. Mokwena en Mtombeni is kort na die moord vasgetrek danksy ʼn spanpoging tussen plaaswerkers, boere, die GPF en die polisie.

Mokwena en Mtombeni het onskuldig gepleit op die aanklagtes teen hulle, maar die hof het egter bevind dat dié twee mans persoonlik vir die moord verantwoordelik was. Die mans se Sangoma, wie se naam onbekend is, het glo tevergeefs in die hof deur middel van rituele probeer om die beslissing in die beskuldigdes se guns te laat tel.

Janse van Rensburg se dogter, Claudine van Wyk, het bewoë buite die hof gesê dat sy en haar familie “verlig” is oor die uitspraak.

“Ek voel baie verlig, saam met die enorme hartseer. Ek dink ook aan daai twee mans se ouers, want ek weet hoe voel ouers as jou kinders jou so skok en teleurstel. Ek kan namens my broers ook praat wanneer ek sê dat ons baie verlig is om te weet dat hulle die gevolge van hul dade gaan dra. Dit gaan nie ons pa terugbring nie, maar hul sal wel boet.”

Lorraine Claasen, navorser en kriminoloog by AfriForum, het gesê die burgerregte-organisasie verwelkom die uitspraak.

“Ons is bly dit was suksesvol en dat daar vir een familie ʼn afsluiting kon wees. Baie ander families is nie so gelukkig nie.”

Claasen het gesê sy hoop dat die skuldiges lewenslange tronkstraf sonder die moontlikheid van parool vir die moord sal ontvang, en dat elkeen ’n verdere vonnis van 15 jaar opgelê sal word vir die ander oortredings. Janse van Rensburg se saak vorm deel van AfriForum se studie oor plaasmoorde, waaroor Claasen vir die afgelope jaar navorsing doen.

 

 

Soortgelyke plasings