Tshwane-metro staak inwerkingstelling van verhoogde elektrisiteitstarief


Die Tshwane-metro het Vrydag 12 Julie 2019 aangekondig dat dit van 17 Julie nie met die implimentering van die onwettige verhoogde tarief vir die 2019/2020-termyn sal voortgaan nie. Dit volg ná volgehoue druk en ’n hofsaak wat AfriForum teen die munisipaliteit aanhangig gemaak het om die proses te stop.

Die afskaffing van ’n verhoogde tarief is egter nie finaal nie en Nersa moet nog ’n tarief vir die 2019/2020-termyn goedkeur. Dié besluit sal geneem word ná die sewe werksdae wat die Tshwane-metro het om aanvullende inligting aan Nersa te verskaf oor die tarief wat dit in werking wil stel.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, verwelkom AfriForum dié aankondiging. “Ons is bly dat die verhoogde tarief nie langer gehef sal word nie. Die proses is van die begin af verkeerd gevolg. Ons verwelkom die Tshwane-metro se besluit om die vorige termyn se tarief weer toe te pas en die nodige goedkeuring van Nersa te kry voordat enige verhoging geïmplementeer word. Kragverbruikers sal nou die vorige termyn se tarief – dus sonder die verhoging – betaal.”

Mostert beklemtoon dat nog net voorafbetalende kragverbruikers deur die verhoogde tarief geraak is. Die Tshwane-metro het egter onderneem om dié verbruikers te vergoed deur die geld terug te betaal wat verbruikers ekstra vir eenhede moes betaal.

Mostert voeg by dat die metro nou op ’n skoon bladsy kan begin om ’n verhoogde tarief – wat ál Pretoria se inwoners in ag neem – in werking te stel. “Dit is jammer dat ons deur ’n hofproses moes gaan om die implementering van die tarief te staak. Ons hoop dat die metro in die toekoms beter met sy inwoners sal kommunikeer om soortgelyke optrede te vermy.”

AfriForum sal voortgaan om die proses fyn dop te hou en ook, waar nodig, aan die proses deelneem. Die organisasie sal ook in die toekoms nou saam met die metro werk om te verseker dat ’n billike tarief vir sy inwoners geïmplementeer word.
Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings