Tshwane-metro en AfriForum bereik konsensus oor tariefverhoging


AfriForum en die Tshwane-metro het vergader en beloof om saam te werk om konsensus vir albei partye te bereik rakende die implementering van die 2019/2020-elektrisiteitstariefverhogings.

As deel van die ooreenkoms het albei partye die volgende onderneem:

  • Albei partye sal kwartaallikse vergaderings hou om te verseker dat daar duidelike kommunikasiekanale gevestig word met betrekking tot die saak.
  • Fooie sal vir inwoners gehef word volgens die 2018/2019-tariewe soos deur Nersa goedgekeur.
  • Die Tshwane-metro sal voorafbetaalde verbruikers wat die verhoogde tarief moes betaal met eenhede krediteer.
  • Albei partye wag op Nersa vir die goedkeuring van die 2019/2020-tariefverhoging om geïmplementeer te word

Aangesien AfriForum en die metro op hierdie bepalings ooreengekom het, gaan die organisasie nie meer voort met die hofstryd teen die metro om die voorgestelde tariefverhoging te probeer verhoed nie. Deur die hofsaak te laat vaar skep AfriForum ’n meer bevorderlike omgewing vir interaksie met die metro. 

Volgens Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, was dit ’n positiewe vergadering en hoop hy dat dit tot goeie samewerking in die toekoms sal lei. “AfriForum is altyd gewillig om saam met die metro te werk ten einde te verseker dat ons lede se regte beskerm word. Ons hoop dat ons voortaan sulke kwessies kan oplos voordat ons die punt bereik waar die howe genader word.”

Die beraadslagings met AfriForum is ’n aanduiding dat daar aan die einde van enige meningsverskil ’n erkenning is dat alle gemeenskappe deel van een Tshwane is wat uit verantwoordelike inwoners en vennote bestaan.    

Soortgelyke plasings