Tshwane-metro: AfriForum staan buitensporige tariefverhogings teen


Die Tshwane-metro het die afgelope maand drie verskillende elektrisiteitstariefverhogings vir die 2019/2020-termyn aangekondig. Dié tariefverhogings sluit ’n elektrisiteitsverhoging van 12% in met drie basiese tariefheffings van onderskeidelik R56, R120 en R200 wat betaalbaar is voordat enige krag verbruik word. AfriForum staan dié buitensporige verhogings teen en doen ’n beroep op Nersa om die verhogings af te keur. Die organisasie sal ook met sy regspan konsulteer om die verhogings, indien dit goedgekeur word, tersyde te stel. Die nuwe tarief tree op 1 Julie 2019 in werking.

Die basiese tarief beteken dat kragverbruikers dié tarief sal betaal voordat enige elektrisiteit verbruik word. Vir koopkragverbruikers beteken dit indien jy R56, R120 of R200 se krag aankoop, jy geen eenhede sal ontvang vir die kragaankope nie en bykomende krag sal moet aankoop voordat jy enigsins eenhede ontvang.
Die eerste verhoging wat aangekondig is, het in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) verskyn en sluit ’n basiese tarief van R56 in wat op alle verbruikers van toepassing is. Die tweede aankondiging het op 19 Junie 2019 in die Staatskoerant verskyn en sluit ’n basiese tarief van R200 in. AfriForum het verder deur ’n PAIA-proses ’n derde basiese tariefverhoging van R120, wat die metro voorgestel het, bekom. Volgens AfriForum se berekeninge sal die basiese heffing van R56 soos in die GOP voorgestel nie ’n probleem wees nie en mag verbruikers dalk minder betaal as voorheen, maar die ander twee voorgestelde basiese tariefheffings sal nie die afsnypunt van 13,8% haal nie.
Nersa se riglyne vir elektrisiteitsverhogings stel ’n voorgestelde verhoging van 13,8% vir munisipaliteite voor om te verseker dat dié verhogings nie buitensporig raak nie. Die probleem met die basiese tariefheffings, soos deur die metro voorgestel, is egter dat die persentasie verhoging van kragverbruikers heelwat meer sal wees as die voorgestelde 13,8%.
Spesifieke prosesse soos onder meer openbaredeelnameprosesse, wat die publiek die geleentheid gee om insette op die verhoging te lewer, moet eers gevolg word alvorens Nersa die verhoging kan goedkeur.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, poog die metro om verbruikers veel meer te laat betaal as wat deur Nersa voorgeskryf word.

“AfriForum glo die Tshwane-metro het op ’n slinkse wyse ’n manier gekry om verbruikers veel meer te laat opdok as die toegelate 13,8%. Die heffings van R200 en R120 is skerp verhogings van die voorgestelde R56 en blyk onredelik te wees en kan nie geregverdig word nie.”

Nersa sal teen 28 Junie 2019 besluit of die voorgestelde tariefverhoging geïmplementeer sal word.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Pretoria om die verhogings teen te staan. Voeg jou stem by die klagte deur hierdie skakel te volg en help om AfriForum se hand sterker te maak: https://afriforum.co.za/tshwane-elektrisiteitverhogings-afriforum-staan-dit-teen/.

Soortgelyke plasings