--> -->
Spyskaart +

Transformasie deur veeltaligheid in die Suid-Afrikaanse regstelsel, tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

Desember 7, 2018 deur Mareli Rall

Verwerking van artikel, Considering an appropriate language policy for judicial proceedings in South Africa (2016), deur professor Koos Malan. Verwerk deur Annelise de Vries.

In ’n demokratiese land is dit belangrik om te besef dat die howe in die diens van die gemeenskap staan wat hulle dien, nie andersom nie. Dus, indien ons daarop wil roem dat Suid-Afrika ’n demokratiese land is, kan ons nie anders nie as om ons regstelsel só in te rig dat sprekers van alle amptelike tale daardeur gedien word.

Taalbeleide in Suid-Afrikaanse howe moet eerstens daarop gemik wees om die regte van alle partye wat in die howe verskyn, te beskerm, tweedens effektiewe administrasie van die regsproses te bevorder en derdens, alle amptelike landstale te beskerm én te bevorder. Taalbeleide wat op dié drie punte gemik is, sal die gelyke toegang tot die regstelsel vir alle Suid-Afrikaners verseker. Daarenteen, indien ’n sekere groep of groepe uitgesluit word op grond van hul taal, kan die Suid-Afrikaanse regstelsel as onkonstitusioneel beskou word.

In die lig gesien van die hoofregter se aankondiging in 2017 dat Engels voortaan die enigste taal van rekord in Suid-Afrikaanse howe sal wees én die status quo met betrekking tot taalbeleide in die Suid-Afrikaanse howe, kan die afleiding gemaak word dat daar teen meer as 90% van Suid-Afrikaners gediskrimineer word.

Is dit nie dalk ’n ongegronde bewering om te maak nie? Nee, nie as daar na die Konstitusionele en wetgewende taalbepalings gekyk word nie.

Artikel 6(2) en 6(4) van die Grondwet

Volgens artikel 6(2) van die Grondwet moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van inheemse te verhoog en hulle gebruik te bevorder. Dié artikel moet saam met artikel 6(4) gelees word. Laasgenoemde artikel stel duidelik dat alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word. Volgens artikel 6(2) is dit die staat se verantwoordelikheid om uitvoering te gee aan die bepalings wat in artikel 6(4) gestipuleer word. Artikel 239 van die Grondwet stel dat die “staat” alle staatsliggame in die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsfeer insluit. Liggame wat in artikel 9 van die Grondwet genoem word, word by dié staatsliggame ingesluit. Howe word ingevolge artikel 239 uitgesluit van die definisie van ’n staatsorgaan, maar omdat howe onontbeerlike segmente (conditio sine quo non) van die staat is en op hulle eie regeringsmag uitoefen, is hulle steeds onderhewig aan die bepalings van artikel 6(2). Dus moet howe óók praktiese maatreëls tref om die status van inheemse tale te verhoog en hulle gebruik te bevorder, iets wat die howe vandag op groot skaal versuim om te doen.

Daar kan verder geargumenteer word dat artikel 6(2) van die Grondwet nie na amptelike tale verwys nie, maar eerder na inheemse tale, en meer spesifiek, inheemse tale wat histories ingekort is. Dit sluit dan die Khoi, Nama en San-tale in. Hoewel hierdie tale nie amptelike tale is nie, bly dit steeds inheemse tale. In die lig hiervan word Engels uitgesluit omdat dit eerstens nie ’n inheemse taal is nie en tweedens nie ’n historiese ingekorte taal is nie. Wat dan nou van Afrikaans? Dit is tog ’n inheemse taal, maar word nie gesien as ’n historiese ingekorte taal nie, omdat Afrikaans reeds vanaf 1925 as amptelike taal aangewend is. Tog bestaan daar ’n teenargument vir die feit dat Afrikaans nie ’n historiese ingekorte taal is nie en dus nie die voordele kan geniet wat in artikel 6(2) van die Grondwet uiteengesit word nie. Ná die implementering van die huidige Grondwet is Afrikaans, in teenstelling met Engels, se gebruik op alle openbare terreine drasties verskraal. Hierdie terreine sluit in die opstel van nasionale wetgewing, as rekordtaal en vir onderrigdoeleindes. Dus is die status van Afrikaans verminder en kan dit as ’n ingekorte taal beskou word. Maar selfs al word Afrikaans nie as ’n historiese ingekorte taal beskou nie, stel die laaste deel van artikel 6(4) dat die maatreëls wat die staat moet tref, steeds nie die gelyke aansien van ander amptelike tale (in dié geval, Engels en Afrikaans) negatief mag beïnvloed nie.

Kom ons verwys na die maatreëls wat in plek gestel behoort te word deur staatsliggame waarna artikel 6(2) verwys. Die maatreëls wat in plek behoort gestel te word, word nie uitgespel nie, wat daartoe lei dat instellings wat hierdie mandaat moet uitvoer hulle eie diskresie moet gebruik oor hoe dit gedoen moet word. ’n Verdere argument kan gevoer word dat artikel 6(2) nie noodwendig beteken dat die staat alle amptelike tale as tale van rekord moet aanwend nie én dat hierdie maatreëls nie ruimte skep vir regte van mense in spesifieke taalgemeenskappe nie, maar daar rus tog ’n tweeledige verpligting op die staat:

  • Om die status van tale te verhoog en
  • die gebruik van die tale te bevorder.

Dus moet die staat se maatreëls daarop gemik wees om die hoër funksies van ’n taal in alle openbare domeine te bevorder, natuurlik ook in die howe. Dit het die laaste twee dekades toenemend meer doenlik geword om inheemse tale as tale van rekord aan te wend. Regslui onder wie regters, aanklaers, advokate en staatsprokureurs wat moedertaalsprekers van inheemse amptelike tale is, is in die hoë en laer howe aangestel, maar ten spyte hiervan is niks gedoen om die status van hierdie tale te verhoog en hul gebruik te bevorder nie.

Artikel 35(3)(k) van die Grondwet

Hierdie artikel stel dat beskuldigde persone die reg het op ’n billike verhoor in ’n taal wat dié persoon verstaan of indien dit nie doenlik is nie dat verrigtinge in daardie taal getolk sal word.

Volgens artikel 6(2) van die Wet op Landdroshowe (wet 32 van 1944), moet die hof tydens strafregtelike prosedures, ’n bevoegde tolk verskaf indien die beskuldigde nie die taal waarin hofgebeure plaasvind verstaan nie. Dieselfde prosedures word gevolg in hooggeregshowe. Artikel 35(3)(k) gee nie ’n taalreg aan ’n individu nie, maar dié afdeling kan geïnterpreteer word dat ’n individu se reg tot ’n verhoor in ’n verstaanbare taal ’n onontbeerlike bestanddeel (conditio sine qua non) in ’n individu se reg tot ’n regverdige verhoor is. Dus behoort ’n individu in ’n posisie geplaas te word waar hy optimaal kan verstaan en deelneem aan hofgebeure en nié in ’n posisie waar hy deur middel van ’n taalgrens, nie optimaal kan deelneem nie.

Om die reg tot ’n regverdige verhoor op te eis, sal die hoftaal en die taal van die beskuldigde persoon so ver moontlik dieselfde moet wees, indien tolking ter sprake kom, kan daar probleme ontstaan en dit kan tot verkeerde hofbeslissing lei. Gaan kyk maar na die reperkussies wat swak tolking gehad het tydens die Oscar Pistorius-saak. Wat tolking egter bemoeilik is die feit dat sommige konsepte in een taal, nie noodwendig dieselfde betekenis as dieselfde konsep in ’n ander taal het nie en die vertaling van daardie konsep kan moontlik ’n betekenisverandering tot gevolg hê. Verder het litigante en regters dikwels geen beheer oor die gehalte van tolking nie en dus kan foute voorkom waarvan niemand bewus is. Daar is ook bewys dat tolke dikwels nie heeltemal onpartydig is nie en vooroordele het wat die beskuldigde kan benadeel. Hierdie probleme dien as duidelike bewyse dat die gebruik van tolke geminimaliseer moet word om uitvoering te gee aan ’n individu se reg tot ’n regverdige verhoor tydens strafregtelike sake.

Artikel 34 van die Grondwet

Hierdie artikel verwys na die individu se reg tot ’n billike verhoor in siviele sake. Volgens reël 61 van die eenvormige hofreëls vir hooggeregshowe kan ’n individu tolkdienste in siviele sake aanvra indien dit nodig sou wees, maar die koste wat hoftolking sal beloop, is die verantwoordelikheid van die party wat die tolking aanvra en nie dié van die staat soos in strafregtelike sake nie. Daar bestaan nie soortgelyke stipulasies vir siviele sake in landdroshowe nie, maar dieselfde praktyk word gevolg. Anders as in strafregtelike sake, maak die Grondwet nie voorsiening vir tolking in siviele sake nie, maar dit beteken nie dat taal nie so ’n belangrike rol speel in siviele sake soos in strafregtelike sake nie. Die groot verskil is dus dat benadeling vir partye in siviele sake, m.b.t. Engels as die enigste taal van rekord, groter is as vir partye in strafregtelike sake omdat die staat nie voorsiening maak vir tolking in siviele sake nie. In baie gevalle kan litigante nie die hoë kostes van die tolking dra nie, wat daartoe lei dat sommige partye in siviele sake nie gelyke toegang tot die reg het nie.

Oorweeg die volgende scenario: Die taal van rekord is Engels. Twee isiXhosa-partye raak betrokke in ’n siviele saak. Om seker te maak dat die saak in Engels bereg word, moet albei partye reeds in die voorverhoor al die pleitstukke, beëdigde verklarings ens. in Engels opstel. Tydens die verhoor self moet die partye sowel hul getuienisse as dié van hul getuies en hul argumente in Engels voer, ten spyte van die feit dat die betrokke partye se moedertale isiXhosa is en ten spyte van hoe moeilik, vernederend en tydrowend dit ook al mag wees. In so geval word die partye gedwing om regsverteenwoordigers aan te stel wat hierdie saak namens hulle in Engels kan doen en vir hierdie dienste moet hulle natuurlik betaal. Tog los dit nie die probleem op nie, want die partye moet hul getuienis steeds in Engels lewer, en indien dit nie moontlik is nie, ’n tolk betaal om die getuienis vanuit isiXhosa na Engels te tolk. Wat van die partye wat dit nie kan bekostig nie? In terme van artikel 9(1) en 9(2) van die Grondwet geniet hierdie persone in so ’n geval nie gelyke toegang tot die reg nie.

Voorstelle vir veeltalige beleide in Suid-Afrikaanse howe

Daar word aanhoudend gesê dat veeltalige taalbeleide in howe net nie prakties moontlik gaan wees nie gegewe Suid-Afrika se diverse linguistiese landskap. Deur hierdie argument op Suid-Afrikaners af te dwing, word taal as ’n probleem beskou en nie as ’n hulpbron wat alle landsburgers gelyke toegang tot die reg sal gee nie. Wanneer taal as ’n hulpbron beskou word, word veeltalige taalbeleide in howe ’n implementeerbare opsie. Alle amptelike tale kan as tale van rekord aangewend word, in ag genome van die taaldemografie en -voorkeure van die gemeenskap waarin ’n spesifieke hof gesetel is. Uiteraard gaan daar aan ’n beter menslike hulpbronne-beleid gewerk moet word, waar regslui in diens van die staat aangestel word op grond van hul taalvaardighede en nié op grond van ras of geslag nie.

Veeltalige taalbeleide in Suid-Afrikaanse howe kan op die volgende ses maniere ’n werklikheid in Suid-Afrika word:

  1. Areas met ’n hoë konsentrasie moedertaalsprekers van ’n spesifieke inheemse taal moet deur regslui gedien word wat self daardie taal magtig is. Indien regters, landdroste, aanklaers, advokate en staatsprokureurs die taal van die gemeenskap wat hulle dien, magtig is, gaan tolking tydens hofverrigtinge geminimaliseer word.
  2. Areas wat geken word aan ’n groot aantal sprekers van meer as een taal, byvoorbeeld die Wes-Kaap (Afrikaans, isiXhosa en Engels), die Vrystaat (Sesotho en Afrikaans) en Tshwane (Afrikaans, isiZulu, Setswana en Sepedi), behoort ’n taaldiverse korps van regslui aan te stel, wat dié verskillende taalgemeenskappe wat in ’n gebied voorkom, kan dien.
  3. In spesifieke howe en landdroshowe moet rolle op so ’n manier toegeken word dat die behoeftes van die partye betrokke in die hofprosedures gedien word.
  4. Indien sake in spesifieke howe voorkom waar getuies, beskuldigdes en litigante nie dieselfde taal praat nie, kan daar van tolkdienste gebruik gemaak word, maar die bevoegdheid van die tolkdienste behoort nagegaan te word.
  5. Verder moet die praktyk daarop gerig wees om altyd voorkeur te gee aan vertaling bo tolking. Met ander woorde, wanneer ’n saak aangehoor en ’n uitspraak gelewer word in ’n spesifieke taal in ’n landdroshof, en dié saak gaan op appèl of hersiening na ’n hoë hof, moet dit vir die hoë hof moontlik wees om met die verrigtinge voort te gaan in dieselfde taal as in die landdroshof. Dit behoort verder nie nodig te wees dat hofverrigtinge na Engels vertaal word vir die hoë hof om voort te gaan met die appèl of hersiening nie, omdat daar genoeg regters is wat inheemse tale magtig is. Daar moet wel in ag geneem word dat daar ’n klein persentasie van hofverrigtinge sal wees wat wel vertaal moet word wanneer sake op appèl of hersiening gaan en daar nié beskikbare regters is wat die taal van rekord verstaan nie, maar selfs dit is beter as tolking omdat die kanse vir foute baie minder is tydens vertaling as tydens tolking.
  6. Wat dan van gerapporteerde hofsake? Dit is nie ’n ongekende feit dat uitsprake van gerapporteerde hofsake toeganklik vir alle lede van die regsprofessie behoort te wees nie. Dus, is die voorstel dat slegs gerapporteerde hofsake in Engels vertaal kan word. Hierdie hofsake maak in elk geval ’n baie klein persentasie uit en is dit dus heeltemal doenlik om hierdie sake in Engels te laat vertaal.

Ten slotte. ’n Beleid waar Engels die enigste taal van rekord is, is onkonstitusioneel en sluit meer as 90% van Suid-Afrikaners uit wat nie eerstetaalsprekers van Engels is nie. Verder sou veeltalige taalbeleide in Suid-Afrikaanse howe nie moontlik gewees het voor 1994 nie, omdat regslui van inheemse Afrika-tale nie beskikbaar was nie. Vandag lyk die prentjie egter heeltemal anders. Regslui wat moedertaalsprekers van inheemse tale is, is regoor die land beskikbaar. Ons is dus uitstekend geposisioneer om die status van amptelike inheemse tale te verhoog, en op dié manier uitvoering te gee aan die bepalings van artikel 6(2) van die Grondwet.

Prof. Koos Malan is ’n dosent in publiekereg aan die Universiteit van Pretoria.