Toetse dui aan Parys drinkwater is nie op standaard


Drinkwatertoetse wat AfriForum se Parys-tak op 1 Augustus uitgevoer het, dui daarop dat dié dorp se drinkwater nie aan die vereiste wetlike standaarde voldoen nie. Hoewel die drinkwater nie lewensgevaarlik is nie omdat dit geen E. coli bevat nie, dui  laboratoriumuitslae aan dat dit ander beperkings oorskry wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) vir bloudruppelstandaard bepaal is.
Troebelheid (3,1) en heterotrofiese plaattelling (HPC) (>30 000) oorskry die beperkings van onderskeidelik 1 en 1 000 wat deur SANS 241:2015 bepaal word. Die hoë HPC dui op ondoeltreffende of geen ontsmetting nie deur die dorp se waterwerke. Chloorkonsentrasies is egter teenwoordig, wat daarop dui dat die troebelheid moontlik met die ontsmettingsproses inmeng, wat tot hoër bakterietellings in die water kan lei.
AfriForum raai inwoners daarom af om die water te drink, tensy dit gekook of gesuiwer is.
AfriForum se Parys-tak het sedert verlede week ’n watersuiweringsproduk genaamd Rubicon aan inwoners beskikbaar gestel. Slegs een pakkie van dié ontsmettingsmiddel kan 25 liter drinkwater vir menslike gebruik suiwer.
Intussen het die tak ’n vergadering op 16 Augustus 2018 met Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder, gereël. Tydens dié vergadering sal die tak hierdie aangeleentheid asook ander kwessies oor waterstandaarde, die toestand van die Vaalrivier en algehele dienslewering met Kannemeyer bespreek.

“AfriForum wag steeds op die munisipaliteit se amptelike reaksie op die toestand van sowel Parys se drinkwater as die Vaalrivier. Ons sal aanhou om druk op die owerhede toe te pas, aangesien die gemeenskap ’n reg op skoon water en sanitasie het,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die sentraalstreek.

  • Die watersuiweringsproduk word gratis versprei en kan by Security Master se kantore by Waterstraat 24 afgehaal word.

Soortgelyke plasings