|

TOESPRAAKTYD – Eintlik die ontwikkeling van ’n wonderlike vaardigheid

Deur Carien Bloem, bestuurder van onderwys by AfriForum.

Sommige ouers lê al sedert die Desembervakansie wakker oor die kinders se nuwe toesprake wat geskryf moet word. As ’n nuwe skooljaar begin, is dit ook mos toespraaktyd. Eers uitdunne of mondelinge in die klas, en daarna die senutergende kompetisies. Ek weet nie altyd wat die ergste is nie: Die hele toespraak skryf (of koop!) en leer, of die senuwees voordat jy voor ’n volgepakte gehoor jou sê moet sê?

Dit klink maar vreesaanjaend, maar eintlik bied redevoering (of “redenaars”, soos dit in die volksmond genoem word) jou ’n wonderlike geleentheid om ’n nuwe vaardigheid aan te leer – en boonop elke jaar te verbeter!

Die regte ding is om saam met jou ma of pa, onderwyser of drama-afrigter jou toespraak te skryf.  Dit is egter baie belangrik dat jy self ook deur al die stappe werk om ’n  toespraak te skryf – en nie net die toespraak soos ’n gedig uit jou kop uit leer nie. Die kuns van redevoering is om jou toespraak te alle tye so natuurlik moontlik maar tog sterk aan jou gehoor oor te dra. Wanneer mens ’n toespraak koop, is mens geneig om nie spontaan te praat nie, maar met ’n ingeoefende ritme wat mens onnatuurlik laat klink.

Dit is ook baie belangrik om te weet hoe om ’n toespraak te skryf, aangesien dit deel is van die vaardigheid wat jy moet bemeester. Om uitstekende redeneervaardighede te bemeester, moet jy op twee dinge fokus: Jou toespraak se inhoud, en hoe jy dié toespraak aanbied.

Jou toespraakinhoud

Jou toespraak moet bestaan uit ‘n kort, treffende inleiding wat jou gehoor se aandag onmiddellik vasvang.

In die geval van ’n beredeneerde toespraak móét jy standpunt inneem en dus ten minste drie redes gee waarom jou so sterk oor die saak voel. Elke rede moet deur ’n geldige bron ondersteun word, gewoonlik iemand wat ’n kenner is en jou rede versterk.

Dit is ook doeltreffend as jy gemotiveerde humor by jou toespraak insluit.  Jou eie mening of ’n steekproef onder jou vriende om jou standpunt te versterk, werk ook soos ‘n bom!

Laastens is dit belangrik om jou redes mooi saam te vat en jou toespraak sterk te eindig.

Pasop om nie ’n inligtings-, motiverings- of vermaaklikheidstoespraak te lewer nie.  Met ‘n beredeneerde toespraak maak jy dit duidelik dat jy VIR of TEEN ’n spesifieke onderwerp is, byvoorbeeld:

Die misdaad in ons land maak my bang

of

Die misdaad in die land maak my nie bang nie.

Jou toespraakaanbieding

Soos ek reeds genoem het, moet jou aanbieding ’n natuurlike aanslag hê.  Jy moet dus so natuurlik moontlik met jou gehoor gesels – asof jy met jou vriende of ouers oor iets gesels wat vir jou belangrik is. ’n Beredeneerde toespraak is nie gedramatiseerde prosa of poësie wat uitgevoer word nie.  Natuurlik moet jy jou toespraak goed ken, maar moenie jou gehoor met ’n singerige praatstyl straf nie.

Oogkontak met jou gehoor, ’n netjiese voorkoms en regop postuur is baie belangrik. Hou ook die regte grootte kaartjies byderhand – verkieslik A6. Moet nooit met ’n papier praat nie; dit lyk baie onprofessioneel.

Waak daarteen om té vinnig te praat.  Jou gehoor wil graag duidelik hoor wat jy sê sodat hulle jou standpunt kan verstaan.

 

Gaan luister AfriForum se Podsending oor onderwys: Onderwys in gesprek.

Soortgelyke plasings