| | |

Toerismebedryf: Kommissaris se verduideliking oor gebruik van geweld is flou – AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum neem met misnoeë kennis van die verduideliking van lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, oor die onnodige hardhandige optrede teen lede van die toerismebedryf in Julie. AfriForum het op 24 Julie 2020 ’n brief aan Matakata gerig waarin dié organisasie redes versoek vir dié hardhandige behandeling nadat lede van die toerismebedryf vreedsaam betoog het, maar die SAPD hulle met ’n waterkanon, traangas en knalgranate uiteengejaag het.

Ná verskeie aanmanings aan Matakata om ’n verduideliking te verskaf, het sy eindelik op 27 Augustus in ’n brief verduidelik dat alle samekomste – buiten sekere uitsonderings – kragtens regulasie 37 van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002 verbied word. Die toerismebedryf se samekoms word nie in die lys van uitsonderings vervat nie, aldus Matakata.

“Alle deelnemers het gesigmaskers gedra, sosiale afstand van ten minste 1,5 m gehandhaaf en vreedsaam betoog. Niemand het op enige stadium hulself wangedra of eiendom en lewens bedreig nie. Tog het die SAPD dit goed geag om ’n oormaat geweld te gebruik om die groep uiteen te jaag,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

Volgens Van Dalen het grootskaalse grondgrype en betogings tydens dieselfde tydperk regoor die Kaapse metropool plaasgevind en het die SAPD in ’n mindere mate hierteenoor opgetree – en soms glad nie.

“Die SAPD se optrede tydens dié vreedsame optog – waar deelnemers as sagte teikens geïdentifiseer is – in teenstelling met hul huiwering om op te tree wanneer mense se eiendom en lewens deur kriminele en gewelddadige elemente bedreig word, dui op swak opleiding en ’n gepaardgaande onvermoë om wet en orde te kan handhaaf. In die lig hiervan neem AfriForum met misnoeë kennis van Matakata se flou verweer en verwerp haar stelling dat die gebruik van ’n waterkanon in hierdie geval deel van die gebruik van minimum geweld uitmaak,” sê Van Dalen.

AfriForum gaan genl. Khehla Sithole, die nasionale kommissaris, nader om te verneem of hy met die Wes-Kaapse kommissaris saamstem dat haar hantering van die omstandighede die begrip van “minimum geweld” ondersteun.

Soortgelyke plasings