|

AfriForum wil metropolisie-boelies vasvat en staan slagoffers by

Landsburgers is nie veronderstel om die polisie te vrees nie. Maar al hoe meer klagtes duik op van gewone mense wat deur “korrupte metropolisie-boelies met polisie-kentekens” afgetrek en geïntimideer word.

Só sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans by verskeie sake betrokke is waar wetsgehoorsame lede van die publiek onregmatig behandel is.

AfriForum het vandag ’n omvattende veldtog teen die beweerde wangedrag en magsvergrype van sekere lede van Tshwane se metropolisiedepartement (TMPD) aangekondig.

Die organisasie staan tans vir Kymie du Toit en prof. André Thomashausen van Pretoria by wat albei slagoffers van beweerde magsmisbruike deur die TMPD was.

“Du Toit en Thomashausen het onder beweerde wangedrag van sekere TMPD-lede deurgeloop en niemand is nog verantwoordbaar gehou nie. AfriForum het by hierdie sake betrokke geraak om toe te sien dat die betrokke TMPD-lede aan die pen ry om as voorbeelde te dien vir ander lede van die TMPD wat hul mag misbruik. Ons sal nie skroom om dié lede privaat te vervolg nie,” sê Nel.

Volgens Nel kan daar nie toegelaat word dat daar nie enige gevolge vir wetstoepassers is wat hul mag misbruik nie.

Du Toit en Thomashausen het vandag tydens ’n mediakonferensie by AfriForum se hoofkantoor vertel wat met hulle tydens die onderskeie voorvalle gebeur het.

Du Toit het vertel hoe hardhandig sy deur metropolisielede behandel is nadat sy in November 2019 by ’n vulstasie in Moreletapark, Pretoria, uit haar motor gepluk is. ’n Alkoholtoets was negatief, maar sy is uiteindelik van roekelose en nalatige bestuur aangekla. Sy is saam met manlike gevangenes by ’n polisiekantoor aangehou. “Ek was angsbevange en daar is vir my gesê ek sal nie die nag oorleef nie.

“Ek doen wat ek nou doen om te keer dat iemand anders in ’n soortgelyke situasie beland en moet deurgaan waardeur ek is. Polisie-brutaliteit moet eindig. Dit traumatiseer en verwoes ’n mens se lewe.”

Du Toit se regspan het die TMPD gedagvaar en strafregtelike klagtes is ook teen die metropolisielede ingedien.

Thomashausen (69) het gesê die vergryp raak hom nie net persoonlik nie, maar het ook enorme skade aan die beeld van die land gedoen. Hy is ’n wêreldbekende kenner van internasionale reg.

Hy is ook vroeër tydens ’n voorval  in ’n polisievangwa gegooi en daar is teen ’n hoë snelheid met hom na die Lyttelton-polisiestasie gejaag. Die beamptes het hom hardhandig behandel en onder meer toegesnou dat hulle hom ’n les sal leer wat hy nooit sal vergeet nie.

“Ek het blatante rassistiese haat ervaar. Ek glo dit is ’n sistemiese probleem wat uitkring. Daar word nie behoorlike ondersoeke na beamptes se wangedrag gedoen nie. Die TMPD is ’n kriminele organisasie met sommige beamptes wat buite beheer is.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê wangedrag deur metropolisielede veroorsaak al hoe meer slagoffers.

Hy meen hul optrede moet aan die kaak gestel word en hulle moet vervolg word vir hul wandade.

AfriForum se veldtog bestaan uit drie dele:

Die eerste aksie het behels dat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n brief aan lt.-genl. Johanna Nkomo, hoof van die Tshwane Metropolisie , gestuur het waarin die burgerregte-organisasie versoek het dat:

  1. ’n Aangewysde taakspan aangestel word om klagtes teen metropolisielede te ondersoek en wat lede van die publiek deurgaans kan ondersteun as hulle slagoffers van magsmisbruik deur TMPD-lede was;
  2. Sy moet ’n geskrewe onderneming aan AfriForum gee dat beamptes teen wie daar prima facie-bewyse van onreëlmatige optrede is sonder betaling geskors sal word; en
  3. dat skriftelike riglyne aan elke TMPD-beampte gekommunikeer sal word oor watter optrede gemagtig is en wat padgebruikers se regte is.

AfriForum het verder ’n stel handige wenke vir motoriste opgestel oor wat om te doen as hulle deur metropolisielede versoek word om omkoopgeld te betaal of deur beamptes se optrede geïntimideer voel. Dié riglyne is in Afrikaans, Engels en Sepedi hier beskikbaar.

 

Soortgelyke plasings