--> -->
Spyskaart +

Tien redes waaroor die geveg by Universiteite gaan – Flip Buys

Desember 3, 2015 deur Flip Buys

Die histories Afrikaanse universiteite is steeds toonvensters van uitnemendheid. Universiteite soos Stellenbosch en die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus, het in moeilike omstandighede ʼn balans gevind tussen die reg van Afrikaanssprekendes op moedertaal onderrig, en die reg op toegang van nie-Afrikaanssprekendes. Hoewel die Grondwet voorsiening maak vir enkelmedium Afrikaanse universiteite, het politieke druk daartoe gelei dat die meeste hul taalbeleid aangepas het om vir nie-Afrikaanse studente voorsiening te maak.

Die gevolg hiervan is dat duisende studente van alle rasse ʼn beter kans in die lewe gekry het- midde in ʼn kalm en rustige studie-omgewing. Maar hoewel die kollig op die universiteite se taalbeleid was, het die meeste universiteite bykans onherkenbaar verander. Sommiges soos die ou RAU is nou prakties Engels eentalig, met bitter min wit en Afrikaanse studente wat daar studeer. Die rede is die groot druk om die studente en dosente se rasseprofiel te verander om die nasionale demografie te weerspieël. Die verandering van die rasseprofiel lei gou tot ʼn punt waar Afrikaanse klasse net nie meer prakties is nie, en is oorgeskakel na Engels sonder dat die taalbeleid wesenlik verander het.  Universiteitsbesture wou nie minder Afrikaans op die Kampusse hoor nie, hulle wou minder Afrikaners sien! Byna soos die ou spreekwoord omgekeerd lui : “Afrikaners mag gehoor maar nie gesien word nie!” Hierdie transformasie het dus in drie fases verloop: vanaf eentalig Afrikaans en wit, tweetalig en gemeng, na eentalig en swart. Maar waar die eerste fase as rassisties en uitsluitend uitgekryt, word die laaste fase as demokraties en insluitend toegejuig!

Eenheid na verdeeldheid

Die onlangse studenteonrus het verdere stukrag aan hierdie proses gegee, en radikales misbruik die betogings as hamer om hulle politieke doelwitte deur te stoomroller. In die proses lei Afrikaans as universiteitstaal, die toegang van Afrikaanse studente tot universiteitsonderrig, en die standaarde van universiteite onherstelbare skade. Die druk op universiteite is nou van “bo én onder”: bo van Minister Blade Nzimande af, en van die radikale studente van onder af.

Daar word talle motiewe toegedig aan diegene wat ten gunste van die behoud van Afrikaans as universiteitstaal is, wat wissel vanaf rasse-eksklusiwiteit, uitsluiting van ander, vasklou aan die verlede, die verafgoding van Afrikaans of selfs rassisme. Hierdie verskille het nou tot geskille en selfs gevegte ontwikkel, wat tot groot nadeel van die universiteite strek. Daarom is dit nodig om duidelik te stel waaroor die “taalgeveg” gaan en nie gaan nie.

  1. Omdat ons Afrikaans is

In demokratiese lande hoef taal- of kultuurgroepe nie te motiveer hoekom hulle in hul eie taal wil studeer of Universiteite wil hê waar hulle tuis voel nie. Dit word as vanselfsprekend beskou om hulle dit te gun as hulle dit wil hê. Afrikaanssprekendes het soos alle ander groepe ook die reg op menswaardigheid, vryheid en gelykheid soos vervat in die Grondwet se Akte van menseregte, en die ontsegging van grondliggende regte is verontregting. ‘n Taal het sy hoër funksies nodig om sy langtermyn volhoubaarheid te verseker.

  1. Dis ons Grondwetlike reg

Afrikaans is ingevolge Artikel 6 van die Grondwet ʼn amptelike landstaal, en Artikel 9 bepaal dat die staat nie regstreeks of onregstreeks teen iemand mag diskrimineer op grond van onder meer ras, taal of kultuur nie. Artikel 29 bepaal dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal van sy keuse, met inbegrip van enkelmediuminstellings.

Dit is vreemd dat die opneem en verdediging van belangrike grondwetlike regte nou as “regs” beskou word net omdat dit in sekere kringe nie polities korrek klink nie. Ander kundiges soos professors Andreas van Wyk en Marinus Wiechers, voormalige rektore van Stellenbosch en Unisa, het ook al telkemale bevestig dat universiteite of kampusse met Afrikaans as hooftaal beslis grondwetlik is. Daarom is dit ook kommerwekkend dat universiteite hul eie onafhanklikheid en akademiese vryheid laat ondergrawe deur politieke druk en -staatsinmenging.

In die Taalbeleid van Hoër Onderwys erken die ministerie in Artikel 15.4 dat Afrikaans as ʼn taal van opleiding en wetenskap ʼn “nasionale hulpbron” is. Daarom “ondersteun die ministerie uitdruklik die behoud van Afrikaans ten volle as ʼn medium van akademiese uitdrukking en kommunikasie in hoër onderwys, en is daartoe verbind om te verseker dat die vermoë van Afrikaans om as sodanige medium te funksioneer nie benadeel word nie.”

Dit is belangrik om kennis te neem dat nog nie een histories Afrikaanse universiteit amptelik aangekondig of ʼn beleid aanvaar het dat Afrikaans afgeskaf sou word nie. Die Transformasieprosesse wat gevolg is, het gepaard gegaan met gerusstellings en versekerings oor die toekoms van Afrikaans, en ʼn (aansienlik sagter) belofte dat wit en Afrikaanssprekende studente nog altyd ʼn plek sou hê. Die einde van Afrikaans by hierdie Universiteite was in die praktyk eerder die gevolg van die radikale rassetransformasie en die grootskaalse invoer van Engels, wat Afrikaans later onprakties gemaak het. Tweetaligheid was in die praktyk nog altyd ʼn oorgangsmaatreël na eentaligheid.

Daarom is dit Afrikaanssprekendes se reg en verantwoordelikheid om Afrikaans as akademiese taal te bewaar, te deel en verder uit te bou.

  1. Dis aanvaarde universiteitsbeleid

Die universiteitsrade het verskillende meertalige beleide in plek, gegrond op die afweeg van belange van studente wat ingevolge Artikel 29(2) van die Grondwet hul reg op ʼn taalkeuse opneem, en die reg op toegang van studente wat nie moedertaal onderrig verkies nie. Diversiteitsteikens om hierdie taal- en kultuurbalans te  ondersteun, was byvoorbeeld deel van die NWU-Raad onder dr Theuns Eloff se besluit.

  1. Dis ʼn suksesmodel

Die meertalige modelle het oor die algemeen goed gewerk, en moes eerder versterk geword het as om dit verder verdag te probeer maak as iets uit die verlede. Die Potchefstroom Kampus van die NWU het duisende Afrikaanse studente getrek wat weens die transformasie van ander universiteite nie meer toegang tot Afrikaanse onderrig gehad het nie.

  1. Demografiese verteenwoordigendheid is ongrondwetlik

Dit is duidelik dat die doel van die huidige politieke druk is dat die universiteite se studente en personeel die “rasseprofiel” van die land sal moet weerspieël. Hier word selfs nie eers na die “toepaslike” demografie verwys nie, m.a.w. na die toepaslik gekwalifiseerde swart skoolverlaters en –dosente nie. Daar is ook nie sprake van die “Afrikaanse demografiese profiel” nie, maar bloot van die nasionale demografie. Dit is ironies dat “diversiteit” as beweegrede hiervoor aangevoer word, want as al die instellings die nasionale demografie moet weerspieël gaan dit eerder oor “eendersheid” as diversiteit. Die feit is dat daar min indien enige instelling is wat die demografie van die land weerspieël, weens voor die hand liggende redes soos persoonlike keuses, streeksdemografie, die skoolstelsel, grondwetlike taalregte, universiteitsbeleid en die ligging van ʼn kampus. Dit is wel so dat alle universiteite saam die toepaslike demografie van die land behoort te weerspieël om gelyke toegang tot opleiding te verseker.

Volgens oudpresident FW de Klerk is die konsep van “verteenwoordigendheid” onversoenbaar met die grondwetlike beginsel van kulturele verskeidenheid. Hy sê dat in ons multikulturele gemeenskap “verteenwoordigendheid” daarop sal uitloop dat die meerderheid elke faset van minderhede se lewens sal beheer, of dit nou in hulle werk, skole, universiteite of hulle sport is. Daarbenewens het die Appèlhof ook al bevind dat verteenwoordigende rassekwotas ongrondwetlik is.

Dit is belangrik om daarop te wys dat die gelykstelling van “inklusiwiteit” en “verteenwoordigendheid” vals is. Dit is nie so dat ʼn kampus eers volledig inklusief sal wees as hy volledig verteenwoordigend van die landsbevolking is nie. In die praktyk is so Kampus dan weer eksklusief vir die meerderheid en ontoeganklik vir minderhede. Van die bewoording wat deur die voorstanders van totale transformasie gebruik is, kom gevaarlik naby aan kulturele suiwering en inlywing by die meerderheid. Daarmee saam is die verskraling van versoening op taalgebied tot verengelsing, ook ongrondwetlik en blote kulturele selfmoord. Wenlande gebruik juis wedersydse taalerkenning en –respek om versoening en nasionale eenheid te verstewig.

  1. Afrikaanssprekendes se reg op toegang

Daar word gereeld en tereg gewys op die reg op toegang van nie-Afrikaanssprekende en veral swart studente. Die reg op toegang van Afrikaanssprekende en wit studente word egter totaal verswyg. Dit is egter so dat die transformasie van talle histories Afrikaanse instellings in hoofsaaklik swart Engelssprekende instellings die reg op toegang van wit en Afrikaanse studente in veral die Noordelike Provinsies ernstig belemmer het. Die aantal wit jongmense by Universiteite van Tegnologie het sedert 1994 byvoorbeeld vanaf meer as 70% na onder die 5% afgeneem. Dit geld ook vir die vyftig ou Tegniese Kolleges, oftewel die kolleges vir Verdere Onderwys en Opleiding, asook vir die talle kolleges van maatskappye wat die rasseteikens vir hul werksmagte deur die studenteprofiel van hul opleiding probeer bereik. In Gauteng en ander provinsies krimp die geleenthede vir Afrikaanse en wit studente elke jaar weens die transformasie van die Universiteite, en  word toegang ʼn al groter probleem.

  1. Moedertaal opleiding is die beste onderrig

Dit is ʼn bewese feit dat moedertaal onderwys- en opleiding die beste onderrig is. Daardie debat is verby, en die verskynsel dat baie ouers en studente verkies om in ʼn ander taal onderwys te kry kan nie die grondwetlike vryheid van mense benadeel om moedertaal onderrig te kies nie. Dit beteken nie dat studente nie voorberei hoef te word vir die meertalige omgewing in die werksplek nie, bloot dat opleiding in ʼn moedertaal beter is, en ʼn student makliker in staat stel om hierdie kennis in ʼn tweede taal toe te pas.

  1. Ligging bepaal nismarkstrategie

Potchefstroom is in die platteland geleë, en die kampus se ligging is bepalend vir sy nismarkstrategie, in besonder die gehalte Afrikaanse onderrig en vormende studentelewe. Bykans tagtig persent van die studente kom uit ander provinsies, juis vanweë die uniekheid van die kampus. Indien Potchefstroom so transformeer en in dieselfde mark moet meeding as Tukkies, TUT, Wits, UJ en Unisa, verval sy mededingende voordeel om ouers verby ander universiteite na die Potchefstroom-kampus te lok ten spyte van die duurder reis en verblyf wat hulle moet betaal. Net so is Stellenbosch die enigste Afrikaanse universiteit in ʼn oorwegend Afrikaanse provinsie naby twee Engelse universiteite.

  1. Verontregting

Die strategie by Kovsies, Pukke en Stellenbosch was om ʼn propagandagebeurtenis aan te gryp as ʼn hamer om die universiteit se rasseprofiel radikaal te transformeer, Afrikaans gaandeweg uit te skuif, die gesonde en vormende studentelewe te kelder, en wit en bruin Afrikaanssprekendes se reg tot universiteitstoegang verder in te perk. Aan die ander kant was daar nog nooit sprake dat histories Engelse universiteite aanpassings moes maak om Afrikaanssprekendes te akkommodeer of hul taalbeleid aan te pas nie. Die geskiedenis van die transformasie van die histories Afrikaanse Universiteite, wat gebeur het met Afrikaans as akademiese taal en die manier waarop dit gedoen is, laat menige Afrikaanssprekendes met ʼn gevoel van verontregting, vernedering en die miskenning van ons gemeenskap se menswaardigheid. 

  1. Waarvoor veg ons nie?

Dit is ook belangrik om dit duidelik te maak waarvoor ons nie veg nie! Ons werk vir die bewaring en bevordering van wat oor die afgelope eeu in en vir Afrikaans gedoen en bereik is. Ons veg nie ʼn taalstryd teen ander tale of hul sprekers nie. Ons wil nie ander mense vervreem, uitsluit, verneder, onsself afsonder of vasklou aan ou onregverdige voorregte nie. Ons wil nie in die verlede vassteek nie, maar die toekoms sonder verwaandheid maar met die nodige selfvertroue aandurf. Ons sien onsself as moderne en patriotiese Afrikaners en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, en verwerp die deursigtige pogings om ons voor te hou en uit te jou as agterlike rassiste.

Ons veg bloot vir die demokratiese ruimte om ons grondwetlike regte uit te oefen, op so manier dat ons nie ander hul regte ontneem nie. Beskuldigings dat ʼn strewe na aanvaarde wêreldpraktyke en –standaarde ʼn terugverlang na die voorregte van Apartheid is, is kwetsend. Afrikaners veg lankal nie meer vir ʼn beter verlede nie, maar het kulturele vryheid vir die toekoms nodig soos enige ander vergelykbare groep in die wêreld. Dis ook nie ʼn kwessie dat Afrikaners teen demokratiese veranderings is nie. Daar is vandag algemene begrip dat daar na 1994 grootskaalse veranderings moes kom ter wille van regstelling, gelykheid, insluiting en geleenthede vir almal. Maar wat in die praktyk gebeur, gaan veel verder as gelykheid en regstelling, en tas Afrikaners en Afrikaanssprekendes se grondliggende regte en belange aan, ondergrawe ons Instellings en demokratiese ruimtes, en het reeds talle Afrikaners so vervreem dat groot getalle totaal ontuis begin voel en landuit emigreer het.

Daarom kan ons baie leer uit die VN se Ontwikkelingsprogram, wat al in 2004 ʼn verslag oor Kulturele vryheid publiseer het met riglyne vir state soos Suid-Afrika. In hierdie verslag stel die VN dit prontuit: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder die teenoorgestelde reaksie van ʼn lewenskragtige kulturele herlewing uitlok”.