Tainted Heroes maak opslae in die VSA


Forum Films het vandag in ’n video op Facebook en Twitter aangekondig dat dié produksiemaatskappy afgeskop het met ’n internasionale toer om die dokumentêre film Tainted Heroes te versprei (sien beskrywing van Tainted Heroes onder). Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, sê die doel van die toer is nie bloot om die film te bemark nie, maar om die verdraaide beeld wat die wêreld oor die ANC en die struggle van die 1980’s het, in perspektief te stel.
Die toer bestaan uit drie bene, naamlik:

  1. Vertonings van die dokumentêre film Tainted Heroes;
  2. Vergaderings met internasionale navorsers, meningsvormers en politici; en
  3. Media-afsprake.

Roets sê in die video dat hy en die regisseur van Tainted Heroes, Elrich Yssel, tans in Washington DC is en volgende week na New York vertrek. Die toer sal later vanjaar in Chicago en Los Angeles voortgesit word, waarna die film na ander dele van die wêreld geneem sal word. ’n Dokumentêre film oor die toer en die buiteland se indrukke van Tainted Heroes word ook gedurende die toer verfilm.

“Ons het besluit om in die VSA te begin, aangesien die VSA een van die grootste rolspelers in die internasionale politiek is. Ons benadering is ook soos dié van ’n skerpskutter, eerder as ’n haelgeweertaktiek. Dus is ons doel nie noodwendig om massas mense met die oorsese vertonings te bereik nie, maar om dié wat die grootste invloed op wêreldpolitiek het, te bereik,” sê Roets.

Roets is onder meer genooi om ’n byeenkoms van konserwatiewe leiers in Washington oor hierdie tema toe te spreek. Meer inligting oor die toer sal deur die loop van die week in die vorm van video-blogs op die Facebookblaaie van Forum Films, AfriForum en Ernst Roets gepubliseer word. Roets sal ook sy Twitter-profiel gebruik om terugvoer oor die toer te gee.
Meer oor Tainted Heroes:
Tainted Heroes vertel die verhaal van hoe die African National Congress (ANC) – eens ʼn gemarginaliseerde organisasie binne die Suid-Afrikaanse politieke landskap – ʼn magsposisie bereik het in die nasleep van die Soweto-opstande in 1976. Die dokumentêr handel oor die militêre opleiding wat die organisasie ontvang het in verskeie Afrika-lande, sowel as die minder bekende verhaal van hoe die ANC strategiese opleiding in Viëtnam ondergaan het, om ʼn sogenaamde people’s war-strategie teen mededingende organisasies te implementeer. Dit is veral gebruik teen Inkatha, ʼn voormalige bondgenoot van die ANC.
Die rolprent verduidelik hoe die ANC daarin geslaag het om ʼn voorafbeplande program van geweld, vrees en propaganda te gebruik om politieke teenstanders uit die weg te ruim en homself te vestig as die enigste verteenwoordiger van swart aspirasies in Suid-Afrika. Dit toon hoe die ANC se gewapende stryd meer ʼn stryd was teen swart mededingende organisasies as teen die apartheidstelsel.

Soortgelyke plasings