| |

Taakspan versprei 2,5 ton voedsame kitsmaaltye

Die COVID-19-taakspan wat gestig is deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, het nou ook saam met Laeveld Agrochem begin om voedselverspreidingsprojekte van stapel te stuur. Dié taakspan het op 20 Mei 2020 voedsame Genesis-kitsmaaltye aan meer as 200 hulpbehoewende gesinne in Bloemfontein versprei. Dié maaltye word deur Laeveld Agrochem geborg.

Genesis bied ’n reeks funksionele voedsel- en drinkbare produkte wat onder meer spesifiek geformuleer is vir mense wat aan wanvoeding ly. Dit bevat al 55 noodsaaklike voedingstowwe, 12 vitamiene en vyf minerale van die daaglikse voedingsvereiste. Die kitsmaaltyd word ook stadig vrygestel, wat beteken dat dit jou vir tot ses ure versadig kan hou.

Laeveld Agrochem het ’n duisend 10 kg-pakke van hierdie produk aan die COVID-19-taakspan geskenk om by te dra tot die geveg teen hongerte en wanvoeding weens die staat van inperking.

“AfriForum is trots en bevoorreg om deel van hierdie aksie te wees waar jy kan sien dat jy ’n verskil maak in iemand se lewe, veral in die tydperk van nood. Ons voorspel dat die nood vir nog lank gaan druk en baie gesinne geaffekteer gaan word met hongerte en ons kan nie toestaan en kyk dat dit gebeur nie. Ons sal ons ook nie deur die regering voorskryf nie, al probeer hulle verskillende organisasies onder druk plaas om hierdie tipe aksies te sentraliseer en onder hulle toesig voort te gaan met die verspreiding van voedsel,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun:

Rekeninghouer: Solidariteit Helpende Hand
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tak: Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing: Korona
Swift-kode:  FIRN ZA JJ

Besoek www.laeveld.co.za/af/genesis-nutritional-products vir meer inligting oor die Genesis-produk.

Soortgelyke plasings