--> -->
Spyskaart +

Sun Tzu se vyf lesse vir plaasveiligheid

Maart 27, 2017 deur Flip Buys

0G0A4347

Sun Tzu was ’n antieke Chinese generaal en beroemde militêre strateeg wie se beginsels vir oorlogvoering al vir eeue sowel gebruik as misbruik word. Sy legendariese boek Die kuns van Oorlog verskaf egter belangrike lesse in die stryd teen plaasterreur. Hoewel hierdie meesterwerk waarskynlik al 500 jaar vóór Christus geskryf is, word sy reëls van oorlogvoering vandag nog wêreldwyd op militêre en polisie-akademies geleer.

 

Suksesvolle landelike guerrillaleiers soos China se Mao Zedong en die Viëtnamese generaal Vo Nguyen Giap het hulle strategieë op Sun Tzu se beginsels gebaseer. Zedong en Giap se plattelandsgebaseerde strategie het dié twee leiers gehelp om onderskeidelik die Chinese burgeroorlog te wen en eers die Franse en toe die Amerikaners uit Viëtnam te verdryf.

 

Wat ’n deeglike kennis van Sun Tzu in ons geval nóg interessanter maak, is dat die ANC hulle people’s war op generaal Giap se people’s war in Viëtnam gebaseer het. Dit het gebeur ná die destydse ANC-leier Oliver Tambo se besoek in 1978 aan Viëtnam saam met Joe Slovo, Chris Hani en die latere minister van verdediging, Joe Modise. Daar het hulle generaal Giap self ontmoet en sy militêre bloudruk by hom gekry waarmee die ANC sy swart mededingers in Suid-Afrika suksesvol uitgeskakel en die massas in die townships gemobiliseer het. Tydens ’n besoek aan Giap in 2010 het president Zuma hom by drie afsonderlike staatsgeleenthede met sy honderdste verjaarsdag gelukgewens –  ’n aanduiding van sy invloed op die ANC se struggle-strategie.

 

Politieke vrede

 

Natuurlik het die omstandighede intussen heeltemal verander en is daar nou politiekgewys amptelik vrede in die land. Die ANC probeer nou vreedsaam regeer in plaas van hul vroeëre struggle-strategie om die land onregeerbaar te probeer maak. Maar die ANC-in-regering sit nou met die gevolge van die geweldskultuur wat die ANC-in-struggle help veroorsaak het en wat steeds ’n groot rol in die voortgesette geweldsmisdaad in die land speel. Soos Prins Buthelezi die ANC al in 1987 gewaarsku het, sou ’n strategie om die land vóór 1994 onregeerbaar te maak hom ná 1994 steeds onregeerbaar laat.

 

Misdaad en terreur

 

Dit is duidelik dat die plaasaanvalle in Suid-Afrika die punt bereik het waar die grense tussen misdaad en terreur vervaag het. Dit is ’n toestand waarteen die Israeliese militêre kenner Martin van Creveld polisiemagte oor die wêreld heen lank reeds waarsku. Hiermee bedoel ek nie dat die ANC noodwendig amptelik by plaasaanvalle betrokke is nie. Baie van die aanvallers is immers buitelanders. Maar die vraag ontstaan wel of daar nie ’n nuwe, hoewel onverklaarde en ongeorganiseerde, people’s war teen die boere gevoer word nie? Navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies het wel bevind dat misdaad die hoofrede vir plaasaanvalle is. Daar is egter geen oortuigende verduideliking vir die feit dat hierdie aanvalle nie net op misdaad gerig is nie, maar dikwels wreedaardig is. Die rede is moontlik dat daar nou al vir dekades lank ’n politieke klimaat geskep word waarin wit boere as “wettige” (geregverdigde?) teikens gesien word. Hierdie klimaat word geskep met struggle-liedjies soos Kill the Boer, kill the farmer en uitsprake dat wit mense swart mense se grond gevat het en dat dit nou sonder vergoeding teruggevat moet word. Dit kan tog nie net gewone misdaad wees as plaasaanvalle toeneem in dieselfde tyd as wat die politieke hitte oor grond deur politici aangeblaas word nie?

 

Hoewel daar nie noodwendig ’n sentrale terreurveldtog teen boere is nie, skep die oplaaiende politieke klimaat en die ou guerrilla-idees vir landelike oorlogvoering van Mao Zedong en Vo Nguyan Giap hoogs waarskynlik die klimaat vir ’n terreurveldtog teen boere. Sun Tzu se lesse is egter nie net op aanvallers van toepassing nie, maar ook op verdedigers in die stryd teen hierdie terreur. Dit is daarom belangrik om te kyk watter lesse uit hierdie beroemde generaal se antieke geskrifte geleer kan word. Sy lesse is nie net vir plaasboere van belang nie, maar vir enige burger wat sy gesin wil veilig hou.

 

Les 1: Voorkoming is beter as oorwinning

 

Sun Tzu:

“Die voorkoming van geweld en die bedwinging van die vyand is baie beter as om ’n geveg te wen.”

“Veiligheid is ’n saak van lewe en dood, en die inwin van kennis hieroor mag nie verwaarloos word nie.”

 

Toepassing:

Misdaadvoorkoming moet dus die voorkeurstrategie wees. Die eerste stap na veiligheid behoort te wees om te besef dat daar nie vrede in die land heers nie, en dat geweldenaars ’n onverklaarde oorlog teen boere voer. Ons mense kan nie aanhou leef asof ’n normale vredestoestand bestaan nie. Weerbaarheid bly die enigste teenvoeter vir weerloosheid. Hulpeloosheid lok bloot roofdiergedrag uit. Geweldsmisdaad kan net deur afskrikking voorkom word. Dit behels sigbare polisiëring deur die polisie of buurtwagte, beveiligde plase en huise, en die wil en vermoë om jou gesin wettig met geweld te verdedig as dit moet. Dis nie uniek aan Suid-Afrika nie. Van Creveld sê dat state wêreldwyd nie meer in staat is om hulle burgers te verdedig nie en dat mense by hulle eie veiligheid betrokke moet raak. Na 1994 het wetsgehoorsame burgers verkeerdelik aanvaar dat ’n demokratiese vrede gaan neerdaal en het talle mense hulself eensydig ontwapen. Dít het ’n groot rol in die opkoms van geweldsmisdaad gespeel.

 

Les 2: Wen deur weerbaarheid

 

Sun Tzu:

“Oorlogskunde leer ons om nie staat te maak op die waarskynlikheid dat die vyand nie gaan kom nie, maar op ons eie gereedheid om hom te ontvang; nie op die kans dat hy nie gaan aanval nie, maar eerder op die feit dat ons ons posisie onaantasbaar gemaak het.”

 

Toepassing:

Die geskiedenis van die mensdom sedert Kain en Abel wys dat geweldsmisdaad nog altyd deel van die werklikheid is en altyd sal bly. Daarin het ons nie ’n keuse nie. Ons kan egter verseker dat ons ’n geveg sal wen as dit kom. Ons moet onsself altyd vir vrede, veiligheid en voorkoming beywer, maar bo alles sorg dat ons voorbereid is om te wen. Daar is nie ’n tweede prys in hierdie “misdaadoorlog” nie. Die stryd teen geweldsmisdaad kán egter gewen word met die goue driehoek van die polisie, buurtwagte en privaat sekuriteit. Dis nie uniek in ons geskiedenis nie. Afrikaners was nog altyd by ons eie veiligheid betrokke. Beveilig jou huis, raak by ’n buurtwag betrokke, sorg dat jy ’n wettige wapen het en dit doeltreffend kan gebruik, en maak dit saam met jou gemeenskap vir die geweldenaar onmoontlik om te wen wanneer ’n aanval kom.

 

Les 3: Kies jou gevegte reg

 

Sun Tzu:

“Die kant wat weet wanneer om te veg en wanneer nie sal die oorwinning behaal. Daar is paaie waarop jy nie moet reis nie, weermagte wat nie aangeval moet word nie en ommuurde stede wat nie beveg kan word nie.”

 

Toepassing:

Daar is gevegte wat nie gewen kan word nie en wat nie geveg moet word nie. Moenie in verloorgevegte soos opstand teen die owerheid, ’n geveg teen ’n oormag betrokke raak nie. ’n Generaal wen of verloor gevegte en veldslae, maar ’n staatsman wen of verloor oorloë. Die Duitsers het in die Tweede Wêreldoorlog briljante generaals gehad, maar hulle kon nie hul leier se fout oorkom om teen die hele wêreld te wil oorlog maak nie. Selfs ’n geniale militêre strateeg kan nie regmaak wat ’n staatsman verbrou het nie. Die Voortrekkers moes ná die historiese oorwinning by Bloedrivier steeds verder trek, omdat die demografie in Natal nie volhoubare veiligheid gebied het nie.

 

Afrikaners se grootste uitdaging is nie ons klein getalle nie, maar ons dun verspreiding oor die land. Dit lei daartoe dat ons in sekere plekke te kwesbaar is om onsself goed genoeg te kan beveilig. Dit is nou maar so dat dit baie moeilik en duur is om elke afgeleë plaashuis voldoende te beskerm. Hierdie boere is op hulself aangewese omdat hulp ver en wyd verspreid is. Die bevolkingsomwentelings in die land het egter sekere gebiede in selfs stede onveilig gemaak. Dis omdat populistiese woede aangevuur word deur snelle bevolkingsgroei, vinnige verstedeliking, verbrokkellende gesinstrukture, armoede en werkloosheid, ongelykheid, swak onderwys en opleiding, historiese griewe, swak polisiëring, verswakkende staatsdienste, ’n gebrek aan basiese bestaansmiddele en toegang tot die massamedia wat ’n gevoel van verontregting aanwakker. Daarom help dit nie om die verkeerde geveg te kies nie. ’n Demografiese uitdaging kan slegs met demografiese beplanning oorkom word, en nie met politieke- of militêre maniere nie.

 

Bevolkingswerklikhede is die basiese data van veiligheidsbeplanning. Getalle tel. Soos Sun Tzu dit stel: “Dit is die oorlogsreël: Indien tien keer sterker as die vyand, omsingel hulle; indien vyf keer, val hulle aan; indien twee keer, verdeel hulle; indien gelyk, maak kontak; indien minder, verdedig jouself; indien swakker, vermy hulle.”

 

Aan die ander kant is gebiede met groter Afrikanerkonsentrasies makliker om te beskerm. Projekteer die bevolkingsneigings waar jy bly breedweg twintig jaar vooruit, neem ’n langtermynbesluit oor jou toekomstige verblyf, en begin betyds beplan om te trek as dit moet.

 

Die goeie nuus is dat daar nog goeie persoonlike verhoudinge oor rassegrense in die land is. Die slegte nuus is dat daar soms slegte politieke verhoudinge is wat veroorsaak word deur roekelose opruiers wat nie die gevolge van hulle opstekery besef nie. Daarom moet goeie rassebetrekkinge te alle tye bevorder word, terwyl politieke aanhitsers ferm en beslis teengestaan word.

 

Les 4: Wen voordat jy veg

 

Sun Tzu:

“Behaal eers die oorwinning, en voer daarna die oorlog.”

“Die ervare generaal skep sy eie oorwinning en veg net wanneer die omstandighede sy vyand se neerlaag verseker. Die skepping van daardie omstandighede is die hoogste verantwoordelikheid van generaalskap.”

 

Toepassing:

Jou geliefdes se lewens is heeltemal te belangrik om aan die toeval oor te laat. Die goue driehoek van veiligheid is samewerking met die plaaslike polisie, sekuriteitsfirmas en die buurtwagte. Die ideaal is vyf sirkels van beveiliging: om jou dorp of streek; om jou woongebied; om jou huis; om jou slaapvertrekke; en om jou persoon. Help om jou buurtwag uit te bou totdat dit sterk genoeg is om die hele dorp, streek, woongebied en straat te beskerm; sorg dat jou huis en slaapvertrekke veilig is; en verseker dat jy ’n wettige wapen het en dat jy hom doeltreffend kan gebruik as dit moet.

 

Onthou dat die doel nie eerstens is om aanvalle suksesvol af te weer nie, maar om ’n aanval te voorkom. Weerbaarheid, beveiliging, betrokkenheid by ’n buurtwag, voorbereiding, tegnologie en inoefening is die sleutel tot die afskrikking en afweer van misdaad.

 

Les 5: Verkenning verseker oorwinning

 

Sun Tzu:

Oorwinning word deur voorafkennis verseker.”

“’n Generaal se sukses spruit uit sy goeie inligtingsnetwerk.”

 

Toepassing:

Snelreaksie-eenhede wat misdadigers ná die misdaad agtervolg, help nie. Die misdaad is dan klaar gepleeg. Misdadigers slaan blitsig toe en daar is te min tyd om betyds op ’n noodoproep te reageer. Proaksie-eenhede wat misdaad deur goeie inligting voorkom, verseker veiligheid veel beter. Goeie tegnologie kan hier die grootste magsvermenigvuldiger wees, en opwindende nuwe tegnologie word feitlik daagliks beskikbaar gestel. Tegnologie kan die verdediger ’n onoorwinlike voordeel bo die aanvaller gee, byna soos ’n pistool in ’n vuisgeveg. Terselfdertyd moet die polisie, sekuriteit en buurtwagte die vermoë bou om vooraf inligting te bekom oor wie die geweldenaar is en wat hul planne behels.

 

Opsommend

 

Die stryd teen misdaad is so oud soos die mensdom self. Die geskiedenis wys egter dat hierdie stryd wel met die regte ingesteldheid, voorbereiding en kennis gewen kan word. Die belangrikste les is dat wetsgehoorsame burgers daadwerklik by hulle eie veiligheid betrokke moet raak. Indien hier nou ’n onverklaarde people’s war teen boere gevoer word, kan Sun Tzu se beginsels nuttig in die stryd teen plaasterreur aangewend word.