Sun Tzu se lesse vir plaasveiligheid

Sun Tzu was ’n antieke Chinese generaal en beroemde militêre strateeg wie se beginsels vir oorlogvoering al vir eeue gebruik en misbruik word. Sy legendariese boek Die kuns van Oorlog verskaf belangrike lesse in die stryd teen plaasterreur. Hoewel hierdie meesterwerk waarskynlik al 500 jaar vóór Christus geskryf is, word sy reëls van oorlogvoering vandag nog wêreldwyd op militêre en polisie-akademies geleer.

Sun Tzu se beginsels van oorlogvoering is baie van toepassing op plaasveiligheid.

 Les 1: Voorkoming is beter as oorwinning

 Sun Tzu:

“Die voorkoming van geweld en die bedwinging van die vyand is baie beter as om ’n geveg te wen.”

“Veiligheid is ’n saak van lewe en dood, en die inwin van kennis hieroor mag nie verwaarloos word nie.”

 Toepassing:

Misdaadvoorkoming moet die voorkeurstrategie wees. Die eerste stap na veiligheid behoort te wees om te besef dat daar nie vrede in die land heers nie, en dat geweldenaars ’n onverklaarde oorlog teen boere voer. Ons mense kan nie aanhou leef asof ’n normale vredestoestand bestaan nie. Weerbaarheid bly die enigste teenvoeter vir weerloosheid. Hulpeloosheid lok bloot roofdiergedrag uit. Geweldsmisdaad kan net deur afskrikking voorkom word. Dit behels sigbare polisiëring deur die polisie of buurtwagte, beveiligde plase en huise, en die wil en vermoë om jou gesin wettig met geweld te verdedig as dit moet. Dis nie uniek aan Suid-Afrika nie. Die Israelse militaris Martin van Creveld sê dat state wêreldwyd nie meer in staat is om hulle burgers te verdedig nie en dat mense by hulle eie veiligheid betrokke moet raak. Na 1994 het wetsgehoorsame burgers verkeerdelik aanvaar dat ’n demokratiese vrede gaan neerdaal en het talle mense hulself eensydig ontwapen. Dít het ’n groot rol in die opkoms van geweldsmisdaad gespeel.

Les 2: Wen deur weerbaarheid

 Sun Tzu:

“Krygskunde leer ons om nie staat te maak op die waarskynlikheid dat die vyand nie gaan kom nie, maar op ons eie gereedheid om hom teen te staan; nie op die kans dat hy nie gaan aanval nie, maar eerder op die feit dat ons ons posisie onaantasbaar gemaak het.”

 Toepassing:

Die geskiedenis van die mensdom sedert Kain en Abel wys dat geweldsmisdaad nog altyd deel van die werklikheid is en altyd sal bly. Daarin het ons nie ’n keuse nie. Ons kan egter deur deeglike voorbereiding verseker dat ons ’n geveg sal wen as dit kom. Daar is nie ’n tweede prys in hierdie “misdaadoorlog” nie. Die stryd teen geweldsmisdaad kán egter gewen word met die goue driehoek van die polisie, buurtwagte en privaat sekuriteit. Dis nie uniek in ons geskiedenis nie. Afrikaners was nog altyd by ons eie veiligheid betrokke. Beveilig jou huis, raak by ’n buurtwag betrokke, sorg dat jy ’n wettige wapen het en dit doeltreffend kan gebruik, en maak dit saam met jou gemeenskap vir die geweldenaar onmoontlik om te wen wanneer ’n aanval kom.

Les 3: Kies jou gevegte reg

 Sun Tzu:

“Die kant wat weet wanneer om te veg en wanneer nie sal die oorwinning behaal. Daar is paaie waarop jy nie moet reis nie, weermagte wat nie aangeval moet word nie en ommuurde stede wat nie beveg kan word nie.”

Toepassing:

Daar is gevegte wat nie gewen kan word nie en wat nie geveg moet word nie. Moenie in verloorgevegte soos opstand teen die owerheid of ’n geveg teen ’n oormag betrokke raak nie. ’n Generaal wen of verloor gevegte en veldslae, maar ’n staatsman wen of verloor oorloë. Die Duitsers het in die Tweede Wêreldoorlog briljante generaals gehad, maar hulle kon nie hul leier se fout oorkom om teen die hele wêreld oorlog te maak nie. Selfs ’n geniale militêre strateeg kan nie regmaak wat ’n staatsman verbrou het nie. Die Voortrekkers moes ná die historiese oorwinning by Bloedrivier steeds verder trek, omdat die demografie in Natal nie volhoubare veiligheid gebied het nie.

Afrikaners se grootste uitdaging is nie ons klein getalle nie, maar ons dun verspreiding oor die land. Ons lotsbepalende veiligheidsrisiko is gevolglik ons ligging. Dit lei daartoe dat ons in sekere plekke te kwesbaar is om onsself goed genoeg te kan beveilig. Dit is nou maar so dat dit baie moeilik en duur is om elke afgeleë plaashuis voldoende te beskerm. Hierdie boere is op hulself aangewese omdat hulp ver en wyd verspreid is. Die bevolkingsomwentelings in die land het egter sekere gebiede selfs in stede onveilig gemaak. Dis omdat populistiese woede aangevuur word deur snelle bevolkingsgroei, vinnige verstedeliking, verbrokkelde gesinstrukture, armoede en werkloosheid, ongelykheid, swak onderwys en opleiding, historiese griewe, swak polisiëring, verswakkende staatsdienste, ’n gebrek aan basiese bestaansmiddele en toegang tot die media wat ’n gevoel van verontregting aanwakker. Daarom help dit nie om die verkeerde geveg te kies nie. ’n Demografiese uitdaging kan slegs met demografiese oplossings oorkom word, en nie met politieke- of militêre planne nie.

Bevolkingswerklikhede is die basiese data van veiligheidsbeplanning. Getalle tel. Soos Sun Tzu dit stel: “Dit is die oorlogsreël: Indien tien keer sterker as die vyand, omsingel hulle; indien vyf keer, val hulle aan; indien twee keer, verdeel hulle; indien gelyk, maak kontak; indien minder, verdedig jouself; indien swakker, vermy hulle.”

Aan die ander kant is gebiede met groter Afrikanerkonsentrasies makliker om te beskerm. Projekteer die bevolkingsneigings waar jy bly breedweg twintig jaar vooruit, neem ’n langtermynbesluit oor jou toekomstige verblyf, en begin betyds beplan om te trek as dit moet.

Les 4: Wen voordat jy veg

 Sun Tzu:

“Behaal eers die oorwinning, en voer daarna die oorlog.”

“Die ervare generaal skep sy eie oorwinning en veg net wanneer die omstandighede sy vyand se neerlaag verseker. Die skepping van daardie omstandighede is die hoogste verantwoordelikheid van generaalskap.”

 Toepassing:

Jou geliefdes se lewens is heeltemal te belangrik om aan die toeval oor te laat. Die ideaal is vyf sirkels van beveiliging: om jou dorp of streek; om jou woongebied; om jou huis; om jou slaapvertrekke; en om jou persoon. Help om dit uit te bou.

Onthou dat die doel nie eerstens is om aanvalle suksesvol af te weer nie, maar om ’n aanval te voorkom. Weerbaarheid, beveiliging, betrokkenheid by ’n buurtwag, voorbereiding, tegnologie en inoefening is die sleutel tot die afskrikking en afweer van misdaad.

Les 5: Verkenning verseker oorwinning

 Sun Tzu:

Oorwinning word deur voorafkennis verseker.”

“’n Generaal se sukses spruit uit sy goeie inligtingsnetwerk.”

Toepassing:

Snelreaksie-eenhede wat misdadigers ná die misdaad agtervolg, help nie. Die misdaad is dan klaar gepleeg. Misdadigers slaan blitsig toe en daar is te min tyd om betyds op ’n noodoproep te reageer. Proaksie-eenhede wat misdaad deur goeie inligting voorkom, verseker veiligheid veel beter. Goeie tegnologie kan hier die grootste magsvermenigvuldiger wees, en opwindende nuwe tegnologie word feitlik daagliks beskikbaar gestel. Tegnologie kan die verdediger ’n onoorwinlike voordeel bo die aanvaller gee, byna soos ’n pistool in ’n vuisgeveg. Terselfdertyd moet die polisie, sekuriteit en buurtwagte die vermoë bou om vooraf inligting te bekom oor wie die geweldenaar is en wat hul planne behels.

 Opsommend

 Die stryd teen misdaad is so oud soos die mensdom self. Die geskiedenis wys egter dat hierdie stryd wel met die regte ingesteldheid, voorbereiding en kennis gewen kan word. Die belangrikste les is dat wetsgehoorsame burgers daadwerklik by hulle eie veiligheid betrokke moet raak. Indien hier nou ’n onverklaarde people’s war teen boere gevoer word, kan Sun Tzu se beginsels nuttig in die stryd teen plaasterreur aangewend word.

Flip Buys

 

Soortgelyke plasings