|

Suid-Afrikaners in Perth emosioneel oor tragedie van plaasmoorde in hul geboorteland

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en Lorraine Claasen, navorser by dié burgerregte-organisasie, is pas terug van die 15 de internasionale simposium van die World Society of Victimology in Perth, Australië, waar hulle die internasionale gemeenskap oor die omvang en erns van plaasmoorde ingelig het.


Roets het gesê hulle het ook ’n groep Suid-Afrikaners ontmoet wat aangedui het dat misdaad een van die grootste redes was waarom hulle die land verlaat het.
Volgens Roets was die Suid-Afrikaners diep geskok toe hulle ingelig is hoe gewelddadig van die aanvalle is en met watter brutaliteit en mishandeling die moorde gepaard gaan. “Ons het enkele voorbeelde genoem soos die boer wat agter sy bakkie gesleep is voordat hy dood is, die voorval waar ’n swaard onlangs in ’n man se keel afgedruk is tydens ’n aanval en die wrede moord van Willemientjie Potgieter en haar ouers.”

“Die Suid-Afrikaners is met afgryse gevul en baie emosioneel oor plaasmoorde.”
Volgens Roets is daar Suid-Afrikaners wat graag na die land wil terugkeer omdat hulle nie tuis voel in Australië nie en ook eiesoortige probleme daar ervaar. “Ander is oortuig dat hulle die regte keuse gemaak het om die land te verlaat.”
Roets het gesê heelparty Suid-Afrikaners het aangedui dat graag wil help om die boodskap oor plaasmoorde uit te dra.

Roets het gesê een konferensie is nie genoeg om die wêreld bewus te maak van die aanvalle en moorde in die land nie. Daarom sal AfriForum voortgaan om ander internasionale platforms te gebruik en bewusmakingsaksies te hou.
As deel van dié strategie het die internasionale TV-kanaal France24 onlangs ook ’n dokumentêre program by AfriForum oor plaasmoorde gemaak wat na verwagting binnekort uitgesaai sal word.

AfriForum se siening is dat plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word en dat die regering meer moet doen om ’n einde daaraan te bring. Die organisasie volg egter ’n dubbele strategie en aan die ander kant word gemeenskappe bemagtig en toegerus om hul veiligheidsnetwerke en stelsels in plek te kry.

AfriForum en TLU SA het onlangs die halfjaar-syfers vir plaasmoorde en –aanvalle bekend gemaak. Sedert die begin van die jaar was daar altesame 27 moorde en 116 aanvalle. Die aantal plaasmoorde van 1990 tot Junie 2015 is 1 747 en die aantal aanvalle 3 542.

In die jongste voorval is ’n bejaarde egpaar van Vrede in die Vrystaat in die naweek aangeval en geskiet. Johannes Kritzinger (70) is drie keer in sy bors en maag geskiet en sy vrou Rita (66) twee keer. Hulle is Saterdagmiddag op hul plaas Brakdam oorval. Hulle is daarna na ’n hospitaal in Alberton geneem. Een van die aanvallers wat aangekeer is, het voorheen op die plaas gewerk.

Soortgelyke plasings