Spyskaart +

Suid-Afrika se grootste probleem is sy oplossings

Januarie 30, 2017 deur Ernst Roets

Piet le Roux het onlangs gesê dat daar basies net een verskil tussen ’n goeie ekonoom en ’n swak ekonoom is: ’n Goeie ekonoom dink twee keer.

Wanneer ’n mens met ingewikkelde vrae rondom armoede, die koste, taal of gehalte van onderwys, rassisme of korrupsie gekonfronteer word, is die maklike antwoord ongelukkig dikwels die verkeerde antwoord. Die rede hiervoor is omdat mense nie rekening hou van die wet van onvoorsiene gevolge nie.

En as dit by eenvoudige oplossings vir ingewikkelde probleme kom is Suid-Afrika ’n wêreldkampioen!

  • Mense is arm? Laat die regering vir hulle geld gee.
  • Salarisse is laag? Verhoog die minimumloon.
  • Te min werksgeleenthede? Laat die staat werk skep.
  • Onderwys is duur? Maak dit gratis.
  • Taal van onderrig is ’n probleem? Laat almal in Engels studeer.
  • Korrupsie is ’n probleem? Kry ’n ander ANC-president.
  • Te veel matrikulante druip? Verlaag die slaagsyfer.
  • Party mense is rassiste? Gooi hulle in die tronk.

Die probleem met hierdie tipe kitsoplossings is dat dit bloot geregverdig word op wat die onmiddellike gevolg van hierdie ingryping sal wees. Wanneer die onmiddellike gevolg sinvol is, word die boek toegeslaan en die kitsoplossing deurgevoer, dikwels sonder dat ’n oog geknip word om te oorweeg wat die langtermyngevolge, of die gevolge van die gevolge sal wees.

Dit het onlangs bekend geword dat bykans ’n vyfde van gegradueerde dokters in 2017 nie kan begin werk nie, omdat die regering nie geld het om genoeg poste in staatshospitale beskikbaar te stel nie. Dit beteken dat 307 dokters wat in 2017 graad vang nie in ’n mediese rigting kan begin werk nie, omdat hulle eers twee jaar vir die staat móét werk voordat hulle by die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) geregistreer kan word.

Hierdie krisis is nou wat hulle in Engels ’n “double whammy” noem: Die begrotingstekort is natuurlik ’n gevolg van die regering se kitsoplossing vir die #FeesMustFall-beweging se beswaar dat onderwys te duur is. Sekere staatsinstellings is eenvoudig gedwing om hulle begrotings tot op die been te sny … en party selfs ’n bietjie dieper. Terselfdertyd meng die staat tot só ’n mate by die mark in dat gekwalifiseerde mense nie mag praktiseer voordat hulle by die RGB geregistreer is nie en dat hulle nie by die RGB mag registreer voordat hulle nie twee jaar lank vir die staat gewerk het nie. Indien mense vir die staat werk moet hulle natuurlik deur die staat betaal word, maar as die staat nie kan betaal nie, kan mense nie vir hulle werk nie … en daar stort die stelsel in duie!

Die wreedste voorbeeld van die wet van onvoorsiene gevolge is waarskynlik die genadelose wyse waarop swart bemagtiging toegepas word. Die probleem word as ongelykheid verklaar (wat terloops nie Suid-Afrika se grootste krisis is nie). Wat is die staat se oplossing vir ongelykheid? Opheffing? Nee wat, dis te moeilik. Watter demokraties verkose party wil in elk geval vir sy kiesers sê dat hulle harder moet werk as jy eerder vir hulle kan sê dat jy ander mense se eiendom sal vat om dit onder jou ondersteuners uit te deel? Dit is natuurlik die onvoorsiene gevolg van demokrasie in die Derde Wêreld. Die staat se kortsigtige antwoord op ongelykheid is verteenwoordigendheid. Die samelewing sal “gelyk” geag word as die nasionale bevolkingsverspreiding op alle vlakke van die samelewing verteenwoordig word. In die proses word die enigste volhoubare oplossing, naamlik gehalte-onderwys, saam met die badwater uitgegooi.

Die gevolg hiervan – dalk nie in teorie nie, maar verseker in praktyk – is dat gekwalifiseerde wit mense uitgedryf word om plek te maak vir ongekwalifiseerde swart mense. In Bloemhof, byvoorbeeld, het die plaaslike regering die vermoë verloor om die rioolstelsel in stand te hou. Die gevolg hiervan was dat mense besoedelde water gedrink het. Ten minste drie kinders is as gevolg hiervan dood.

Moenie jou laat bluf deur politici wat kitsoplossings vir ingewikkelde probleme probeer voorhou nie. Dit is as gevolg van hierdie kortsigtige kitsoplossings dat Suid-Afrika 14 plekke op die internasionale gelukkigheidsindeks gedaal het en op die rand van rommelstatus staan.

Ernst Roets

Ernst is adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets