--> -->
Spyskaart +

Suid-Afrika herhaal die foute van 1976

Junie 20, 2018 deur Flip Buys

Suid-Afrika het Saterdag op Jeugdag die Soweto-jeugopstande van 1976 herdenk. Die kernles van hierdie stuk geskiedenis is dat ’n taal nie op mense afgedwing moet word nie: Almal moet vry wees om die taal van hul keuse in onderwys te gebruik. Maar omdat die 1976-opstand op die oog af teen Afrikaans as onderrigtaal gemik was, word dié gebeure steeds teen Afrikaans misbruik.

In 1976 was die swart jeug se kreet “Óns wil nie in Afrikaans leer nie.” Nou is die radikale se kreet “Júlle mag nie in Afrikaans studeer nie”. Dis “óns wíl nie” teenoor “júlle mág nie”. Hierdie twee krete is wêrelde van mekaar verwyder. Die een was op die oog af ’n stryd vir demokrasie; die ander is ’n stryd om oorheersing. Die 1976-geslag het in die naam van hul eie vryheid geveg. Die 2017-geslag se radikales en Afrikaanse slaprûe veg teen Afrikaanse leerders en studente se vryheid om hul taal en kultuur uit te leef. Dit blyk dat radikale soos mnr. Lesufi en min. Blade Nzimande die stryd teen Afrikaans bloot met staatsmag voortsit. Maar die les van 1976 vir 2018 is dat studente se reg op moedertaalonderrig gerespekteer moet word, anders lei dit tot swak onderwys, vervreemding en opstand.

Politieke mag

Die 1976-kreet was die voorspel van “Liberation before Education”. Dit het ’n groot rol gespeel om die onderwys en indiensneembaarheid van ’n hele geslag jong swart mense te ondermyn. Die gevolge hiervan is vandag nog te sien in die vorm van werkloosheid, ongelykheid en die voortgesette strugglekultuur in skole. Vandag is die kreet “Transformation before Education”, waardeur radikale faksies en slaprug universiteitsbesture die volgende geslag wit én swart jongmense se toekoms ondergrawe. Hoewel die meeste swart studente net goeie opleiding wil deurloop, lyk dit of hulle deur hul studenteleiers en visielose universiteitsbesture aan die neus gelei word. Só gaan nog ’n geslag jong swart mense die boot laat sink waarin hul self moet vaar.

Maar as ons kyk na wat die ANC se “1976-geslag” as vandag se regeerders intussen met die land gemaak het, blyk dit terugskouend dat 1976 meer oor mag as taal gegaan het: Nie oor politieke regte nie, maar oor politieke mag en ekonomiese voordele. Soos Breyten Breytenbach in sy kommentaar op dr. Van Zyl Slabbert gesê het: “He [Slabbert] did not realise that the ANC is neither about building a new nation nor about reconstruction and development, but about divvying up the spoils of victory.” ’n ANC-woordvoerder, Smuts Ngonyama, het dit reguit gestel: “Ek het nie gestruggle om arm te wees nie.”

ANC-beheer

Feit is egter dat daar ’n nuwe stryd teen Afrikaans, Afrikaanse skole en ’n Afrikaanse leefwyse op die histories Afrikaanse skole en kampusse woed. Soms word dié stryd openlik teen Afrikaans en sy sprekers gevoer, soos die EFF by universiteite en mnr. Lesufi teen Afrikaanse skole. Meermale is die rassetransformasie van die universiteit die doel, en is perke op die toegang vir Afrikaanse studente en ’n stadige dood vir Afrikaans die voorspelbare gevolg. Die volgende fase is “dekolonisasie”, wat in die praktyk die hernude kolonisasie en Afrikanisering van universiteite is.

Dis belangrik om te besef dat die radikale se doel nie tot die afskaffing van Afrikaans beperk is nie, maar dat hulle werklike doel is om beheer oor skole en universiteite te kry. Die rede hiervoor is dat skole en universiteite van die min ruimtes in die samelewing is wat nog nie volledig deur die ANC beheer word nie. Beheer is vir hulle belangriker as die sukses van hierdie instellings. Die waarheid van hierdie stelling kan daarin gesien word dat daar ’n regstreekse verband is tussen die mate van ANC-beheer en die prestasie van instellings. Die Wes-Kaap is die beste voorbeeld daarvan dat provinsies, dorpe én skole beter presteer as hulle nie onder ANC-beheer staan nie. Dieselfde kan van die wêreldgehalte- Afrikaanse skole gesê word. Aan die ander kant is die verval van groot dele van die staat die beste bewys daarvan dat ANC-beheer oor instellings rampspoedig kan wees. Die Afrikaanse geveg is dus nie net vir moedertaalonderwys nie, maar vir gehalte; vir die vryheid van skole en universiteite om wêreldgehalteprestasies te lewer. Die ANC se hardnekkige pogings om sy magsgreep oor alle skole en universiteite te vestig, wys egter duidelik dat die stryd nie om toegang vir swart kinders gaan nie, maar in werklikheid teen Afrikaners as kultuurgemeenskap gemik is.

Vryheid deur moedertaal

Die vraag is wat Afrikaanse jongmense se reaksie hierop moet wees. Die regte strategie is een van “vryheid deur Afrikaans”, oftewel, “vryheid deur Afrikaanse onderwys en opleiding”. Die rede is dat goeie onderwys en opleiding vandag éérs die sleutel tot sukses is. Dit maak jong Afrikaners betreklik vry van drakoniese rassewette en is die oorsaak dat werkloosheid onder jong wittes teen 12% steeds ’n breukdeel van die 43%-werkloosheid onder swart jongmense is.

Met goeie onderwys en opleiding kan en gaan Afrikaanse jongmense altyd vir hulself kan sorg – deur werk te kry, of deur selfindiensneming soos ’n klein onderneming. Hulle moet net moed hou, want ’n ekonomie werk uiteindelik nie op grond van ras nie, maar op grond van kennis, vaardighede en harde werk.

Ons jongmense moet egter besef dat Afrikaanse onderwys en opleiding nie verniet was nie. Al het jy dit verniet gekry, het jou ouers en grootouers dit teen groot koste en deur opoffering opgebou. Dis jóú voorreg om dit nou te bewaar en weer vir die volgende geslag aan te gee, sodat hulle dieselfde kans op sukses kan hê as wat jy gehad het. Hierdie keer is die stryd nie soos in 1976 teen Afrikaans en ’n onversetlike regering wat apartheid afdwing nie. Die stryd in 2018 is teen die afdwing van Engels en die uitsluiting van Afrikaanse studente deur ’n onversetlike regering se omgekeerde apartheid.