--> -->
Spyskaart +

Suid-Afrika: Die Republiek van Geen Gevolge

Januarie 17, 2019 deur Admin

Deur: Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

Dit is weer verkiesingsjaar en die retoriek, leë beloftes, belaglikhede en sowel halwe as blatante valshede word sommer vroeg al dik aangesmeer.

Die ANC is die enigste party wat daartoe verbind is om die armes se lot te verbeter, verklaar pres. Cyril Ramaphosa in KwaZulu-Natal terwyl die ANC sy 107de verjaarsdag vier. Hy voeg by: “Ons gaan al ons beloftes nakom, werk skep, die ekonomie verbeter en oorwinning vir die ANC is seker.” Uit al hierdie stellings is die enigste (droewige) waarheid dat die ANC beslis gaan wen. Die res wissel van blatante valshede tot hoogs gekwalifiseerde halwe waarhede.

Ramaphosa en die ANC praat eweneens altyd in toekomstige terme oor positiewe verwikkelinge,  want hulle het min om hulle reeds op te roem. Ramaphosa is al ’n jaar lank aan die stuur van die land en ANC, en in daardie tyd het juis min positiewe verandering gebeur. Die ANC het bykans 25 jaar gehad om die land se lot te verbeter. Hoeveel tyd het hulle nóg nodig?

Dat die ANC steeds sal wen ná die rampspoed en onvervulde hoop wat die party reeds op die land losgelaat het, maak geen snars sin buite die grense van Suid-Afrika nie. Maar ANC-kiesers sien weliswaar iemand nuuts aan die stuur en dink dat hul lot nou heelwat beter gaan raak sonder dat hulle self iets daaraan hoef te doen. Talle meningspeilings oor die laaste jaar bevestig dat die ANC se steun wel stewig bly (rondom 60%) en dat hulle vanjaar se verkiesing maklik gaan wen. Ramaphosa is ook gewild onder veral ANC-ondersteuners.

In KwaZulu-Natal was daar ook ’n belangwekkende simbool: Zuma en Ramaphosa saam op die verhoog en in skynbare harmonie. Ramaphosa was uiters gemoedelik oor Zuma en hul werksverhouding – ten spyte van die vyandigheid wat andersins tussen hulle heers. “Ek is vandag verheug dat ons hier is waar ons met ons voormalige president saamwerk en ’n ware gesig van eenheid wys waartoe ons albei verbind is. Hy is ’n voormalige president en ek gaan ’n ANC-president gebruik vir verskeie take,” het Ramaphosa luidens Netwerk24 gesê, met verwysing na Zuma naas hom.

Vir beter steun en gerusstelling kon Zuma nie gevra het nie. Dit is dieselfde Zuma wat staatskaping tot ’n kuns verfyn het en teen wie Ramaphosa al telkens belowe het daar opgetree sal word. “Hierdie is ’n nuwe era, dit is nie meer die era van staatskaping nie,” het hy prontuit in ’n toespraak op 16 Desember verlede jaar verklaar.

Die Guptas is dalk weg en daarmee saam staatskaping, maar die korrupsie wat ’n sentrale element van staatskaping uitgemaak het, is steeds oral met ons. Die wanregering op alle vlakke van regering ook. Ramaphosa was immers ook adjunkpresident toe staatskaping goed op dreef was. Sy geheul met Zuma tydens ’n verkiesingsaamtrek is die simbool van ’n party wat van Suid-Afrika die Republiek van Geen Gevolge gemaak het. Daar was ’n tyd wat ANC-lede hulself, soms openlik, weens staatskaping van Zuma gedistansieer het. Baie van hulle was self korrup, maar wou nie hul openbare beeld of dié van die party met Zuma se skandalige korrupsie assosieer nie. Hierdie mense is nou gerieflik terug en Zuma se volgehoue teenwoordigheid en betrokkenheid by partyaktiwiteite skeel hul min.

Daar is baie ander tekens dat die ANC en die staat nie hulself aanspreeklik kan hou nie. “Die ouditeur-generaal betreur gebrek aan aanspreeklikheid met sy vrystelling van die dalende ouditverslae van plaaslike owerhede,” lui die opskrif van die mediavrystelling oor die OG se laaste ouditmening oor munisipaliteite en hul entiteite. Volgens Kimi Makwetu, die OG, het sy kantoor volgehoue advies en vermanings oor die gebrek aan aanspreeklikheid gelewer, maar dit is grootliks geïgnoreer. “Daar was geen positiewe verandering ten opsigte van geloofwaardige resultate nie; inteendeel, ons sien die teenoorgestelde oudituitkomste,” kla die OG.

’n Opsienbarende onlangse voorbeeld hiervan is die eThekwini Munisipaliteit se departement van parke, ontspanning en kultuur se hulp aan Zuma om sy gunsteling- struggle-liedjies op te neem en uit te reik. Hulle regverdig dit deur ’n amorfe voorneme in die stad se jongste geïntegreerde ontwikkelingsplan om sosiale kohesie deur onder meer musiek te bevorder. As dit regtig so belangrik is, kon hulle dit op enige manier denkbaar doen, maar hulle het gekies om iemand wat van honderde korrupsieklagte verdink word en ’n beskuldigde in ’n hofsaak oor bedrog en korrupsie is, te help om ’n CD vol (waarskynlik verdelende) liedjies soos Umshini wami (Afrikaans: Bring my masjien[geweer]) op te neem. Dit is ’n taai klap in die gesig van verantwoordbaarheid, sosiale kohesie en die Durbaniete wat hul munisipale belasting betaal.

By Eskom is daar skynbaar tugverhore gehou om die korruptes aan die pen te laat ry. Tot op hede het hulle bedank om aanspreeklikheid vry te spring (dalk gevra om te bedank?), terwyl niemand strafregtelik aangekla is nie. Baie korrupte en onbevoegde ministers uit die Zuma-era sit daarbenewens steeds in Ramaphosa se kabinet. Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini tel onder hierdie groep.

Die probleem bly egter die ANC as party, asook sy ideologie. Een indiwidu – al beklee hy die magtigste posisie in die party – gaan nie ’n verskil maak nie. Trouens, Ramaphosa het in KwaZulu-Natal rondborstig gesê hy is bereid om wettige grondeienaars se eiendom sonder vergoeding te onteien, maar ook om die beskuldigde in ’n hofsaak en rampspoedige oudpresident op te hemel en sy wandade vir politieke redes te ignoreer.

En moenie dink die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, gaan skielik die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) regruk en uit eie beweging al die korruptes in die ANC en regering aan die pen laat ry nie. Sy sal grootliks na die uitvoerende gesag se pype moet dans en wegbly van sekere sake om nie die ANC se beeld of mag in die gedrang te bring nie – tensy sy en haar instelling gedruk word om anders op te tree. Ditto die res van die staat en ANC as party wat aanspreeklikheid en gevolge vir optrede betref.

Daarom sal die burgerlike samelewing hierdie waghondrol moet speel sodat die slagoffers van die gebrek aan gevolge ook geregtigheid kan geniet. Hiermee het AfriForum se privaatvervolgingseenheid en gemeenskapsake-afdeling al heelwat sukses behaal, maar dit sou nie moontlik wees sonder die uiters waardevolle steun van ons lede nie. Julle maak dit moontlik om hierdie moeilike take te verrig. Voorspoed vir 2019!