|

Studente toer deur Kalahari op Rebelspoor saam met AfriForum Jeug

Lede van AfriForum Jeug het verlede week van Olifantshoek na Orania getoer tydens dié jeugvleuel se jaarlikse nasionale leierskapsontwikkelingstoer.

Sowat twintig studente van verskeie AfriForum Jeug-universiteitstakke, wat NWU-Pukke, Tukkies, Kovsies asook Maties insluit, het die toer meegemaak. Dr. Louis Bothma, skrywer van Bloemfontein, het hulle na verskeie slagvelde en besienswaardighede geneem wat in Rebelspoor ter sprake is.

Bothma is die outeur van Rebelspoor, ʼn omvattende boek wat handel oor die gebeure kort voor, tydens en ná afloop van die Rebellie van 1914/1915.

Met ses bestemmings wat oor sowat 2 500 km gestrek het, het studente meer oor die kultuur, geskiedenis, erfenis en invloed van rebelle soos Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Jan Kemp, Jopie Fourie en Manie Maritz geleer.

Volgens Bothma is daar baie lesse uit dié deel van die geskiedenis wat vandag steeds op Afrikaners van toepassing is. Hy meen dat ouer generasies nie noodwendig begrip het vir die uitdagings waarmee jongmense vandag gekonfronteer word nie en sê dat dit belangrik is om hul met die regte kennis toe te rus om dié uitdagings aan te pak.

“Die rebelle het misluk om hulself met wapens te bevry. Nét so moet jongmense besef dat ʼn bloedlose rebellie, eerder as ʼn gewapende stryd, die beste manier is om hul vryheid (ten opsigte van onderrig en werksgeleenthede) te verseker.”

Hy het aan Forum Nuus gesê dat die studente se ingesteldheid oor hul volk se geskiedenis tydens die toer vir hom ʼn groot hoogtepunt was.

“Ek was verbaas om te sien hoe dié jongmense die geskiedenis ingedrink het. Hulle houding teenoor hul geskiedenis en hul ingesteldheid oor hul toekoms was vir my baie bemoedigend. Hulle is die soort jongmense wat ʼn toekoms vir hulself in Suid-Afrika sal verseker.”

ʼn Volledige artikel oor dié toer kan gelees word in die Desember-uitgawe van Forum Tydskrif.

Soortgelyke plasings