Spyskaart +

Studente sien selfdoen by sorgsentrum is groot sukses

Julie 10, 2015 deur Juran van den Heever

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch


Hoe meer jy gee, hoe meer word daar vir jou gegee.
Só glo mnr. Dirk van Vuuren, stigter van die Filadelfia Ark-sorgsentrum in Kameeldrift, in die weste van Pretoria.
Die sentrum huisves sowat 380 mense, waarvan 100 kinders is. “Ons is nie ’n plakkerskamp nie, want daar is hard gewerk om die grond te koop waarop ons wettig woon,” verduidelik Van Vuuren, ’n voormalige siviele ingenieur. Hy het sy plasie van 33 ha in ’n veilige hawe omskep vir mense wat haweloos is en weens diskriminasie of moelike omstandighede hul werk verloor het.

Van Vuuren verduidelik dat die geestelike opheffing van die mense die hoofdoel van Filadelfia Ark is en dat harde werk die mees gepaste manier is om dit te bereik. “’n Trae liggaam huisves ’n dooie siel.”

Die inwoners van Filadelfia het almal verskeie take om te verrig en sodoende het elkeen ’n rol te speel in die instandhouding van die sentrum. Hul werke sluit in die voorbereiding en verpakking van verbruikersitems, die versorging van pluimvee vir eiers, verbouing van vars groente en vrugte en die bou van houthuisies en tente. Daar is ook boekdrukkery, terwyl eenvoudige take soos wasgoed was en kosmaak ook onder mekaar verdeel word.
Inwoners kry daagliks drie gratis maaltye en betaal ook nie vir verblyf nie. Van Vuuren verduidelik dat behuising tans een van die grootste uitdagings vir die sentrum is. “Die stadsraad weier om ons toestemming te gee om permanente behuising te verskaf, daarom word houthuisies en tente in noodgevalle, opgerig om behuising te verskaf.


Filadelfia Ark het ook sy eie kliniek met twee gekwalifiseerde susters wat basiese mediese hulp kan bied asook ’n kleuterskool met sowat 30 kindertjies. Van Vuuren verduidelik dat mense nie dikwels weggewys word nie en alle pogings word aangewend om mense die nodige geestelike, emosionele en fisiese hulp te gee sodat hulle geleentheid kan kry om na ’n werkplek terug te keer.

Filadelfia is hoofsaaklik afhanklik van skenkings. Die sukses wat hier behaal word, sê Van Vuuren kan toegeskryf word aan geloof en dienslewering aan ander behoeftige mense buite die sentrum. Die sentrum reik tans uit na 1 600 mense tussen Pretoria en Brits. “Dit is ons as Afrikaner-gemeenskap se plig is om uit te reik na mekaar en om self met die oplossings en dienste wat die regering nie vir ons bied nie vorendag te kom.


AfriForum bied tans ’n internskap aan studente om aan verskeie selfdoenaksies deel te neem. Die studente het saam met Solidariteit Helpende Hand Filadelfia besoek om te sien hoe ’n voorbeeld lyk van ’n gemeenskap wat selfdoen én ’n sukses maak.
Wilhelm Reichert van AfriForum Jeug se Kovsies-tak het gesê so ’n sentrum bring werklike en praktiese verbeterings in mense se lewens. “Selfdoen is die antwoord om ’n toekoms te bou vir nageslagte.”

Liezl Aylward van die AfriForum Jeug se Tukkies-tak het gesê: “Hierdie is ’n volhoubare, onafhanklike oplossing om minderbevoorregte mense te help en op te bou. Ek is werklik geïnspireer.”
Die studente het almal saamgestem dat Filadelfia Ark ’n merkwaardige sentrum is wat ’n voorbeeld kan wees om ’n wenresep vir selfdoen op te stel. Dit bring hoop en inspireer mense om terug te ploeg in hulle gemeenskappe.

Om betrokke te raak, skakel Dirk van Vuuren by 078 140 6677 of stuur ’n epos aan dirk@roadchem.co.za